Showing posts with label 2016. Show all posts
Showing posts with label 2016. Show all posts

Monday, May 29, 2017

Julieta (Pedro Almodóvar, 2016)

I

In 2016 verskyn die rolprent Julieta van die Spaanse filmmaker Pedro Almodóvar.

Dit is gebaseer op drie verhale ("Chance", "Soon" en "Silence") uit Runaway (2004) van die Kanadees Alice Munro, wat die Nobelprys in 2013 verower het en die gesogte Man Booker in 2009. Sy word op die Nobelprys-lys geloof as die meester van die kontemporêre kortverhaal.

Twee uiteenlopende ruimtes en kulture. Kanada as afstandelik, beheers koud. Spanje as meer emosioneel; minder beheers dus.

Almodóvar transporteer hierdie gegewe na 'n Spaanse landskap, omdat hy glo nie kon identifiseer met die koue, onemosionele Kanada nie. (Woorde Wat Weeg/ Met ’n mond vol films/ PedroAlmodóvar. Besoek 28 Mei 2017).

Ek was nog altyd gaande oor Munro se kortverhale, so veel so dat ek 'n resensie in 'n briefvorm aan haar geskryf het. Dit was oor Too Much Happiness wat in 2009 verskyn het. (Woorde Wat Weeg / Alice Munro - Too much happiness, 2009. Besoek 28 Mei 2017).

II

Die film sny die verhouding tussen 'n moeder en dogter aan. Meer spesifiek, 'n kind wat uit weerwraak haar moeder met stilte straf, omdat sy voel dat die moeder verantwoordelik was vir die dood van haar vader. As dit nie vir hul rusie was nie, sou die vader nie daardie dag die stormagtige waters getrotseer het met sy vissersbootjie nie. Die kind se siening berus op 'n buitestaander se skinderstorie, iemand wat deel was van die familie vir baie jare en waarskynlik uit persoonlike onvervuldheid, stories aandra. Daardie persoon word vertolk deur Rossy de Palma, 'n ikoniese figuur in Almodóvar-films.

Emma Suárez en Adriana Ugarte vertolk die jonger en ouer Julieta.

Die verhaal begin in Madrid. Julieta is vervreem van haar dogter, Antia, en sy en haar vriend, Lorenzo, is op pad na Portugal. Sy wil egter nie meer saamgaan nie nadat sy in Bea vasgeloop het en verneem dat haar dogter in Switserland woon met drie kinders. (Die moeder is onbewus van die ware aard van die verhouding tussen die twee meisies, wat later tot gevolg het dat Bea vlug van Antia. Ten slotte wil Antia weer versoen met haar.)

Na hierdie ontmoeting gaan sy na die woonstelblok – die enigste adres wat Antia besit van haar – waar die jong meisies saam gewoon het.

Hier begin Julieta met 'n joernaal en die kyker van die film sien met terugskote van hoe sy haar man Xoan ontmoet het op 'n trein. Ons sien ook die onverwagse dood van die vreemdeling oorkant haar in die trein.

Toevallige ontmoetings: die man oorkant haar in die trein (wat selfdood pleeg) en die ontmoeting met die visserman Xoan word gesinkopeer met die verdere toevallige ontmoeting met Bea waarmee die film begin.

Xoan se vrou is in 'n koma. Hy nooi Julieta, 'n taalonderwyseres, na sy huis. In die agtergrond is Ava, 'n kunstenares met wie hy 'n verhouding gehad het.

Julieta is swanger met Xoan se kind. Sy trou met hom, besoek haar vader (met haar jong kind) wat op sy beurt 'n verhouding het met sy huishulp, terwyl haar moeder ly aan Alzheimer se siekte.

Sowel Xoan se vrou as Julieta se moeder is disfunksioneel.

Inmiddels gaan Antia op 'n kamp, ontmoet Beatrice. Op 'n subtiele wyse word 'n seksuele verbintenis tussen hulle gesuggereer.

Die twee moeders ontmoet. Xoan sterf op 'n vissersboot tydens 'n storm en Julieta vertel haar dogter hiervan.

In die wending vertrek Antia na 'n spirituele retreat (vir drie maande) en wanneer haar moeder met haar kontak probeer maak in die Pirenieë, word sy meegedeel dat sy, Julieta, nie deel is van haar spirituele reis is nie. Op haar 19e, 20e en 21e verjaarsdae ontvang sy verjaarsdagkaarte sonder 'n adres.

