Showing posts with label Marié Heese. Show all posts
Showing posts with label Marié Heese. Show all posts

Friday, December 9, 2016

Joan Hambidge - Resensiekunde

"We live for books."
― Umberto Eco, The Name of the Rose

Jare gelede het HP van Coller voorgestel dat daar 'n kursus "resensiekunde" ingestel moet word. Hoe het daar nie stemme van verontwaardiging opgegaan oor hierdie voorstel nie. Punt is wanneer 'n mens tans resensies lees, wonder 'n mens of so 'n kursus tog nie iewers 'n impak sal hê nie.

Die belangrikste aspek van 'n resensie is dat jy 'n buikspreker moet wees vir die boek. Dit spreek vanself dat jou persoonlike byltjies en rusies nie hier uitgestal moet word nie. Of dwarsklappies soos "sogenaamde" intellektueles hoort ook nie tuis in 'n bespreking nie. Dis onnodig soos 'n uitspraak: "Intussen gaan ’n klomp mummies in die hall of fame regop sit." Goed, die resensent wil sy ekstase oor die bundel verwoord, maar maak dan 'n geniepsige opmerking. Wat die belangrike stellings wat hy oor 'n Bibi Slippers se debuut Fotostaatmasjien maak, ondermyn (Digterlike afdruk van 'n lewe verbeeld deur Charl-Pierre Naudé05 Desember 2016. Besoek 8 Desember 2016

In sy bespreking van Marié Heese se Maestro is Reinhardt Fourie minder gunstig as wat ek was in Beeld toe ek dit as 'n Bildungsroman tipeer het. Hy wys tereg hoe dit aansluit by 'n bepaalde tradisie:" In sommige opsigte sluit Heese se roman aan by Karel Schoeman se Titaan: ’n Roman oor die lewe van Michelangelo Buonarroti (2009) deurdat dit die gegewens oor die lewe van ’n bekende figuur neem en dit gebruik as ankerpunte vir historiese fiksie waarin die biografiese blinde kolle kreatief ingekleur word. Haar werk sluit ook aan by ’n baie groter literêre tradisie. Hier dink ek byvoorbeeld aan die uitstekende Cicero-trilogie deur die Britse skrywer Robert Harris (Imperium, 2007; Lustrum, 2009; en Dictator, 2015) asook Hilary Mantel se romans oor Thomas Cromwell (Wolf Hall, 2009 en Bring up the bodies, 2012). Maestro bewys weer, soos Heese se ander onlangse romans, dat sy grondige navorsing doen wanneer sy ’n historiese roman aanpak."

Hy is kennelik geïrriteer met die voorspellings oor Bernini se grootsheid en dat sy begripsvermoë onderskat word. Dit is egter die funksie van die Bildungsroman, die sogenaamde suspension of disbelief, dat jy moet saambeweeg met die ontwikkeling van die karakter in die roman wat voor jou lê.

Hy het voorts ook nie vrede met die uitbeelding van die homoseksuele priesters nie:"Aanvanklik het ek hierdie toneel nog gelees as ’n samevloeiing van enersyds die poging tot historiese akkuraatheid betreffende destydse houdings jeens seksualiteit, en andersyds die endemiese kindermolestering deur Katolieke gesagsfigure, maar die stereotiepe beeld van die vuil en perverse homoseksuele man wat ook in hierdie toneel ontplooi word – deurdat die ander priester se ontbloting van sy geslagsdele met die uitwalm van ’n “suur liggaamsreuk” gepaardgaan (97) – maak dit moeilik om so ’n lesing vol te hou."
Is dit 'n tema wat hom net as leser pla, of ignoreer hy die historiese feite? Op my beurt het ek dit nie as 'n stereotiepe beeld van die homoseksuele man gelees nie, net as 'n uitbeelding van 'n bepáálde figuur in die roman (Boekresensie/ Maestro deur Marié Heese | LitNet. Besoek 8 Desember 2016).

