Showing posts with label 2014. Show all posts
Showing posts with label 2014. Show all posts

Friday, April 24, 2015

Gabriël J. Botma - Brothers in Armchairs (2015)


Gabriël J. Botma - Brothers in Armchairs. Sun Press, 2014. ISBN 978-1-920689-52-0

Resensent: Joan Hambidge

Gabriël Botma se boek is gegrond op sy doktorale proefskrif, maar word toeganklik aangebied vir sy lesers oor die kulturele stryde en skermutselinge by Die Burger waar hy as joernalis en kunsredakteur werksaam was. Sy boek is nie net ’n ontleding van een koerant se werksaamhede nie, maar ’n belangrike analise van die transformasie van die Afrikaanse dagblad en hoe joernaliste hulle moes verweer teen politieke eise.

As skrywer en resensent kan ek hierdie “underbelly” wat Botma vir ons opteken, beaam. Byvoorbeeld in die insigryke hoofstuk “The Ghost of W.E.G. Louw” bly die aanwesigheid van hierdie kunsredakteur ’n standaard waarna gestreef is etlike jare ná sy vertrek.

Botma bekyk die oorgang van een stelsel na ’n ander: die ou Suid-Afrika na die nuwe Suid-Afrika. Van apartheid na demokrasie; van sterk beheer tot groter deursigtigheid.

’n Mens lees hierdie boek soms met nostalgie en soms met verbystering. Jy onthou die werk van deurwinterde kunsredakteurs soos wyle Wilhelm Grütter en ’n man soos Johann Botha wat nie sou skroom om ’n resensie met vrae terug te stuur as hy van mening was dat jy “polities-korrek” wou wees nie. Jy onthou hoe nuanses verlore gegaan het met die Watervalberaad in 1989 en hoe André le Roux hom gedistansieer het van die ANC se boikot en hoe hy, volgens Botma, steeds ’n prys betaal vir hierdie ongewilde standpunt.

Die boek lees soos ’n roman. Daar is hofies wat jou letterlik van een stryd na die ander neem: van ’n joernalis wat gestriem word oor die Afrikaner se “kollektiewe skuld” tot die vraag in welke mate die kunsredaksie politieke kwessies aansny. Uiteraard gaan ’n teks die politiek van die dag aanspreek en hier is Antjie Krog, ’n gerekende skrywer, dan ook ’n persoon wat telkens ter sprake kom oor háár standpunte.

Die toeganklikheid beteken egter nie dat die skrywer nie kennis neem van belangrike teoretici en politici binne sy veld nie. Hy verwys na Edward Said en Albie Sachs. Hy betrek Habermas by implikasie. Hy noem redakteurs by name en daar is onderhoude gevoer met medewerkers wat op húl beurt persoonlike standpunte weergee. Hegemonie versus anti-hegemonie.

Dit is ’n boek wat in ons dae van ’n nuwe kulturele verset en opstand, soos die Rhodes-standbeeld se posisie aan die Universiteit van Kaapstad, ’n belangrike bydrae maak. Hy skryf oor die eis van die PAC indertyd om Jan van Riebeeck se standbeeld in die see te gooi (bl. 64). “Die plek en spelers sal voortdurend wissel / maar die spel word telkens in die tyd herhaal”, om Opperman aan te haal.

Hierdie studie is sober en boeiend. Dit is ’n tydsdokument wat in die aanslag nie nostalgies is nie, maar die leser soms laat verlang na ander dae wat duidelik nooit enkelvoudig was nie.

Vrees word aan die kaak gestel. Die spanning tussen Eurosentries en Afrosentries lyk vandag vreemd (bl. 75).

Die diskoers van krisis word ontleed in hierdie troebel tye en omdat Botma van vraelyste gebruik gemaak het, kan hy ’n respondent aanhaal én die tydvak kontekstualiseer.

Daar is vele tye wat ’n mens in die kantlyn ’n opmerking byskryf. Byvoorbeeld wys Botma tereg daarop hoé joernaliste by die kunsredaksie telkemale moes standpunt inneem teen politieke verwikkelinge omdat daar gevoel is “die kunste funksioneer apart van die politiek”. Hy wys ook op dapper joernaliste wat gevaarlike inligting “ingesmokkel” het en hoe die grootste gevaar van so ’n oorgangsperiode vrees is en hoe joernaliste onbewustelik selfsensuur begin toepas het.