Hierdie aspek van die film word pynlik en grafies weergegee: die moeder wat telkens 'n verjaarsdag alleen vier en die verjaarsdagkoeke - in Antia se woonstel - wegsmyt.

Ava, Xoan se minnares, is ondertussen in die hospitaal opgeneem met veelvuldige sklerose en sy onthul aan Julieta dat Antia bewus was van 'n verhouding tussen haar en Xoan – en dat die skinderlistige huishulp verantwoordelik was vir dié onthulling.

By Ava se begrafnis ontmoet sy vir Lorenzo.

En in die hede loop sy vir Bea raak wanneer sy emosioneel uitgemergel na twee jong meisies kyk in 'n balspel. Hier onthul Bea aan Julieta dat sy en Antia geliefdes was – iets wat die kyker reeds weet. Antia se besoek aan die spirituele retreat het haar skaam gemaak vir hierdie aspek van haar lewe.

Hierom moes sy dus vir Bea afsny.

Daar is 'n ongeluk waneer Julieta oor die straat loop en deur 'n motor raakgery word.
Lorenzo ontdek 'n brief van Antia waarin sy bely (met 'n terugkeeradres agter op die koevert) dat sy 'n kind aan die dood afgestaan het en nou besef watter sy leed sy haar moeder aangedoen het met haar stilte.

Die film eindig waar Lorenzo en Julieta na Switserland reis om met Antia te versoen.

Vir die volledige plot besoek Julieta(film) – Wikipedia (Besoek 28 Mei 2017).

III

Hierdie gesprek tussen verhaal en film behoef 'n studie. Dit is sy twintigste film wat hy oorpronklik glo Silencio wou genoem het. Scorcese het egter in 2016 'n film met hierdie titel uitgebring.

Die gegewe word van Vancouver na Spanje verplaas en ondersoek die verhouding tussen vroue.

In Julieta se apartment in Madrid hang 'n Lucian Freud-afdruk. Hiermee word ‘n subtiele melancholiese kode in die filmteks ingedra.

Die film is meer dramaties as die subtiele, gelade kortverhale. Dié filmmaker is immers bekend vir sy hooggestemde films waar emosies en koors hoog loop.

Tog is hierdie film meer spiritueel en minder kamp as sy vorige werk.

Dit is Almodóvar se vertolking of interpretasie van die gegewe. ‘n Mens lees Munro se verhale, geskryf in ‘n ander sleutel, op ‘n ander manier as die film.

Beide is indrukwekkende tekste.

Slavoj Žiżek se bekende uitspraak in The Pervert’s Guide to the Cinema kom weer na vore: begeerte is die wond van realiteit; overgesetsynde: begeerte (desire) bestaan, omdat realiteit onvolledig en gebroke is. En wanneer ons pyn (ellende) ervaar, word die koōrdinate van ons realiteit versteur.

Beide Julieta en haar dogter se lewens is versteur. Die film eindig gelade en jy moet as kyker self besluit of daar wérklik versoening kan wees. Miskien tog wel, maar nie ‘n opheffing van die leed aangedoen nie.


Pedro Almodóvar

Sunday, March 5, 2017

Mag resensente geresenseer word?



Dit bly ‘n tersaaklike vraag: mag die resensent geresenseer word? Mag daar repliek wees?

Die volgende brief van dr. Johan Brink reageer op my bespreking van Multivers van Hennie Smith en lui as volg:

I.

Resensie wys Hambidge het g’n benul van wetenskap

Deur Dr. Johan Brink, Equestria 28 Februarie 2017 04:00

Kan resensente geresenseer word?

Ek hoop so, want dit kan die vlak van die letterkundige debat verhoog.

Ek is ‘n gereelde leser van Beeld. Ek geniet ook van tyd tot tyd poësie. Dus waardeer ek die resensies wat in Beeld en ander Media24-koerante verskyn.

Onlangs het ek op die digbundel Multivers deur Hennie Smith afgekom. Aangetrek deur die titel het ek geblaai, gekoop en gelees: meegevoer!

Was my verbasing groot toe ek 13 Februarie in Beeld sien dat Joan Hambidge hierdie bundel bespreek.

Die resensie maak groot gewag van die sewewoord-aanhaling uit Archibald MacLeish waarmee Smith die eerste afdeling van agt gedigte inlei. Die resensent wys aan die leser dat sy baie weet van MacLeish en dui vir die leser selfs sy geboorte- en sterfjaar aan. (Van watter belang is dié data?)