So die resensent as buikspreker, as iemand wat die reëls van die spel neergelê deur die teks aanvaar en die teks vir die voornemende leser of koper "oopmaak". Natuurlik mag daar kritiek wees; die kritikus behoort 'n onafhanklike posisie te beklee. Hierom behoort vriende/vyande mekaar nie te resenseer nie en moet belange verklaar word.

Die uitgewershuis, die skrywer, die voorskryfmark, die boekwinkel is almal rolspelers in hierdie komplekse proses. Die bemarking van die boek is iets waaraan die resensent nie blindelings moet deelneem nie, ofskoon 'n goeie resensie wel verkope kan beïnvloed. Ook 'n oordrewe, negatiewe en persoonlike aanval het dikwels die teenoorgestelde impak was wat die resensent in gedagte gehad het: dit sal juis leser laat nadink of dit geldig was om 'n skrywer eerder as 'n boek te resenseer!

Een van die belangrikste rolspelers is uiteraard die leser. L.I. Bertyn daardie skerpsinnige rubriekskrywer het destyds verwys na vernaamdoenery in die resensiekunde. Hy het ook 'n boek Lekkerkunde gepubliseer en het ten minste boeke gelees, anders as Crito wat onbeskaamd bely hy/sy het nie die boek gelees nie, maar dan lustig voortgaan om die resensie te kritiseer!

In 'n resensie-artikel kan geleerdheid via Lacan en Derrida uitgestal word. Die volgende stelling: "Dit is egter kritiek vir Lacan dat die psigoanalis in gedagte hou dat die geheelbeeld van haarself alleenlik in die vorm van ’n gestalt aan die subjek weergegee word, dit wil sê in ’n uiterlikheid (die spieël waarin die beeld verskyn is onteenseglik ’n objek buite die subjek)".

Dit is kritiek is 'n letterlike vertaling van "critical". Dit moet lees: belangrik. Die verwysing na die narsis word uiteraard deur Slippers se bundel verkeerd bewys: "En almal wat al in ’n verhouding met so ’n subjek probeer staan het, kan bevestig dat narsiste se verhoudings nóg gesond, nóg blywend is."

Narcisme is tans die modewoord van die tyd, soos wat psigopatie en bipolêr dit 'n tyd gelede was. En op 'n manier dryf Slippers die spot hiermee op Facebook.

Die volgende stelling met betrekking tot hierdie bundel vra nadenke: "Die gedig maak ook ’n subtiele argument daarvoor uit dat die afbeelding van die Ander in kuns ’n etiese daad par excellence kan wees."

'n Etiese daad?

Jouissance - by Lacan - dui op die onbewuste wat sowel aggressiewe, pynlike en plesierige ervarings as dieselfde ervaar. In Fotostaatmasjien is die aggressiewe liefdesverse en die belewenis van Small op dieselfde vlak dus. Die voortdurende spel met die self in hierdie bundel is 'n bevestiging van die Self; iets wat wegneem is deur die geliefde of die werklikheid. Die bemiddeling by Slippers vind deur taal, foto's en inskrywings op Facebook plaas.

In sy slot bevind hy:"In die geheel is Bibi Slippers se boodskap in Fotostaatmasjien dat ons ons reeds in daardie wonderland bevind – as ons maar bereid is om op te hou om ons blind te staar teen die beheptheid met die eie, die self, die identiese, die Ek en dieselfde; as ons maar bereid is om te waardeer dat ons in soveel opsigte fotostate van mekaar is – eenders, dog verskillend in ons veelheid. As ons maar bereid is om die raaisels in die spieël te bewonder en te vier ..."

As dit so was, sou daar geen oorspronklikheid in die kuns gewees het nie.

Jaco Barnard-Naudé

'n Interessante lesing wat Lacan oorkodeer op die bundel en wat net vir die ingeligte leser bedoel is. (LitNet Akademies-resensie-essay/ In die spieël met Bibi – Fotostaatmasjien (2016) deur Bibi Slippers. Besoek 8 Desember 2016).