Die belangrikheid van Afrikaans word eweneens aangespreek (bl. 127) en ook die standaard van die kunsredaksie. Gender-kwessies kom te berde (Anneke Keyter as die eerste vroulike redakteur, en lank daarna, Laetitia Pople), nes die impak van die postmodernisme met die afbreuk van die grense tussen hoë en lae kultuur. Belangrike tekste soos W.D. Beukes en J.C. Steyn se gesaghebbende Boekewêreld: Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990 vorm deel van die bronnelys. Die boek is in Engels geskryf, waarskynlik om aan te sluit by ’n wêreldwye debat oor die rol van die kunsjoernalis en die hibridiese rol van hierdie persoon wat dikwels op soveel stoele tegelykertyd moet sit.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Die Burger)

Wednesday, February 4, 2015

Cas Vos - Fragmente uit die Ilias (2014)


Cas Vos - Fragmente uit die Ilias. Protea Boekhuis, 2014. ISBN-13: 978-1-4853-0181-3
Resensent: Joan Hambidge

Die Ilias vertel die verhaal van Agamemnon, wat wraak sweer wanneer Helena (die vrou van Menelaus), deur Paris, ’n prins van Troje, ontvoer word.

Dit het ’n slopende Trojaanse oorlog tot gevolg wat tien jaar lank duur en verskeie vertalers het al hul hand aan hierdie klassieke teks gewaag, wat geweldige eise aan die digter se vormbeheer én taalgevoeligheid stel. Die Odusseia begin tien jaar ná die val van Troje.

Dit is soos die verskillende vertalings van Dante se Heilige Komedie, wat vele herdigtings en toespelings beleef het en vertalings soos deur die voormalige poet laureate van die VSA, Robert Pinsky. In Afrikaans is daar gesprekke met Dante in die diguns van T.T. Cloete en selfs ’n vertaling van Delamaine du Toit.

Cas Vos se vertalings word gepubliseer met die herdenking van die Eerste Wêreldoorlog.

Op die Versindaba se webruimte het die literator Marlies Taljard – wat hierdie teks as ’n meesterstuk beskryf – gewys op die hantering van die epitet. Hierdie teks, soos elke vertaling uit ’n klassieke taal, vra egter of die teks genoegsaam getransporteer is van die Grieks na Afrikaans. Soos wat die Ilias die stryd beskryf van Agamemnon om die skone Helena te bevry van Paris, is digters in ’n soortgelyke metaforiese stryd gewikkel in so ’n allemagtige vertaling of herdigting.

Dit is opvallend dat daar tans, meer as ooit tevore, geweldig baie vertalings binne die Afrikaanse letterkunde verskyn. Selfs in verseboeke word vertalings tans opgeneem as digterlike eiegoed. Uys Krige, H.P. van Coller, Johann de Lange, Daniel Hugo en H.J. Pieterse is digters wat Afrikaans verruim het met uitstekende vertalings.

In Boek XX lees ons:

“Hoor net hoe jaag die blitse rond,
die gode span saam vir die oorlog.
Uit woede gaan hulle mense wond,
en dit alles weens blinde hartstog” (126).

Hierdie bundel bevat ’n grondige inleiding ter agtergrond. Die naamverklaring is eweneens nuttig.

Die belang van só ’n vertaling is dat dit ’n mens na die ryk skat van die digkuns neem waarin die Ilias op briljante wyses vernuut is. Vir my is die mees uitstaande voorbeelde Omerus van Derek Walcott en die digkuns van Anne Carson, digter en klassikus.

Daar bestaan dubbelloop-vertalings (met voetnote) en vrye vertalings van klassieke tekste. In laasgenoemde geval kry die sterk digter se stem die oorhand. En al hierdie gesprekke tussen digters wat dieselfde oorlogsveld besoek het, bly ’n fassinerende een: Yeats, Lorca, Neruda, Ted Hughes . . .

Soos Vos tereg uitwys, is daar gevalle waar die persoonlike ervaring oor hierdie teks getransponeer word (Yeats wat sy Maud Gonne gelykstel aan die skone Helena van Troje).

“Elke tyd het sy Trojaanse oorlog” (28), word ’n ander digter tereg aangehaal . . .


Die digter gee erkenning aan die letterlike vertaling van die Stellenbosse klassikus J. P. J. van Rensburg wat in 1952 verskyn het. Hy verwys die leser ook na al die geraadpleegde brontekste wat vir die snuffelaar van onskatbare waarde is.