Johann Wolfgang von Goethe, olieverf deur Joseph Karl Stieler, 1828

Die tweede van drie afdelings, bestaande uit 30 gedigte, word ingelei met ‘n aanhaling uit Goethe se Faust: ‘Das Ewig-Weibliche / Zieht uns hinan’. Hierdie gedigte raak talle aspekte van die manlik-vroulike interaksie met skakerings van emosies aan. Van hierdie aanhaling meld Hambidge niks. Ken sy nie Goethe se geboorte- en sterfdatum nie? Verstaan dalk geen Duits nie? Of is sy totaal ongevoelig vir die manlik-vroulike interaksie?

En dan die skokkendste waarneming: sy het geen benul van die wetenskap nie.

‘n Gedig soos “Klippe roep” vang die totale ontstaan van die kosmos vas van die oerknal af, deur al die stadiums en onverklaarde prosesse tot by die moontlikheid van ‘n intelligente wese agter die kosmiese proses.

Die titelgedig, “Multivers”, begin vernuftig met: Uit ‘n gedagte-knal / ‘n singulariteit van denke...

Hierdie beelde eggo die ontstaan van die kosmos met die oerknal wat uit ‘n wiskundige singulariteit ontspring. In die tweede laaste reël suggereer die digter dat sy multivers vir singuliere denke bedoel is: dus vir sonderlinge intellek. Hambidge kelder haarself deur te wys dat sy nie oor hierdie begripsvermoë en kennis beskik nie en soek “lekker Afrikaanse woorde”! En dan kyk sy om na waar sy meen ondersteunende plebs wag: “Nie waar nie?”

My eie lees van Hambidge se bundel Meditasies toon vir my mooi eenvoudige skrywery oor trivialiteite. Ek begryp nou beter waarom dr. Tom Gouws onlangs in sy resensie van Hambidge se werk geoordeel het dat daar uit talle bundels weinig verse is wat vermelding verdien.

Hoe kan Media24 so ‘n onbevoegde persoon met beperkte woordeskat, begrip en poëtiese gevoeligheid gebruik om nuwe publikasies te resenseer? Kom ons maak ons denke oop en merk dat die gewaande keiser liederlik kaal is.

Ek sal nooit weer iets van hierdie persoon lees nie en sal in die toekoms erg krities na resensies van letterkundige werke in Beeld en sy susterkoerante kyk.

Joan Hambidge, foto deur Naomi Bruwer

II.

Ek het reeds kortliks hierop gereageer op die skrywer van Equestria (nie Pegasus nie), maar weens ‘n gebrek aan ruimte, gaan ek vollediger in op dr. Brink se besware. Hy is van mening dat ek “onbevoeg” is om te resenseer en beskou die gewaande keiser as liederlik kaal.

Van wetenskap sou ek niks weet nie en ek “soek lekker Afrikaanse woorde”.

As hy oplettend gelees het, sou hy ‘n vraagteken gesien het na my opmerking. Die gebruik van hierdie soort wetenskaplike woorde in ‘n teks, werk moontlik in ‘n wetenskaplike handleiding; bepaald nie in ‘n vers nie. “Singuliere denke”? Koaguleer se Engels is “clotting”. Stol? Klont?

Dalk ‘n beter Afrikaanse woord; ek vra maar net.

Groter digters - soos T.T. Cloete - moes al hiervoor kritiek ontvang. (Smith se endnote is wel handig vir die speurende leser).

Archibald MacLeish

‘n Motto in ‘n bundel is ‘n belangrike wegwyser, sowel tematies as tegnies: hiermee word ‘n bundel geplaas binne ‘n bepaalde denkwêreld. MacLeish se beroemde ars poetica ondermyn myns insiens dit wat Smith doen:

Ars Poetica
deur Archibald MacLeish

A poem should be palpable and mute   
As a globed fruit,

Dumb
As old medallions to the thumb,

Silent as the sleeve-worn stone
Of casement ledges where the moss has grown—

A poem should be wordless   
As the flight of birds.

                *               

A poem should be motionless in time   
As the moon climbs,

Leaving, as the moon releases
Twig by twig the night-entangled trees,

Leaving, as the moon behind the winter leaves,   
Memory by memory the mind—

A poem should be motionless in time   
As the moon climbs.

                *               

A poem should be equal to:
Not true.

For all the history of grief
An empty doorway and a maple leaf.

For love
The leaning grasses and two lights above the sea—

A poem should not mean
But be.


