Showing posts with label Media24. Show all posts
Showing posts with label Media24. Show all posts

Saturday, December 2, 2017

Huldeblyk | Eybers 10 jaar herdenking


Elisabeth Eybers © Lia Laimböck

So klink 'n puntdig vir Eybers:

Elisabeth Eybers

Altyd in balans, in ewewig:
afgeweeg simmetries 'n gedig.

 (uit Matriks, 2015)

Nou onlangs dig ek weer oor haar:

Arachnida

'n Spinnekopnes
ágter my badkamerdeur
neem my na ons behendige digteres
se besinning oor só 'n gebalde buik.
'n Bottel Bulgari stuur 'n kalant,
segsman vir dié geslepe spul,
óndroewig na sy verdoemenis.
Wis dié swernoot die eienares
allergies, in extenso, vir gif
van harige, poterige gediertes?
Indemniseer? Begrafnishou?
Vir sodanige migrante se okkupasie
(helaas nou in absentia) wig
sy eerder 'n liederlike lykdig.

Hierdie gedig, uit my bundel Astrak waarmee ek steeds woeker, som my bemoeienis met Elisabeth Eybers op: meer spesifiek Eybers in haar bundel Balans (1962).

Eybers is vir my, soos Opperman en Van Wyk Louw, digters wat my tegnies boei. Natuurlik is daar Wilma Stockenström, Sheila Cussons, TT Cloete en Peter Blum onder andere, maar die triade, Opperman, Louw en Eybers het waarskynlik te make met my ontdekking van hul verse in die Standertonse hoërskool se biblioteek in die laat sewentigerjare. Van hierdie verse het ek van buite geken.

Daar is baie belangrike temas in Eybers se digkuns. Moederskap, ontheemding, afskeid (en vertrek), van lewe tússen twee kontinente, liefdesverbintenisse, die afsterwe van geliefdes, liefdesverse, die vriendskap met Olga Kirsch, 'n ander "bannelingdigter",  die "vroulike aanvulling tot dertig", ensomeer. Die eiesoortige taal (oftewel tussentaal soos Ena Jansen dit benoem het) is kenmerkend net soos die ironiese wendings (ons dink hier aan "Wespark") en nou onlangs in 'n genderkursus kon ek ryklik put uit haar oeuvre om genderkonstruksies uit te wys en die ambivalensies wat in haar gedigte huiwer. Niks is ooit finaal nie; alles is 'n en-en-posisie. Of dalk of-en? Kruis of munt (1973) heet 'n uitstaande bundel.

Vir my as digter is sy die meester, of moet ek eerder skryf, meesteres, van die distigon en sonnet. Haar bemoeienis met die "edel spel" van die digterskap, is opvallend.

'n Digter se grootheid word nie alleen bepaal deur haar plek in die kanon nie, maar ook op die aantal reaksies op haar werk. 'n Mens dink hier aan die merkwaardige ooreenkoms tussen Eybers en Emily Dickinson soos uitgewys deur Lina Spies in die studie Die enkel taak: Die merkwaardige verwantskap tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson wat in 1995 verskyn het. Verskeie literatore het al haar lof besing: die reeds genoemde Jansen in haar doktorale studie van 1992: Afstand en verbintenis. Daniel Hugo sonder haar uit as 'n belangrike digter.

Ek het Eybers tweekeer in my lewe ontmoet in Amsterdam. 'n Briljante vrou met 'n belangrike kennis van presies wát sy goed of sleg vind in ons letterkunde.

By meer as een geleentheid is daar palinodes op haar verse. My bundel Vuurwiel (2009) begin met 'n boodskap aan Eybers.

In 'n parodiese antwoord "Digteres as huisvrou" besing hierdie digter haar lof.

Digteres as huisvrou

Vir Elisabeth Eybers

Altyd ‘n Mr Delivery-boks teen die muur,
nooit ‘n besoeker op die onvanpaste uur.

Agendavolle dae waardeer sy gatvol,
moerig van vergadering na vergadering tol.

Wasgoed wat deur haar Bosch-masjien swaai,
sewe stelle klere plus gymbroeke aan die draai.

Eksamenskrifte, e-posse, verslae op haar lessenaar
(‘n Toring van Babel), neffens kritieke wat stof vergaar.

Tussendeur skryf sy stiekem gedigte wyl sy werk,
haastig beweeg van dead-line tot dit wat haar binneste versterk.

O muses, wees haar genadig:
laat haar maar parodies dig!