* Op die flapteks staan daar dat Vos in 2012 met die SALA-prys bekroon is. Dit het egter in daardie jaar aan Johann Lodewyk Marais gegaan.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Rapport)

Monday, January 26, 2015

Johann Lodewyk Marais – Nomade (2014)


Johann Lodewyk Marais – Nomade. Cordis Trust publikasies, 2014. ISBN 978 0 9870397 8 1
Resensent: Joan Hambidge

Johann Lodewyk Marais verken in sy negende bundel Nomade die landskap van Afrika. Dit lees soos ‘n reisverslag of aantekeningboek van ‘n digter wat deur Afrika reis en plekke aandoen soos Nairobi, Lamu, Kaïro, Timboektoe, ensomeer. Die reisende digter het ‘n dubbelblik: elke ervaring word afgespeel of teruggekaats teen die bekende land van herkoms. Maar sonder hierdie bekende leefwêreld kan die nuwe nie ervaar of deurgrond word nie. ‘n Mens dink hier aan Bernardo Bertolucci se sublieme rolprent The sheltering sky – gebaseer op ‘n verhaal van Paul Bowles – en die verskil tussen reisiger en toeris; en, uiteraard, hoe die nuwe belewenisse die reisiger se lewe verander.

Marais sou ‘n mens kon beskryf as ‘n digter van temas en eenheidsbundels. Sy vorige bundel het gehandel oor die see (In die bloute, 2012) en die digter werk nou aan ‘n bundel oor insekte. Nomade bevat sketse van Lynette ten Krooden wat ‘n spel tussen lynskets en gedig tot gevolg het.

Die reisgedig veronderstel ‘n nomaad, ‘n waarnemer en die gedig word ‘n soort kartografie van die digter se belewenisse. Die digter verduidelik aan ons in “Oorlees” (90) dat hierdie geslote boek sy lewe is. Hoe vérder die digter reis en nuwe belewenisse opteken, des te meer word hy gekonfronteer met die self en beperkinge. In die ryk vers “‘n Lewe” (91) sien die leser dat die jong kind alreeds ‘n skerp waarnemer was. In hierdie gedig met sy Pablo Neruda-aanslag is daar ‘n terugkeer na sy jeug om hieruit te beweeg na nuwe trekroetes.

‘n Mens sou ook hierdie bundel kan lees teen die agtergrond van ander bundels en gesprekke tussen gedigte uitwys in sy digterlike diaroma.

Daar is ‘n handvol sterk verse in die bundel. Soms mindere lynskets-vers, optekeninge, kladboeknotas – soos te verwagte van die reisende digter. Op sy sterkste is daar verse soos “Sonnewende”, “n Lewe”, “Dhow-wedvaart”, “Timboektoe”, “Heilige skrif”, “Nelson Mandela”, “Ibn Battuta”, “Arabierperd”, verse waarin die spanning tussen vorm en inhoud volgehou word en die gedig met elke lees iets nuuts ontsluit.

Die astrolabe is ‘n belangrike kode in hierdie bundel. Die gebruik van minder bekende Arabiese of Afrika-woorde verleen iets eksoties aan die bundel. Daar is ‘n voortdurende spel tussen die ou koloniale wêreld en die nuwe wat steeds vol geheime en vreemde tradisies en gebruike bestaan. En hieruit word die gedig geskep: tussen wat was en wat nooit kan wees nie.

Daar is ook politieke kommentaar in die bundel soos onder andere in die kort vers oor Kaïro en in ‘n gedig oor FW de Klerk word die “wye en droewe land” betrek. Afrika in al sy kompleksiteite – misterieus, religieus, rewolusionêr, polities-onrustig, driftig – kom aan bod. Die “politieke onbewuste” rig vele verse; ons bly bewus van skeepskanonne, vlae, bloed en mense wat vir ‘n stryd gestry het.  Daar is gidse en die digter self is ‘n sterk waarnemer:

Heilige skrif
                      
Die vrou wat onder die tamarinde
die Koran sit en lees, keer my vierspoor
wanneer ek buk en met my wysvinger
aan die mooi karakters voor haar wil raak.
Sy gru en hou haar hande beskermend
oor die letters wat vir haar heilig is.
“Elke ayat is wonders en tekens
en het net so uit die hemel gekom,”
sê sy en prewel Mohammed se gebod.
Deur die boomtakke en -blare teken
die son die arabeskpatrone na.
(56)

Van die verse het al op die Versindaba se webruimte verskyn en dit is opvallend hoe verse verander en verbeter is: van reisindruk tot gedig wat met sy “vuurtonge na die hemel reik”.