Die plasing van hierdie digter se geboorte- en sterftedatum verwys na die modernisme, ‘n gedig wat dus in die tradisie van Wallace Stevens, op sigself inbuig.

Groot navorsers het al by herhaling uitgewys hoe Stevens se verse werk met die idee van ‘n geskape universum en dat die vers volgens sy reëls getakseer moet word.

Inderdaad het ons hier in Multivers ‘n fisikus aan die woord, maar veral die liefdesverse kom nie die mas op nie. Duits ken ek en binne die woordbeperking van ‘n resensie (800 woorde) kan ‘n mens nie by alles stilstaan nie. ‘n Resensie is ‘n eerste reaksie.

En al is ek gay, kan ek ‘n heteroseksuele vers beoordeel. ‘n Mens hoef nie lesbies te wees om te weet dat Carol Ann Duffy se Rapture (Picador, 2005) briljante verse is nie!

Tom Gouws

Vir die rekord: Tom Gouws het Indeks geresenseer in Beeld, nie Meditasies nie. En dr. Brink se  opmerking: “My eie lees van Hambidge se bundel Meditasies toon vir my mooi eenvoudige skrywery oor trivialiteite. Ek begryp nou beter waarom dr. Tom Gouws onlangs in sy resensie van Hambidge se werk geoordeel het dat daar uit talle bundels weinig verse is wat vermelding verdien”, verwys na die mening van ‘n kritikus, sélf digter, wat boonop skerp reaksie uit talle oorde ontlok het. Trouens, enige digter moet kritiek kan hanteer - dis deel van die groeiproses.

‘n Digter het op Versindaba verwys na die panteon van die Afrikaanse letterkunde wat hom ‘n volstruisskop toegedien het. Hy vergeet kennelik van sy resensie o.a. oor Leon de Kock en sy “geestesgoedere”!

Daar is min ingeligtes wat bereid is om te resenseer. Dit staan dr. Brink vry om kritiek te lewer, op voorwaarde hy kan vir ons vertel wat die verskille tussen modernisme (postmodernisme) is.


Onthou die uitspraak: nie die idee nie, maar die ding self.

Dit val op dat hy niks sê oor die sketse in die bundel nie.

III.

My oorspronklike resensie in Beeld:

Hennie Smith – Multivers (Beeld). Naledi, 2016. ISBN: 978-0-928316-64-3)

Harttog van ‘n lewensloop 

Naledi bemark hierdie bundel soos volg: “‘n Aantal verse reik uit na die grense van religie en filosofie. Hier is ‘n bundel wat die grense van dig-denke roer en ver¬breed.”

In hierdie dae van sterk debute, met sowel konvensionele digkuns (Hendrik J Botha en Juanita Louw) as anti-digkuns (soos Bibi Slippers), is hierdie bundel nie ‘n “verbreding” nie.

Die digter gebruik verder tekeninge om die gedigte te versterk. Hierdie tekeninge van Mimi van der Merwe gee iets naïefs weer.

Soms is daar ‘n bekoorlike beeld of ingryp, maar as debuut - soos dit hier staan - is dit nie oorredend as digkuns nie. Die digter verken die “stof, ster en plante” van die “geskape Univers” en sy bundel se titel is ontleen aan die fisika.

Afrikaans het wetenskaplikes, dokters, ingenieurs, ensomeer opgelewer, maar teen hierdie geesgenote klink die bundel maar yl op.

Die mooiste verse is dié wat oor die natuur handel, soos “Winterwitstinkhout” (95):

Die witstinkhout staan stom
tas met dun vingers
die leë dae om

‘n swart-en-wit fiskaal
wag roerloos

weldra sal broos lewe
deur die takkie-are kom.

In die eerste afdeling word die bekende (en ontglippende) uitspraak van Archibald MacLeish aangehaal: A poem should not mean / But be”.  Dit is egter die konklusie van die verruklike vers van hierdie Amerikaanse digter wat alles sluit : “A poem should be wordless / As the flight of birds”. Overgesetsynde, die tegelykertydsaspek waar beeld en gedagte één word op papier.  Macleish, ‘n Amerikaner (1892 – 1982), was ‘n modernistiese digter waar die geslote, outonome eenheid van die vers beklemtoon word, eerder as die buite-wêreld. En dit ontgin Smith dan in die eerste afdeling in die soeke “in nuwe vorme van lewe” (5) en in die gedig “Woordskig” (7) lees ons:

Tref ‘n voël
in sy vlug
pen hom trillend vas
op wit papier
waar die rooi merke
stadig stol

bleik tot blou.