Enige resensie wat tot nadenke stem, is belangrik en nie vermorste papier nie.

Daar is te min polemiek in Afrikaans, te min "oop gesprek" en te veel napratery oor resensies en nie boeke nie.

So gesien word die bedryf 'n fotostaatmasjien.

© Joan Hambidge

Monday, October 3, 2016

Marié Heese - Maestro (2016)


Marié Heese - MaestroHuman & Rousseau, 2016. ISBN 978 0 7981 7391 9

Resensent: Joan Hambidge

Marié Heese beklee binne die Suid-Afrikaanse letterkunde ‘n besondere posisie. As skrywer van Die uurwerk kantel (1976) tot historiese romans soos The Double Crown (2009), The Colour of Power (2011) en A Triple-headed Serpent (2012) waarmee sy buite die landsgrense beweeg en ‘n groter leesgehoor verower het. Met haar roman Vuurklip (2014) het sy die argeologiese roman aangepak, eweneens met sukses.

Heese is ook essayis, digter en jeug/kinderboekskrywer. Daar is ook ‘n reisverhaal met resepte: Die honger reisiger (2010).

Haar jongste roman Maestro – besonder mooi uitgegee – handel oor die vormingsjare van Gianlorenzo Bernini, die beroemde Italiaanse beeldhouer en argitek. Die roman se sub-titel aktiveer dan die Bildungsroman waarin die hoofkarakter se vormingsjare en dikwels moeilike lewe uitgebeeld word. Die leser ervaar dan die oorwinning, dikwels op spirituele of op ‘n kunstenaarsvlak. Miskien sal ander lesers dit as 'n Entwicklungsroman benader.

In ‘n nawoord (En toe?) vra die werklike outeur die vrae wat die leser vra by die lees van die historiografiese roman. Hier wys Heese met welke drif sy die geskiedenis besoek het, maar ook haar verbeelding gebruik het by die skryf van hierdie roman. Die roman bevat ‘n handige bibliografie vir die speurende leser.

Daar is vooraf ‘n dramatis personae – met ‘n asterisk waar die karakter fiktief is – om die leser te help navigeer deur hierdie komplekse, dog aangrypende roman.

Die eg-Italiaanse milieu word geskep deur die binnespraak van die verteller wat ‘n Italiaanse woord gebruik met die onmiddellike Afrikaanse vertaling ingebed in die teks – soos bozzetto (kleimodelletjie), ensomeer. Of as die leser kan aflei wat die woord beteken (fabricca), word dit net so weergegee.

Die verskillende hofies werk opsommend en is bekend aan die Bildungsroman. Daar is ‘n inhoudsopgawe wat die gang van sy lewensverhaal rig: Deel I: Onthoofde engeltjie; Deel II : ‘n Lewenslange stryd; Deel III: Die mens is soos gras; Deel IV: Meester van die wêreld.  Die Dramatis personae en En toe?-gedeelte wys op ‘n ouktoriale verteller wat in beheer is van die gegewe. Boonop is daar afdrukke van kunswerke.

Die sterk filmiese kwaliteit van die roman is opvallend. Die leser sien en ruik die omkopery, die diefstal – jy sien die kaaswiele, trosse fisante, duifeiers, en wat nog (102).

In hierdie dae van kitskos-romans, is die werk van Marié Heese en Dan Sleigh belangrike gebeurtenisse.  As jy belangstel in die sewentiende-eeuse geskiedenis behoort jy onverwyld hierdie roman te lees.