Hierdie gedigte het die 'le bapteme de solitude'; veral in die verse oor die Sahara en die savannes. En soos Paul Bowles waarsku: nadat ‘n mens die Sahara ervaar het, is jy nooit weer dieselfde nie ...

Hierdie bundel is gepubliseer met die hulp van die Cordis Trust en word opgedra aan ons ander uitstaande digter, Johann de Lange.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld)



Tuesday, December 30, 2014

My drie poësie-hoogtepunte vir 2014


Op versoek van Rapport het ek my 3 digkuns-hoogtepunte vir 2014 gekies:

​Antjie Krog: Mede-wete (Human & Rousseau)

Ongetwyfeld is Krog ’n hoogtepunt. Sy dig oor sowel die persoonlike as die politieke dimensie, en die volgehoue spel met Paul Celan en die ontginning van taal is verbluffend.

Krog in al haar kompleksiteit is hier aanwesig: woedend en teer; in praatvers en met sterk vormbeheer. Sy skryf in teen stilgemaakte swart stemme en aanwesige, gekanoniseerde digters. Dit is ’n vreeslose bundel, ’n bestekopname van ons land en ouer word. Die gesprek met sowel die moeder as vader is hier aanwesig. Dit open met ’n lykdig oor die vader, en die besit – die plaas gemetaforiseer as die werf – word ook onder die loep geneem. Daar is hartgrypende verse oor kleinkinders opgeneem.



Hierdie digter het ’n groot register.
Johann Lodewyk Marais: Nomade (Cordis Trust)

Hierdie reisboek karteer hoofsaaklik Afrika-reise. Afrika in al sy kompleksiteite – armoede, oorlog, misterie, verskillende godsdienste – kom aan bod. Die “politieke onbewuste” rig vele verse. Die landskap word beskryf, maar telkens afgekaats teen die waarnemer en die gebruik van vreemde Afrika- en Arabiese woorde gee iets eksoties aan hierdie bundel. Daar is kragtige verse soos die een oor Mandela.

Hierdie bundel is ’n diorama en die leser kan telkens ’n gesprek sien tussen ander verse in die digter se oeuvre.




Marlise Joubert (samesteller): In a Burning Sea (Protea Boekhuis)

Hierdie vertaalprojek gee lesers, sowel plaaslik as in die buiteland, ’n blik op die veelvoud van die Afrikaanse digkuns.

Telkens word die vertaling langs die oorspronklike teks geplaas en die vertalings van onder andere Johann de Lange, Charl J.F. Cilliers en Tony & Gisela Ulyatt laat die verse reis na nuwe bestemmings. ’n Mens sien hoe verse nuwe betekenisse aanstig.

Deesdae is vertaalprojekte en gesprekke oor vertaling hoogmode, waarskynlik omdat die wêreld finaal ’n global village geword het. Soos met enige antologie sou ’n mens ander verse wou sien of meer van ’n bepaalde digter, maar ’n mens moet Marlise Joubert loof vir haar harde werk om al die Afrikaanse digters in een boot te kry “in a burning sea”.

Wednesday, December 24, 2014

Chris Karsten - Die respektabele meneer Hartslief (2014)


Chris Karsten - Die respektabele meneer Hartslief. Human & Rousseau, 2014. ISBN: 9780798167840.

Resensie: Joan Hambidge

I

So word Chris Karsten se jongste roman opgesom:

Wanneer ’n nagklubbaas die katelknaap van sy minnares laat vermoor deur ’n huurmoordenaar, loop hy hom vas in die vermoorde se familie, die Hartslief-clan. Elie Hartslief is die brein; Antie Engel die hart; neef Boela die spiere; en die verfynde Moks die bek. Elie is deesdae amper respektabel en mnr. Morkel van Morkel Wealth se regterhand, maar sy broer se moord noodsaak dat die Hartsliefs laer trek. Maar hulle teenstanders is die Bogdan Petrescu en sy huurmoordenaar Lood – ’n man met ’n aanleg om mense op kreatiewe maniere dood te maak.

Hierdie roman het 'n besondere positiewe ontvangs beleef. Veral die skrywer se besondere taalvermoë is uitgesonder. Vir my is die mees uitstaande asapek van hierdie roman die nougesette navorsing: oor die saks (en die geskiedenis van die instrument); cuisine (96); klere (o.a. pasjmina vesels, 169) kuberboelies en forensiese oudits.