Die tweede afdeling (“Ewige Vroulikheid”) handel oor die liefde, daardie allermoeilikste onderwerp vir die jong digter, wat immer gepootjie word deur die Abstraksie en reeds-geskryfde, wat nuut beskryf moet word. Die digter gebruik beelde uit sy wêreld om dit te beskryf, soos in “Gravitasiekolk” (27) waar swaartekrag, galakties, inspiraal, ensomeer die liefdesdaad beskryf. Die meeste liefdesverse kom hier nie verby die geykte nie.

Die derde afdeling heet “Woelende Woorde” - met verwysings na Dante wat in gedigte ontgin word - maar nie sterk genoeg na vore kom nie.

Daar is gedigte vir die geliefde, vir die ouers, vir ‘n kind, vir vriende; wat net by die persoonlike en intieme bly en nie oortuigend vers word nie. Dalk moes dit maar net vir hulle versend gewees het.

“Château Ligeon” is ‘n Franse vers. Gesprekke met die mitologie, Helena, Héloise (wat ‘n mens terugneem na Sheila Cussons se verruklike vers.)

In die woordverklarings word die konsep “multivers” verduidelik as die samehang van die univers wat deur wiskundige “wette” beskryf word. Daar is in elke formule ‘n konstante wat toevallig die presiese waarde het wat Homo sapiens se bestaan moontlik maak.

Dieselfde geld die digkuns. Ook hier bestaan “oneindige aantal universe” - die anti-digter se afbreek van reëls bevestig die bestaan daarvan. Die goeie digter skep sy eie uni-vers-um.

En waarom tog praat van “singuliere denke”? Of “woorde wat koaguleer”?  Daar is immers lekker Afrikaanse woorde, nie waar nie?

Die digter is soms buite sy boekie om. Iets mag miskien in die wêreld van die fisika reg klink, maar in die gedig trek dit negatiewe aandag.

En die ars poetica van MacLeish illustreer al hierdie wetmatighede, soos Cleanth Brooks se “well wrought urn”. Die goeie gedig steek sy bouwerke weg; bly in jou naklink soos daardie vertrekkende voëls. Macleish was ‘n uitsonderlike talent binne die Modernisme.

Van “vers-ekstase” is hier helaas, jammer genoeg, min sprake. Te veel harttog, te min hartstog.

Die bundel word deur Naledi gelys as ‘n topverkoper, wat helaas nie ‘n werklike prestasie is nie. ‘n Groot digter soos Wilma Stockenström is nie ‘n verkoper nie, maar haar gedigte-as-gedigte bly bakens binne ons letterkunde.

© Joan Hambidge is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die UK. 

Friday, March 3, 2017

Lina Spies – Sulamiet (2016)




Lina Spies – Sulamiet. Naledi, 2016. ISBN: 978-0-928316-47-6

Resensent: Joan Hambidge

Bevry van die kalender se heerskappy

Onvervulling en die soeke na ‘n oplossing vir hierdie pynlike toestand, kan gesien word as die onderbou van hierdie bundel. Daar is min digters wat hierdie eksistensiële dilemma so raak verwoord as Lina Spies. Ons vind die bekende temas hier: liefde, verganklikheid, die dood (met aangrypende lykdigte, o.a. oor Heinrich Grebe), geloofsake, vriendskappe, die natuur, musiek, en ook: die immer durende gesprek met die digkuns en ander digters. “Die huis van moontlikhede”, soos Emily Dickinson dit dan verwoord. Eybers op haar beurt praat van “woorde - goedkoop grabbelsak / of diamantbedryf”.

In vertalings wys Lina Spies op die eensgesindheid tussen Eybers en Dickinson. Sy het hieroor ‘n studie geskryf: Die enkel taak - Die merkwaardige ooreenkoms tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson. Queillerie, Kaapstad. 1995.

By Spies is daar ‘n losser versbou (as by bogenoemde twee digters) en ons vind hier ‘n meer narratiewe aanslag. Daar is egter in die gedigte (dikwels onverhuld) ook ‘n spanning tussen beeld en toepassing. In die verruklike “Himne aan die herfs” (28) bewys sy hoe sy hiermee werk.

Sy is ‘n besondere natuurdigter - soos Ina Rousseau en Johann de Lange - wat die unieke aard van elke seisoen kan opvang. Deur Spies se oë sien jy die Stellenbosse berge wat verkleur.