Die leser kan op enige plek die roman oopmaak en dit lees soos wat Roland Barthes aangetoon het in S/Z (1970/1974) wanneer hy vyf kodes gebruik om 'n Balzac-verhaal oop te maak. Al die kodes wat hy gebruik, is hier van toepassing: die spel tussen die referensiële kodes en die stem van die karakter. Ons vind in hierdie teks ernstige besinnings oor die kosmologie; die beeldhoukuns (en hoe dit in daardie tyd uitgevoer is); Petrarca, die liefdesdigter gebore 1304, is hier neffens godsdiens, oorlog, die liefde (en straf wanneer daar buite-egtelike verhoudings is); die Spirituele Oefeninge van sint Ignatius Loyola; die rol van die pous; die funksie van die castrato; die impak van Michelangelo ...

Innocentius X wat geswig het en Bernini ook opdragte gegee het; spanninge tussen kunstenaars, nydigheid, ensomeer. Kyk wat word oor die Dawid-beeld gesê en die fout in die komposisie.

Ook die kunstenaar as kulkunstenaar word behandel. Die impak van jeugtraumas wat hom in alle waarskynlikheid geïnspireer het om 'n kunstenaar te word, beskryf sy dwingend. Die mens wat tydelik is en tussen tertia en nona kan verdwyn, is 'n draad in die vertelling (68); nes die innerlike demone wat die kunstenaar voortdryf (463).

En die begryp van die choleriese persoonlikheid of aard (463).

Barthes se Sarrasine-lesing was van besondere nut om hierdie teks oop te maak: die oortreding van taboes (simboliese kode) en die hermeneutiese kodes (waar die 'waarheid' vertel moet word). (Die vyf kodes is: hermeneutiese kode; proaieritiese kode of empiriese stem; die Semiese kode of die stem van die persoon; die simboliese kode en die sogenaamde referensiële kode of die stem van die wetenskap).

Die kunstenaar se enorme ontwikkeling van die Barokstyl (saam met tydgenote soos die argitek Borromini en die skilder en argitek Pietro da Cortona). Maar die tyd het ook verander met die opkoms van die Neo-Klassisme. Veral die kunsgeskiedkundige Howard Hibbard  onder andere  het geweldig baie gedoen om sy bydrae opnuut onder die loep te neem. 

Hierdie roman neem die leser na soveel aspekte van kunsdebatte dat dit uiters frustrerend was om hierdie boek te resenseer, omdat 'n mens nog veel sou wou benadruk! Die veranderde rol van pouse, soms erkenning, ander kere afwysend. Die studies van James Fenton, Giovanni Caresi, Sarah McPhee, e.a. het die roman gerig.

Die toneel van 'n kind wat doodgery word deur 'n koets en die hartelose hantering hiervan is iets wat hierdie leser altyd sal bybly. Met 'n wasvrou wat die scudi ontvang  al was dit nie haar kind nie  en hartelose mans se hantering hiervan, en die jonge Bernini wat dit aanskou het en daardeur ontsteld was.

'n Mens sou meer wou skryf oor Galilei wat ook hier betrek word. 'n Egte Renaissance mens wat kon skilder, die luit bespeel het en boonop gestraf is vir sy wetenskaplike sieninge. Die pous was uiters magtig toe. Kettery en godslastering word ook hier ondersoek.

Maestro is ‘n hoogtepunt in Marié Heese se oeuvre. Sy versoen haar historiese belangstelling met ‘n besondere kreatiewe drif.  En sy lewer kommentaar op al die fasette van 'n samelewing met die skrywer wat 'n ander kunstenaar vereer.

Soos iewers geskryf word: beslis 'n okkasie vir 'n staande ovasie!

Marié Heese

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)


Thursday, September 29, 2016

Barbara/Marié en Balzac/Barthes: 'n Nota

I
Barbara Johnson se seminale essay, "The critical difference: Balzac's Sarrasine and Barthes's S/Z"  in Robert Young (red.) se Untying the text - a post-structuralist reader het in 1981 by Routledge & Kegan verskyn. Hierin lees sy die beroemde verhaal van Balzac "Sarrasine" as 'n opposisie tussen BartheS en BalZac.