Die impak van moderne tegnologie en hoe foto's iemand se privaatheid binnedring, word uitstekend beskryf. Die skrywer verwys ook die leser na Nina Burleigh se artikel "Sexting, Shame and Suicide: A shocking tale of sexual assault in the Digital Age" wat 26 September 2013 in Rolling Stone verskyn het.

Ook die familiestruktuur word insigryk beskryf (soos op bladsy 70).

Nou onlangs kyk ek weer na Charlie Chaplin se City lights en in die nawoord oor hoe die film gemaak is, merk iemand op: Chaplin was die poppemeester van die pop, Charlie Chaplin.

By die lees van hierdie komplekse misdaadroman, Die respektabele meneer Hartslief, is die leser bewus van Karsten se enorme kennis en insig in die gemoedslewe van 'n psigopaat, naamlik die huurmoordenaar, Lood wat Bogdan Petrescu se bevele uitvoer. Op 'n besondere wyse word Elie Hartslief se forensiese ondersoek na bedrog en geldwassery onthul.

As liefhebber van speurverhale vind ek tog die volgende steurend. Speurder Kosile haal uit Sherlock Holmes aan? En die slot waar Elie, Lood en die Boef mekaar ontmoet, vra ongelooflike verbeeldingspronge van die leser. Soos die korrekte, suiwer Afrikaans wat booswig én weldoener besig. Deborah Steinmair se resensie ('n Bietjie tiemie by jou derms? Besoek 24 Desember 2014) het my aan die dink gesit.

Ons moet hierdie roman dalk as 'n parodie benader. Parodie nie in die sin van send-up of grap nie, maar as teks wat al die kenmerke en stylfigure van die misdaadroman wil uitlig op 'n self-bewuste manier. Die Hartslief-clan van Brixton versus die King of Sleaze. Nou is ons by Francis Ford Coppola se voortreflike Godfather-films (en ja, die films is beter as die roman van Mario Puzo) waar die rol van die familie, die Rooms Katolieke Kerk in opposisie geplaas word met geldgierigheid en boosheid. Al Pacino as Michael Corleone moet uiteindelik die hoogste prys betaal vir sý optrede wanneer sy dogter sterf as die offer vir sy oortredings. (The Godfather (1972) - Michael Corleone | Al Pacino Movies.  Besoek 24 Desember 2014)

Elie was eens 'n flentergat en as slim jong man raak hy betrokke by sy baas se dogter. Hy moet die orde herstel ná die dood van sy broer - wat koploos gelaat word - en die selfmoord van sy suster.

Karsten is 'n bedrewe skrywer en die slot meen ek dui daarop dat daar nie closure is nie, maar eerder 'n opvolg.

In hierdie roman skryf Karsten 'n teks wat die struktuur van die misdaadroman blootlê en lewer hy kommentaar op ons huidige geslag lesers se obsessie met speur- en misdaadverhale. Reeds die titel wat verwys na Meneer Hartslief is tong-in-die-kies. En die naamgewing is so reg in die kraal van Vladimir Propp se Morphology of the folktale (1928 / 1958) waar elke naam al beskrywend is: Antie Engel, kok, Moks, Lood (die huurmoordenaar) ...

'n Tatoeërmerk Dot?

'n Verwysing na Dracula?

In die wyse woorde van Umberto Eco:
"I think of the postmodern attitude as that of a man who loves a very cultivated woman and knows that he cannot say to her "I love you madly", because he knows that she knows (and that she knows he knows) that these words have already been written by Barbara Cartland. Still there is a solution. He can say "As Barbara Cartland would put it, I love you madly". At this point, having avoided false innocence, having said clearly it is no longer possible to talk innocently, he will nevertheless say what he wanted to say to the woman: that he loves her in an age of lost innocence." (Umberto Eco Quotes. Besoek 24 Desember 2014)
Om Deon Meyer te troef, moet 'n misdaad/speurskrywer die kodes op sy hart se mou dra.

Ns.


Die volgende twee resensies deur Cas van Rensburg (Meneer Karsten se stemmige afgryseen Deborah Steinmair ('n Bietjie tiemie by jou derms?) open eweneens interessante perspektiewe op die roman.

Monday, December 15, 2014

Bernardo Bertolucci

Bernardo Bertolucci
I

The sheltering sky (1990) met John Malkovich en Debra Winger in die hoofrolle is waarskynlik een van die mees sublieme films nog. In hierdie Bertolucci-rolprent word die spel tussen 'n verhaal van Paul Bowles en die filmteks besonder knap verbeeld.