Haar kennis van die musiek is duidelik sigbaar in verse vir (en oor) sangers soos Cecilia Bartoli, gekritiseer oor haar vertolkings, wat op ‘n omweg ‘n soort ars poëtika word:

elke voël sing immers soos hy gebek is
tot eer van die Ewige Vader

(“Hemelpoort”, 72).

Politieke onreg word aangespreek in verskeie verse, o.a. oor Nelson Mandela, en in “Dekrete van deernis” (85) praat sy met Adam Small. Ook die sanger Randall Wicomb (“Die man met die kitaar”, 86) word vereer met ‘n lykdig oor die pyn wat hy moes deurmaak weens die raspolitiek van die land. Sy kyk na ‘n skildery, Inferno van Judith Mason oor verkragting van ‘n jong dogtertjie en lewer kommentaar hierop in “Die weerloses” (64).

Breytenbach vereer sy tereg as ‘n groot digter en taalstryder in “Uitnodiging tot die dans” (82). Die oerkrag van sy gedigte bly vloei vanuit die buiteland; ten spyte van hoe Afrikaans tans (veral aan universiteite) verminder en uitrangeer word. Die politieke uitsprake van die digter is hier duidelik ‘n interteks.

Oor geloofsake lewer sy belangrike kommentaar. Die digter se siening van die NG Kerk en geloofsake waarin Christus “vereng” word, is algemeen bekend. Hier is “Verlies” (61) ‘n kernvers met die besef dat ons Jesus by die kruispad kwyt geraak het. “God is in my woordeloosheid”, bely sy in “Transendent” (76).

“Herrysenis” (69) tree in gesprek met Olga Kirsch se besinning oor die land van verbond. Spies transporteer die Riviere van Babilon na moderne kunstenaars soos Isaac Stern, Yehudi Menuhin en Itzhak Perlman (die Israeli-Amerikaner). Die volk wat altyd op vertrek staan, het viole met hulle saamgedra. In die slot wanneer sy Zuckerman se vertolking hoor van Max Bruch se vioolkonsert in die Endlersaal, 23 Augustus 2014, bewys sy hierdie siening van die wandelende Jood.

Dit is dan Spies se handtekening: om uit die historiese gegewe iets persoonliks te maak.

Vir my is die korter, meer gedronge verse geslaagder. Die gespreksverse, intiem in hul aanspreek van ‘n onderwerp of persoon, loop dikwels hier die gevaar om te wydlopig of woordryk te raak - soos die vers oor Randall Wicomb. Dit is uiteindelik waarskynlik ‘n kwessie van smaak.

Harold Bloom, die bekende Jiddisj-Amerikaanse teoretikus verwys na “the anxiety of influence” en hoe skrywers met mekaar in gesprek tree.

Spies is ‘n polemiese persoon én digter: sy neem standpunt in teen rasdiskriminasie, die ontkenning van taalregte, religieuse engheid. Sy is in eie reg feministies ingestel oor die lot van die enkelvrou - “huidhonger” of body loneliness word eerlik beskryf.

Celan se “Todesfuge” word goed vertaal.

Bloom wys ook hoe die groot digter “swerve” en iets nuuts bybring tot die kanon.

Hier het ons verse wat die invloed van Eybers en Dickinson registreer, soos Bloom dit beskryf in The anxiety of influence (1975). Haar unieke aanbod is die praatvers, die intiem-persoonlike aanslag. En tematies verryk sy die Afrikaanse digkuns met haar verse oor Joodse vervolging en die holokaust (Shoah). Ook die “herwonne paradys” (in gesprek met Ina Rousseau) en die siening van Jesus as die Joodse rabbi is belangrike temas.

Die titel is uit Hooglied 6: 11 en 13 wat erotiese liefde aktiveer:
Ek het afgeloop na die neutetuin om te kyk na die uitspruitsels in die dal, om te kyk of die wingerdstok uitloop, die granate blom … Kom terug, kom terug, Sulammitiese, kom terug, kom terug, dat ons u kan aansien.
In “Belydenis van ‘n Sulamiet” (41) waar sy standunt inneem téén die Puriteinse siening oor die liefde, net soos sy die kerk kritiseer vir hul beperkinge wanneer hulle Christus toe-eien en sekere mense uitsluit.

Dit is ‘n bundel met ‘n ryke tematiek waarin ‘n magdom van onderwerpe aan bod kom. Daar is dus iets vir ‘n verskillende lesers opgesluit in hierdie bundel, uitgegee deur Naledi.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)