Roland Barthes se S/Z het in 1970 (1974) verskyn by Hill and Wang (New York) en is vertaal deur Richard Miller. Hierin gebruik hy vyf kodes om te verhaal te lees:

Die hermeneutiese kode; proaieritiese kode of empiriese stem; die semiese kode of die stem van die persoon; die simboliese kode en die sogenaamde referensiële kode of die stem van die wetenskap.

Sarrasine (1830) is die verhaal van die castrato, Zambinella. Sarrasine is 'n beeldhouer (en student van Bouchardon) wat 'n kompetisie wen, Rome toe gaan en een aand by 'n teateropvoering Zambinella sien. Hy raak verlief op haar, maak 'n kleibeeld van sy geliefde en een aand by 'n party, probeer hy haar verlei. Dit gebeur egter nie en die verteller suggereer 'n sekere element van gevaar wanneer Zambinella hom afwys. 

Sarrasine beraam 'n plan om haar te ontvoer van 'n party by die Franse Ambassade. La Zambinella is aangetrek soos 'n man en die kardinaal, haar beskermheer, bely teenoor Sarrasine dat sy eintlik 'n castrato is. Sarrasine glo hom nie en neem haar na sy ateljee waar sy erken dat sy wél 'n castrato is. Hy is so ontsteld dat hy haar wil doodmaak, maar die kardinaal se volgelinge keer dit en maak Sarrasine dood.

Die verhaal word egter vertel vanuit 'n agterna-perspektief deur 'n verteller by 'n bal van Monsieur de Lanty, waar daar 'n onbekende man aanwesig is. Hy sit langs die verteller se gas, ene Beatrix Rochefide (die toehoorder) van die vertelling. Die verteller bely dat hy die volgende aand sal vertel wie die persoon is. Die ou man is Zambinella en die verhaal van die castrato ontstel Mme de Rochefide.

Dit is 'n raamvertelling oftewel 'n verhaal-binne-'n-verhaal. My opsomming is kursories; daar is ook ander belangrike karakters wat die storie dra, soos die beeldskone Marianina en haar broer Filippo.

Die verhaal werk met opposisies tussen manlik/vroulik; realisme/fantasie; Italië/Frankryk; verteller/toehoorder.

Barthes breek die verhaal op in lexias en gebruik die vyf genoemde kodes om die teks oop te maak. As operakenner is die castrato en dus kastrasie vir hom die sentrale punt van die teks.



II
Marié Heese se Maestro het sopas verskyn by Human & Rousseau. Dit is 'n komplekse verhaal oor die lewe van die beroemde beeldhouer Gian Lorenzo Bernini in die vorm van 'n Bildungsroman. Om hierdie roman ten volle te begryp - dit speel immers in die sewentiende eeu af - word die leser eweneens met verskillende kodes gekonfronteer.

Daar is besinnings oor die kosmologie; die beeldhoukuns (en hoe dit in daardie tyd bedryf is); Petrarca, die liefdesdigter gebore in 1304, is hier neffens godsdiens, oorlog, die liefde (en straf wanneer daar buite-egtelike verhoudings is); die Spirituele Oefeninge van sint Ignatius van Loyola; die rol van die pous; die funksie van die castrato; Galileo Galilei; die impak van Michelangelo en hoe Bernini se rol in sy tyd uitgespeel is.

Die Barokkuns is opgevolg deur die Neo-Klassisisme en Bernini word in hierdie roman herwaardeer, net soos die verteller in Sarrasine lig werp op die lot van die castrato. Heese se roman gebruik die referensiële kodes (wat die geskiedenis getrou weergee), maar sy gebruik ook fantasie om haar teks verder uit te bou.

Dit is 'n uitstekende roman wat getuig van enorme navorsing, maar dit word nooit 'n belemmering vir die speurende leser nie.

In beide tekste is die semiese kode (die stem van die verteller) van belang. By Balzac is dit die verteller wat alles "raam"; by Heese 'n ouktoriale verteller wat manipuleer, en in 'n nawoord bely waar sy verander of ingetree het.

© Joan Hambidge