Paul Bowles

Wat veral tref by elke herbesoek aan hierdie film is in welke mate Bertolucci le baptême de la solitude oordra. So Paul Bowles stel dit as volg:

“Immediately when you arrive in Sahara, for the first or the tenth time, you notice the stillness. An incredible, absolute silence prevails outside the towns; and within, even in busy places like the markets, there is a hushed quality in the air, as if the quiet were a conscious force which, resenting the intrusion of sound, minimizes and disperses sound straightaway. Then there is the sky, compared to which all other skies seem fainthearted efforts. Solid and luminous, it is always the focal point of the landscape. At sunset, the precise, curved shadow of the earth rises into it swiftly from the horizon, cutting into light section and dark section. When all daylight is gone, and the space is thick with stars, it is still of an intense and burning blue, darkest directly overhead and paling toward the earth, so that the night never really goes dark.
You leave the gate of the fort or town behind, pass the camels lying outside, go up into the dunes, or out onto the hard, stony plain and stand awhile alone. Presently, you will either shiver and hurry back inside the walls, or you will go on standing there and let something very peculiar happen to you, something that everyone who lives there has undergone and which the French call 'le bapteme de solitude.' It is a unique sensation, and it has nothing to do with loneliness, for loneliness presupposes memory. Here in this wholly mineral landscape lighted by stars like flares, even memory disappears...A strange, and by no means pleasant, process of reintergration begins inside you, and you have the choice of fighting against it, and insisting on remaining the person you have always been, or letting it take its course. For no one who has stayed in the Sahara for a while is quite the same as when he came.
...Perhaps the logical question to ask at this point is: Why go? The answer is that when a man has been there and undergone the baptism of solitude he can't help himself. Once he has been under the spell of the vast luminous, silent country, no other place is quite strong enough for him, no other surroundings can provide the supremely satisfying sensation of existing in the midst of something that is absolute. He will go back, whatever the cost in time or money, for the absolute has no price.”
Paul Bowles, Their Heads are Green and Their Hands are Blue: Scenes from the Non-Christian World.  Besoek 15 Desember 2014

II
Die film is gebaseer op die verhaal van Bowles uit 1949. Port Moresby (Malkovich), sy vrou Kit (vertolk deur Winger) en haar minnaar, George Tunner (Campbell Scott) se reis deur die Sahara word gekarteer. Hulle is ryk New Yorkers wat in 1947 in Tangiers aankom. Bowles is die verteller en kommentator van hierdie uitstaande film en sy aanwesigheid maak hiervan metafiksie.


Die film ondersoek die spanning tussen reisiger en toeris. Vir Kit is hulle inderdaad reisigers en hul lewens word dramaties verander deur hierdie reis. Port sterf aan tifus, Kit word waarskynlik aangerand ná haar redder, ‘n Bedoeïen by sy tuiste aankom en sy ander vroue jaloers op haar reageer.

Die Lyles – ‘n reisboekskrywer en haar seun, Eric – is die teenspelers in hierdie film. Kit en Tunner het ‘n affaire. Wanneer sy vrou sy seksuele toenadering verwerp, gaan hy een nag na ‘n prostituut wat probeer om sy beursie te steel.

Terwyl hy by die prostituut was, maak Kit sy beddegoed oop sodat dit Tunner laat dink hy het wel in die hotel geslaap. Maar Port verdink nou sy vrou van seks met Tunner weens die deurmekaar bed. Port reël dat Tunner met die Lyles vertrek, maar hulle wil hom nie saam neem nie. Port vertrek saam met die Lyles. Kit en Tunner vertrek op ‘n trein saam.

Port sorg dat Tunner uiteindelik met die Lyle’s vertrek na Messad sodat hy alleen kan wees met sy vrou. Hulle het seks een middag wanneer hulle alleen is buite en hy verduidelik wat die “sheltering sky” behels. Dat die lug hier alles toemaak en agter jou plaas wat dan ‘n premonisie is dat nooit weer sal terugkeer na die lewe wat hy eens ervaar het nie.

Hy ontdek in Bounoura dan dat Eric sy paspoort gesteel het wat ‘n belangrike kode is vir die verlies van identiteit. Die film aktiveer etlike redes vir sy siekte: die besoek aan die prostituut, ‘n tifus-plaag, besmette kos en water. (Kit weer merk op dat daar nêrens spieëls in die kamers is nie. Eers teen die einde het sy ‘n klein handspieëltjie en sy neem die veranderinge in haar gesig waar.)

