Showing posts with label Christine Barkhuizen le Roux. Show all posts
Showing posts with label Christine Barkhuizen le Roux. Show all posts

Sunday, August 2, 2015

Christine Barkhuizen le Roux – skynskadu (2015)


Christine Barkhuizen le Roux – skynskadu. Naledi, 2015. ISBN 978 0 928316 11 7

Resensent: Joan Hambidge

skynskadu is die derde bundel van die digter Christine Barkhuizen le Roux wat die romans Padmaker (2010) en Getuie (2012) gepubliseer het. Twee kortverhaalbundels het ook uit haar pen verskyn: Waar koek en wyn ontbreek (2006) en Wat die oog gesien het (2006). Sy debuteer as digter in die jaar 2000 met die bundel dimensie en hierna volg roset in 2006.

skynskadu word uitgegee met 'n CD waarop die digter haar gedigte voorlees en sangers van die gedigte sing. Hiermee word die klank-aspek van die gedigte dus beklemtoon. Die buiteflap word deur 'n gesiene digter geskryf, Fanie Olivier, wat die bundel tipeer as 'n herroeping van talle verledes ...

Herinnering en haar skynmaat, nostalgie, is inderdaad belangrike dimensies in hierdie bundel. Hierom die terugkeer na die jeug (selfs grensoorskrydende herinneringe). Daar is verse oor die ouers en grootouers, die oënskynlike idilliese bestaan wat vol ellendes was soos meisies in "die ander tyd" of droogte wat 'n bestaan bedreig. Onthoubaar dan is "plaas":

plaas

huis wat agter spinnewebbe beef
tussen die veld en dynserig lug
teen die rantjie sug die somer
bid die boer om wat dan ook

'n oes is af die dam is leeg
die nuwe droogte is in sig (25)

Daar is lykdigte oor bekende digters en die literator-biograaf, J. C. Kannemeyer. Lucas Malan, Chris Lombard, George Weideman word onder andere gehuldig. In die gedig "refrein" (74) tree sy onder andere in gesprek met Malan se digkuns wat uitloop op 'n slot wat die bundeltitel aktiveer:

en ek gewaar jou by die bottende prieel
jou pen skrywend aan die refrein
dat groen die lig en donker deel

Die agste en laaste afdeling bevat reisgedigte. Besinnings oor 'n stad, 'n besoek aan 'n museum of katedraal aktiveer sodanige gedigte die spanning tussen land van herkoms en land van besoek. Die spanning tussen hier en daar word uitgewerk, en hoe uiteindelik die bekende ook kan help om die onbekende vertroud te maak, soos die moeder se malvas in Granada.

Die bundel bevat reis- en lykdigte, verse met sosiale kommentaar, jeugherinneringe, beeldverse ('n mooi een oor Abraham H. de Vries), liefdesverse en plekgedigte. Oudword en weerloosheid word aangespreek en hoé herinneringe aan die ongehoorde (en ongerymde) 'n hele lewe bly verander:

: na al die jare sweer die naald
se afbreekpunte nog in my (41)

Daar is etlike besinnings oor die digkuns via (o.a.) Rilke, Boutens en Judith Herzberg. (Waarom Rilke tog in Nederlands aanhaal as ons Duits begryp, die goeie vertaling van Piet Thomas ten spyt?)

Tegnies vernuftig is die gedig "onthouwerk" (38) wat oorloop in die volgende vers wat "Ma" (39) heet. "Laaste wil" (66) kan gelees word as 'n epitaaf vir die self waarin die wens uitgespreek word oor hoe die digter begrawe wil word. In "operasie" (21) word die digter se weerloosheid en uitlewering aan die kritikus, beskryf in terme van 'n operasie:

koue kamer skaars narkosegas
my jurk hang los my rug is oop (21)

Klein, maar so netjies is die volgende gedig:

verjaardagkalender

die oopslaan van ‘n nuwe jaar
name om by te voeg name te wis

my pen weier die dik swart streep
deur wie vertrek het maar steeds is

ek stip alleen 'n potloodmerk
‘n serk vir Lucas John en George (73)

Op haar beste is die onthou- en nostalgiese verse die skerpste in die bundel. Die reisgedigte – waarin herinneringe o.a. aan die ouers ook sy beslag vind – is minder gefokus.

Daar word gebruik gemaak van sogenaamde outydse woorde (waarvan ek baie hou). Die digkuns word vergelyk met die skilderkuns soos in die programvers oor Caravaggio. Tog is dit die gestroopte, eerlike vers wat 'n mens tref.

Die verse in hierdie bundel is toeganklik en oop. 'n Handvol verse sal hierdie leser bybly. En die begeleidende CD bevat mooi vertolkings van die gedigte.

