Tuesday, March 12, 2013

Jostein Gaarder - Maya. (Vert. deur James Anderson) (1999)



Jostein Gaarder. Maya. (Vert. deur James Anderson). Weidenfeld & Nicolson, 1999. ISBN 1 86159 183 7.

Resensent: Joan Hambidge

Jostein Gaarder is die skrywer van die blitsverkoper en kultusroman Sophie's world (1991), 'n narrasie oor die filosofie. Dit is al op CD-roman, verfilm en ook verwerk in 'n musiekblyspel.

Gaarder se jongste heet Maya, 'n roman oor ewolusie, en af te lese uit die onlangse polemiek na aanleiding van George Claasen se rubriek oor hierdie onderwerp, bly dit 'n debat waaroor mense hewig en emosioneel verskil. Is die aarde "geskep" of het die mens na vele millennia ontwikkel uit oerdiere?

Dit is 'n roman waarin ewolusie romanmatig aangebied word (in 'n brief aan Vera) sonder om die leser te steur of irriteer. Waar Sophie's world onuitstaanbaar pretensieus was, is hierdie vertelling meer vloeiend.

Die karakters is John Spooke, 'n skrywer wat treur oor sy vrou; Frank Andersen, 'n Noorse ewolusionêre bioloog wat sy kind verloor het en wat vervreem is van sy vrou, Vera; Ana en Jose, twee Spanjaarde. Hierdie karakters ontmoet toevallig op die Fiji eiland van Taveuni.

Die roman aktiveer ook Goya se beroemde Maja-skildery en die Skoppensboer, die kaart van transformasie. Die ruimte verander van Fiji na spanje en die verhaal wat ek aanvanklik langtand begin lees het gedagtig die vorige roman se onuitstaanbaare geleerdoenery, is 'n puik stuk vertelling.

Die skrywer gebruik ewolusieteorie, reïnkarnasie, die okkulte en sinkronisiteit om die vraag te probeer beantwoord: wat maak ons op heirdie planeet? 'n Gesprek met 'n gecko en intellektuele diskoerse oor Goya en tersaaklike verwysings na die Tarot word meesterlik saamgevleg.

Die mens se pynlike wete dat hy sterflik is en die feit dat hy verliese nie kan verwerk nie, of waarskynlik moeiliker verwerk as ander spesies, word hier betrek.

Dit is bykans asof die outeur besig is met 'n poppespel en telkens die toutjies trek vir die leser wat al sy karakters sien dans. Karakters vergestalt verskillende idees oor die lewe en as Flaubert gemeen het dat die outeur afwesig moet wees in sy skepping soos God wat deur sy skepping praat, is die outeur hier in 'n nawoord sterk aanwesig.

Dit is 'n slim filosofiese roman sonder om te vervreem, omdat die idees vergestalt word in menslike karakters wat tob oor hul eie verganklikheid en dat kennis nie die dood afweer nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]