Hoewel die paspoort opgespoor word deur polisiebeamptes, besluit Port om te vertrek na El Ga’a, omdat hy nie weer vir Tunner wil sien nie. Sake sou waarskynlik anders verloop het as Tunner by hulle gebly het.

Port sterf en Kit vertrek alleen dieper die Sahara in saam met Belqassim. Hy vermom haar as ‘n seun en sy is ‘n gevangene in sy huis waar hulle ‘n liefdesverhouding begin. Hulle word voortdurend afgeloer deur jong kinders.

Sy word aangerand, dalk ook verkrag, en verlaat die huis. In die hospitaal word sy deur ‘n Amerikaanse ambassade-personeellid opgespoor wat haar meedeel dat Tunner vir haar wag in die hotel in Tangiers.

Kit slaan egter op vlug en ontmoet die skrywer van die verteller wat dan met haar praat oor die transformasie wat sy meegemaak het. By implikasie oor dit wat met ‘n mens gebeur wanneer jy die Sahara ervaar …

Die film sluit met die volgende:

“Death is always on the way, but the fact that you don't know when it will arrive seems to take away from the finiteness of life. It's that terrible precision that we hate so much. But because we don't know, we get to think of life as an inexhaustible well. Yet everything happens a certain number of times, and a very small number, really. How many more times will you remember a certain afternoon of your childhood, some afternoon that's so deeply a part of your being that you can't even conceive of your life without it? Perhaps four or five times more. Perhaps not even. How many more times will you watch the full moon rise? Perhaps twenty. And yet it all seems limitless.”


III

Die roetes in die film soos na Messad (Algerië), Bounoura (Algerië), en ander Sahara-stede soos El Ga’a (Soedan) kan eweneens besoek word op die internet. Besoek 15 Desember 2014.

Boussif, Ain Krorfa, Messaad, Bou Noura, El Ga'a and Sbaa is stede of bakens in die Sahara. Besoek 15 Desember 2014.

Verder bestaan daar debatte of Bowles spesifiek wou verwys na Tangiers of Marokko of Algerië en of eerder net die amorfe en mitologiese Sahara wou aktiveer. Die Sahara het ek al vanuit ‘n vliegtuig besigtig en tydens ‘n Sahara-reis skrams meegemaak.


‘n Film is ‘n kragtoer. Johann Lodewyk Marais aktiveer iets van hierdie wêreld in sy jongste en lieflike bundel Nomade wat sopas by Cordis Trust verskyn het.

Hy skryf aangrypende verse oor die Afrika-landskap en hierdie bundel lees ek (toevallig) met die soveelste herbesoek aan The sheltering sky …






IBN BATTÚTA
1330

In Aden seën hy die koopliede
uit Kinbáyat, Kawlam en Cálicút
en seil met ‘n jalba langs die kus af
via die stinkende Berberstad Zayla
waar kamele op straat geslag word
en verder suid tot by Moqdashaw.

In die hawe ontvang sumbuqe hom 
en as gas van die qádi bring ‘n slaaf
skottels betelblare, pienangneute 
en provisie uit die Shaykh se paleis.
Ná die jumaa stap hy onder sonkappe
met goue voëls versier na ‘n feesmaal.

Gelukkig is jy onder die stede, 
Mombasá, want ook hier kom hy oornag
en van die ryke vis en piesangs eet.
Die vromes, eerlikes en opregtes
sien hy raak en bekyk die houtmoskees
voordat hy sy reis na Kulwá aanpak.

© Johann Lodewyk Marais. Sept. 2010

Monday, December 8, 2014

Joan Hambidge vertolk 'n SMS-gedig


die sterre sal ek vir jou snuit
soos advent-kerse
& met was skryf ek verse

Johann de Lange

Presies wanneer word ‘n uiting ‘n gedig? Johann de Lange stuur op ‘n aand hierdie gedig in drie sms’e aan my. So word die drie boodskappe ‘n gedig, ‘n mini-vers as ‘n mens dit saamsnoer.

T.T. Cloete het by geleentheid in Literator uitgebreid geskryf oor N.P. van Wyk Louw se kort gedig in ‘n artikel getiteld “Een gedig is meer as een” (Besoek 8 Desember 2014):

dat akkers op die sinkdak val
en vye op die ringmuur breek

Hierdie klein vers uit Klipwerk analiseer hy op ‘n besondere wyse.