Dit is 'n bundel vir lesers wat hou van afgewerkte, dog toeganklike gedigte. Gedigte hoef nie vol intertekste en swaar verwysings te sit om te werk nie, soos 'n literator nou onlangs opgemerk het oor 'n bundel van Kobus Lombard op Litnet.

 Daar is 'n plek vir al die verskillende style in die huis van onse digkuns.


(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Rapport geplaas)

Wednesday, January 23, 2013

Christine Barkhuizen le Roux - Wat die oog gesien het (2010)



Christine Barkhuizen le Roux. Wat die oog gesien het. Human & Rousseau, 2010. ISBN 978 0 7981 5256 3.

Resensent: Joan Hambidge

Christine Barkhuizen le Roux is ‘n digter, kortverhaal- en romanskrywer. Sy het debuteer met dimensie in 2000; in 2006 het Waar koek en wyn ontbreek, en roset (2006), ‘n tweede digbundel wat in Nederlands vertaal is in 2009. Padmaker, haar roman, het in 2010 verskyn en Wat die oog gesien het is ‘n bundel kortverhale.

In “Lanset” word die vooropgestelde idee wat ‘n vrou het oor ‘n dokter en al die mites oor dokters met ‘n knalslot ontmasker. Die leser word ingesleep by die aannames oor dokters wat in ‘n samelewing gedy. Dit is ‘n knap verhaal en die leser begin dan met groot verwagting die bundel te lees.

Hierdie bundel bevat anekdotes, herinneringe, reisverhale, ‘n raamvertelling (“Verby”) waarin die verteller se ervarings in jukstaposisie geplaas word met ‘n vroulike werker se lot op die plaas en hoe vroue binne verskillende klasstrukture reageer op die noodlot.

Wat die oog gesien het lewer implisiete kommentaar op vrouwees. Daar word dikwels in verhale, tersluiks, verwys na ‘n beperkte begroting en ‘n vrou wat afhanklik is van die man se versorging. Tog is daar reise buite die patriargie en sensitiewe waarnemings in ‘n vreemde landskap (soos Turkye) waar verskillende gebruike en gelowe verhaal word. Dit is nie radikale feminisme nie, maar daar is beslis ‘n baie sterk gekodeerde vroulike blik in hierdie verhale soos in “Boas” waar die vrou, getrou aan die man, ‘n klein bedryfie begin om selfversorgend te kan wees. Op ‘n uiters subtiele wyse word die verhouding tussen haar en haar man, Basie beskryf en die betrokkenheid by die ander man suggestieryk weergegee. (Terloops, dit is Barbra Streisand, nie Barbara nie!)

Dit is ‘n bundel waarin vroue afhanklik is van mans vir ‘n inkomste en ‘n bedryfie begin om iets vir hulself te doen. Tog bly hulle vasgevang in die wêreld van die man en dit word baie aangrypend beskryf in “Bed” waar ‘n gesiene vrou se aftakeling weens Alzheimer se siekte beskryf word. In die verhaal “As Falco ja sê” word die onderliggende spanning van die meeste verhale belig: die vrou wat moet dankbaar wees vir die versorgende man (164).

Dit is ‘n bundel wat ongelyk is in gehalte. Daar is ‘n handvol knap verhale, maar sommige bly vassteek in die anekdotiese of die momentopname. Vir hierdie leser was dit wel ‘n interessante leeservaring om die onderliggende feministiese diskoers te ontleed in die bundel. Die slotsin van die slotverhaal sluit aan by die voorblad van die bundel: “Op die bruingebrande hand se vingertop kom sit, trillend, die middag se één blou vlinder” (189).

Dit is verhale wat meer word as ‘n tydskrifverhaal, maar soms vassteek in die geykte beeld of nie genoegsaam die sielkundige gegewe van die verhaal ontgin nie. Wat jammer is. Met ‘n bietjie wag en bywerk kon dit dalk iets meer geword het. “Bed” en “Verby” sou wel ‘n gedugte bloemleser laat nadink oor ‘n moontlike opname in ‘n kortverhaalboek.

Hierdie bundel het my terug geneem na De Vries se kortverhaalboek en weer laat kyk na Hélène Cixous se teoretiserings oor vroue-skryfwerk. Langs Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper is hierdie bundel maar ‘n floue uitbeelding deur ‘n vroulike skrywer. Gaan kyk na die hoogtepunte wat De Vries vir ons saamgestel het en Henriette Grové en Ina Rousseau skryf oor die lot van vrouwees so skerp en dwingend dat jy eenvoudig nie die verhaal kan neersit nie.

[Hierdie resensie het vantevore in Die Burger verskyn.]