In my bundel Matriks (2015) word daar opnuut met haar gepraat via die aangrypende skildery van Marlene Dumas:

Elisabeth Eybers

Marlene Dumas 

Ek staan nie voor jou portret nie,
nee, dit afgetrek van ‘n webwerf
http://www.arttoday.be/dumas3-2.html
waar elke uiting, gedagte, kliek
opgevang en bewaar word:
selfs gedigte, moet jy weet,
word tans blitsig elektronies versend.
Anders as ‘n brief van jou aan my,
met ongebruikte posseëls
- vir hergebruik, maan jy ironies - 
in die koevert toegevou
teen ‘n slakkepas 
uit ‘n verre Amsterdam.
Nes die skilder wat langsaam
jou portretteer, beskilder en uitstal.
Hierdie is nie ‘n brief nie,
dis ‘n opname van ‘n kyker
wat ‘n gesprek tussen
 ‘n skilder en digter
opteken en verdraai. 
“Stil en helder en apart”
kon jy, predikantsdogter
uit die dorre Wes-Transvaal, 
jouself in woordportrette plaas.
Hoe raam ‘n mens tog ‘n vers?
Was die digkuns werklik
‘n onderdak of ‘n blote tussensang?
Hoe voel jy neffens Naomi Campbell
of Amy Winehouse? 
In my troebel halfjaar
is dit jou oë
stip, agtervolgend
wat iets verraai:
voetjie-vir-voetjie
word mens woordimmigrant,
bekyk jy die lewe
vanuit ‘n sobere afstand,
is dit kruis of munt,
immer immer ter wille
van die ander dors 
se hartritmiek.

Is daar gunsteling gedigte van Eybers? Uiteraard te veel om op te noem, maar beslis: "Wes-Transvaal", "Herinnering", "Emily Dickinson", "Amasone", "Huiskat", "Röntgenfoto", "Oorsig", "Taalles", "Twee kleuters in die Vondelpark", "Ode aan kontroleur de Laar", "Mammektomie", "Woordeloos".

So lui 'n paar:

Navrae

Die aard van angs is dat dit tydelik kwel.
Verdriet, volgens 'n ou ballade, duur
twaalf maande en 'n dag, tot op die uur.
Die ritueel van rou is vasgestel.

Vreemd, van berou word nie so veel vertel.
Waar vind 'n mens 'n betroubare gedig
om jou oor die vervaldatum in te lig
van daardie individueler hel?

(Balans, 1962)

 Vir Bert

Noudat jy swyg is daar niks meer
vir my om ooit nog te begeer
buiten die tydstip waarop ek
dieselfde stilte mag bereik.

In die Engelse weergawe klink dit so:

Now that you’re mute there’s nothing more
that I could still be hankering for
except the freedom to abstain,
like you, from uttering words again.

(Valreep / Stirrup-cup, 2005)

Die gebruik van twee tale illustreer hoe behendig sy dig. Die twee gedigte, wat naas mekaar geplaas word, kry so gelees nuwe betekenisse, word herlaai met implikasies. Dus ‘n soort intratekstualiteit waarin die leser bewus bly van die feit dat ‘n geslaagde gedig uiteindelik te make het die digterlike vermoë om deur woorde iets raak te vat. Nie in enige woorde nie, maar in woorde wat daardie onderwerp skerp en finaal kan beskryf. Eybers het ‘n reeks gedigte geskryf waarin sy bewys gelewer het van hierdie uitsonderlike talent om ‘n netjies afgewerkte gedig te skryf waarin geen woord of beeld uit plek is nie. Ook haar Engelse gedigte is knap vertalings soos ons sien in die volgende gedig:

Pyn

Pyn, met grimasse, met dierlike klanke,
Kan sterker dan wat ook jou wese versteur
En tog is jou egtheid juis daaraan te danke
En word pyn byna nooit uitermate betreur.

Pain

Although pain with wry faces, with animal sounds,
Is irrefutable apt to reveal
Some derangement, regret for it stays within bounds:
There is nothing like pain to confirm that you’re real.

Oor haar bundel Valreep het ek soos volg geskryf in 'n blog (Woorde Wat Weeg/ Eybers 100. Besoek 30 November 2017):
Hier het ons vintage Eybers: ironie, keurige woordgebruik, vormbeheer en lewenswysheid. Sy bly ‘n grande dame van ons digkuns en om op negentig wat nog so te kan dig, is met een woord verstommend. Sy skryf ‘n vers wat gepuur, dus suiwer is. Dit is gedigte wat met bykanse distansie aangebied word, maar juis hierom tref die pyn of ‘n gevoel die leser met groter skerpheid.
In 'n brief aan my na die verskyning van Ewebeeld (1997) skryf sy: "Dit beloof baie vermaak en genot ondanks die versengende emosie."

En dit is wat 'n mens veral by haar leer: die digkuns as noodluik, maar waar emosie teruggehou moet word ...

Daar is maar een Eybers, en na Eybers keer mens telkens terug. Die neerslag van haar buitengewone talent sal altyd imponeer en inspireer.