Hierdie e-pos-gedig van De Lange is gestuur op die 7e Desember en die advent dui op die voorbereiding vir Kersfees met die viering van Jesus Christus se geboorte. Adventus (latyn) beteken letterlik aanbreek.

Reël 1 die sterre sal ek vir jou snuit
Reël 2 soos advent-kerse
Reël 3 & met was skryf ek verse

Die sterre sal die spreker vir die jy, ‘n aangesprokene, dooddruk soos advent-kerse. Uit hierdie proses sal die was van die kerse gebruik word om verse te skryf. Die kerse word vergelyk met die sterre, die uitspansel (die metafisiese?). Advent representreer die religieuse dimensie en die geboorte van Jesus wat ons Westerse tyd bepaal. Jesus impliseer ook verlossing vir die Christelike mens. Dus teenoor die uitspansel (sterre) wat tydloos is, is daar advent wat in ‘n spesifieke tyd gesitueer is:

Advent is the beginning of the Western liturgical year and commences on Advent Sunday. At least in the Roman Catholic, Anglican, Lutheran, Moravian, Presbyterian and Methodist calendars, Advent starts on the fourth Sunday before December 25, which is the Sunday between November 27 and December 3 inclusive (Advent - Wikipedia, thefree encyclopedia), Besoek 8 Desember 2014).

Uit hierdie twee opposisies, te wete, tydloos teenoor tyd, word verse geskryf. Daar is drie dimensies aanwesig in hierdie gedig: tydloos (ewig); religieuse belewenis en die viering van Kersfees wat ‘n spesifsieke tyd impliseer; skryf (stolling; durend; iteratief-duratief) en die digter versend hierdie boodskap in drie verskillende e-posse laatnag en hierdie leser plaas dit dan saam en maak hiervan één gedig. Die digter verjaar ook in Desember.

Cloete wys in sy artikel hoe die onvoltooide gedig met "oop plekke" werk en dat sulke kort gedigte met vermenigvuldigingsplekke geskryf is. Die afwesigheid van leestekens gee uiteraard ook meervuldige interpretasies aan die gedig.

Soos Cloete dit stel: “Deur die afwesigheid van leestekens en sekere hoofletters kan Boerneef se gedig vermenigvuldig word. Nou kan ons as lesers hoofletters en leestekens inlees. Goeie gedigte sê immers nooit alles nie.”

Hy verwys na hierdie vers van Boerneef:

Waar skuil ek teen die son se steek
op hierdie Krovlak sonder bome
is dit net opgeefsel en brand
of panne blink van klip en sand

In sy analise van Louw se gedig lees hy etlike betekenisse en opposisies in, onder andere ook die opposisie tussen lewe en dood.

Hy skryf: “‘n Gedig is ‘repetitive form,’ korrespondensie met variasie, soos in die musiek; dink aan Mozart se sonates, of nog opvallender, Ravel se Bolero. Daarom is die kleinste moontlike gedig ‘n gedig van twee verse. Van Wyk Louw het in Nuwe Verse so ‘n klein, maar vol en ryk gedig van net twee verse geskryf (die eerste gedig in die Klipwerk-reeks) met ‘n begin en einde wat sintakties aan albei kante oop is; iets ontbreek aan albei kante:

dat akkers op die sinkdak val
en vye op die ringmuur breek

Albei verse het presies net ses woorde. Ons kan die ‘en’ waarmee vers 2 begin, vervang met ‘dat’ sonder dat ons die gedig aantas. Ons kan die ses woorde (dieselfde aantal sillabes) van elke vers vertikaal onder mekaar plaas. Dan is daar duidelike korrespondensie met variasie, én daar is groei in die gang van die gedig".

Akkers wat staan vir durend (ook vir die dood) teenoor vye wat seksualiteit aktiveer.

Cloete se uitmuntende analises het my geïnspireer om hierdie vers van De Lange saam te plaas en te interpreteer:

die sterre sal ek vir jou snuit 
soos advent-kerse   
& met was skryf ek verse 

‘n Toevallige laatnag-boodskappe (in drievoud) word ‘n ars poëtica met die slotreël wat suggereer dat die skryfproses heling bring. En dat daar met advent tog verlossing en hoop opgesluit is vir die spreker ...

‘n Private sms word in ‘n nuwe konteks ‘n gedig.

Joan Hambidge