© Joan Hambidge

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Media24)


Thursday, January 24, 2013

Elias P. Nel - Bek sonner brieke (2010)



Elias P. Nel. Bek sonner brieke. Protea Boekehuis, 2010. ISBN 978 1 86919 460 4.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Goeie rubriekskrywer is soos goeie port. Jy proe-proe daaraan. Rubrieke verskyn dikwels in dag- of weekblaaie met ‘n rakleeftyd. Hierna bundel die skrywer dit onder ‘n titel. Die meeste is egter tydsgebonde en dikwels skryf rubriekskrywers net te lank sodat die fut sommer gou uit is. ‘n Mens kom die resep of patroon agter en dan werk dit nie meer nie. ‘n Goeie rubriekskrywer is ‘n stilis, ‘n kenner op sy gebied (soos Melvyn Minnaar oor wyn) of ‘n lewensgenieter of satirikus (Chris du Plessis). ‘n Rubriekskrywer het ‘n bepaalde gehoor (en aanhang) en word dikwels in sy of haar tyd ‘n mini-legende (soos Madeleine van Biljon of L.I. Bertyn). ‘n Goeie rubriek is soos ‘n essay: elke woord afgemeet met ‘n idee of lewenswaarheid wat lank na die lees nog in die gemoed draal. Hier is Wilhelm Jordaan die meester. ‘n Goeie rubriekskrywer skryf oor motors sodat die motor ‘n persoonlikheid kry en ‘n reisskrywer transporteer jou na daardie vreemde, eksotiese plek. En kosskrywers moet jou onmiddellik ‘n dis laat próé.

Boonop moet ‘n rubriekskrywer betyds besef dis tjailatyd en ‘n redakteur moet weet wanneer die bottel port begin leeg raak. Fynproewers kan onderskei tussen goeie en swak port.

Die rubrieke in Bek sonner brieke van Elias P. Nel het oorspronklik in Taalgenoot verskyn en word op die agterblad geloof deur Frank Hendricks en Abraham H. de Vries. Oom Goltros word vergelyk met oom Schalk Lourens en Toon Prens. Allersoetste omgangsafrikaans word hier gebruik en die boek is vir die fynproewer. Binne verskyn postmodernistiese prentjies.

Die verhale is eerlik-komieklik in praat-Afrikaans geskryf en wat waarskynlik veral sal bekoor as as dit voorgedra of voorgelees word.

Wyshede is daar soos die ou tante wat gaan kla het oor die ouderling se onwelvoeglike voorstel: “Die broer hette onpraatlike praat met my gepraat”.

Ek is duidelik nie die teikenleser hier nie.

Dit mag egter in ander se smaak val en veral taalkundiges, meen ek, sal oneindige plesier hê aan die taalverskynsels soos innie, hierie, baisekel, tjeeners, allie, oppe, assit, pambeer, eniklik, bawwetjies, ensomeer.

Die vertellinge werk telkens met ‘n luisteraar wat dan uiteindelik gefnuik word.
Gun elke diertjie sy soort drienkie. Oom Goltros (Goliat Tross) is die verteller wat jou sommer met die hele vark gooi. Prettig die misverstande rondom woorde. Lekker Hanepoot het ons hier vir die “werrie symste leser” uit die “gorra”. Die skrywer is ‘n boorling uit Verneukpan.

[Hierdie resensie het vantevore in Media24 verskyn.]

Doc Immelman - Ruacana tot Rosh Pinah (2010)



Doc Immelman. Ruacana tot Rosh Pinah. Protea  Boekehuis, 2010.  ISBN 978 1 86919 436 9.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Konsertinahek is ‘n smoelslaner. Aan die woord is Doc Immelman (wat al veertig boeke gepubliseer het) en hier in sy rubrieke gesels oor die ou Suidwes, kampvure, jag, rooi duine…

F.A. Venter was indertyd redakteur van Die Suidwes-Afrikaner en later Frans van Zyl, redakteur van Die Suidwester, het Immelman as rubriekskrywer aangestel. Die foto’s op die voorblad en agterste binneflap vertel van ‘n lang lewe.

Die boek bevat ‘n handige lys met woordverklarings. Die rubrieke is leersaam, onder andere oor Cuca-bier wat kinien bevat (33) en nostalgies. ‘n Spanning tussen toe en nou is dikwels hier aanwesig. Name word verander (om skuldiges te beskerm); dus is hier ook sprake van fiksionalisering. Elke rubriekskrywer weet immers dat jy moet aanlas en bylieg om die rubriek te laat werk. ‘n Oop slot vind ons byvoorbeeld in “Die geheim van die swart sak” waar die leser en verteller bly wonder oor wat toé gebeur het. 

Sy bydrae  “’n Rubriek oor rubrieke” analiseer die lot van die rubriekskrywer baie skerpsinnig. Daar sal altyd iemand iewers wees wat jou beskuldig van iets onaangenaams, ‘n les wat die skrywer by W.A. de Klerk geleer het.  Onthou jy nog die uitdrukking “ek was jonk en vol asyn”?

Daar is ‘n huldeblyk aan Langenhoven en ‘n leersame stuk oor mahangu. Sy beskrywing van Windhoek vyf-en-dertig jaar gelede is onthoubaar. Die boek vertel ook van Angola en daar is ook ‘n naba-resep in!

Kwinkslae is daar en ‘n liefde vir landkaarte. (Geweet as jy ‘n plaas se naam verander, roep jy ‘n vloek oor die grond uit?)

Soos daar inderdaad bely word: jy kan die nostalgie afkrap met ‘n mes. As jy die woorde ken van die Suidwes-lied, praat van ‘n Stammtisch of weet wat ‘n agarob is, moet jy beslis die boek aanskaf.

[Hierdie resensie het vantevore in Media24 verskyn.]