Monday, March 4, 2013

Jan van Tonder - Roepman (2004)



Jan van Tonder. Roepman. Human & Rousseau, 2004. ISBN 07981 4458 0.

Resensent: Joan Hambidge

Die pynlike oorgang van seun na manwees is waarskynlik in Afrikaans deur Hennie Aucamp ingelei met sy Wimpie-verhale. Niemand het egter die ‘coming of age’ meer behendig verwoord as Truman Capote in The grass harp en Other voices, Other rooms nie. Holden Caulfield in Salinger se The catcher in the rye is eweneens ‘n indrukwekkende prestasie. Dit som die problematiek van die kind-verteller op as outsider èn sensitiewe waarnemer. Enersyds buite die gang van sake; andersyds registreerder en interpreteerder vanuit sy beperkte blikhoek.

In Jan van Tonder is (Sep)timus die fokalisator. Die pa-figuur waarsku dat die lewe nie ‘n storie is nie. Hiermee word die verbeeldingryke gemoed van die jong kind vir die leser oopgemaak. Hy leef ook in ‘n tyd van politieke fabrikasie (Verwoerd se aanwesigheid en dood gooi ‘n skadu oor die vertelling) en die sosiale kodes van die sestigerjare word uitmuntend verbeeld.

Die gesin woon op Durban se Bluff-area en behoort tot die werkersklas. Bevordering vir die pa beteken Stanger. Die susters wil die huis verlaat waar die vader, ‘n patriarg, sy wil afdwing en sy kinders tug. Timus word in die badkamer geslaan wanneer hy oortree.  Deur Timus se oë (ook word Seppie ‘n spotnaam) beleef ons ‘n kind se seksuele ontwaking (weliswaar laat), ‘n suster se ongewenste swangerskap, ‘n kort, dog dringende homoseksuele ervaring. In hierdie wêreld is die skeel Roepman ‘n beskermling vir Timus met sy gebreekte arm. (‘n Simboliese aanduiding dat hy geskend is, net soos wat die bene van die vlermuise wat hy optel weer aan die onsienlike verbind word en die leser subtiel voorberei op die aborsie en Roepman se lot, uiteindelik.)

Die laerklas-leefwyse word helder en simpatiek geteken: R.R. Ryger se Beertjie en sy boytjies was satiries-uitbundig en Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie, ‘n ironiese kragtoer. Roepman is hartseer-storie. Die leser bly pynlik bewus van die ellendes wat die mense tref en arme Timus se desperate pogings om ‘n grootmens te word. Ons vind die leefwyse van die laerklas: ‘n spoorweglewe, die Durbanse hawe, die Addington-hospitaal wat verbeeld word soos dit is. Ons verneem subtiel die kind drink koffie en eet brood met sy middagete; ‘n broer moet in die gang slaap weens ‘n ruimte-probleem. Ontstellend en onthustend is die eenvoud en veral skreiend weergegee deur die kind wat nie ‘n ander lewe ken nie. Hy interpeteer die lewenswaarhede wat hy hoor, maar is uitgelewer aan wrede elemente rondom hom.

As ons Alice Miller, die bekende psigoanalis op haar woord moet neem in The forbidden issue, veroorsaak jeugtrauma ‘n verklaring vir gedragsafwykings en kreatiwiteit. Die leser bly dan ook bewus van twee vlakke in hierdie soort vertelling: die jeugwaarnemer wie se waarnemings en ervarings gestuur word deur die volwasse skrywer. Hier egter sonder verbittering of woede indien ‘n mens dit ook as verhulde outobiografie wil lees. Die outeur ontken in die kolofon die werklikheid; op die volgende blad staan die opdrag: dat hy stukkies van die lewe kon afloer en -luister. Ook hierdie spanning in die teks is tersaaklik, ofskoon dit nie op ‘n grensoorskrydende wyse nagespeur behoort te word nie. ‘n Roman verleen immers altyd aan die skrywer die reg tot fiksionalisering en oordrywing.

Van Tonder is ‘n meester in subtitiliteit en suggestie. Terselfdertyd is dit ook die mankement in hierdie boek: die Roepman-figuur moes helderder geteken gewees het. As beskermling (wat subtiel verbind word aan die bo-natuurlike), moes hy reeds van die begin af ‘n groter aanwesigheid gehad het.

Die Roepman se lot word verbind aan die verlies in onskuld en die modernisering van die spoorweë. Daar is simbolies nie meer ‘n Roepman nodig nie, want die kind het insig gekry in die mag van leuens, fantasie en hoe hy nooit weer ónbevange na die lewe sal kan kyk nie. Op ‘n verbluffende wyse word al die simbole en motiewe saamgebind in die slothoofstuk: ‘n ongewenste kind, aborsie, moord / ongeluk en ‘n uitbeweeg van die onskuldige blik op die lewe na ‘n pynlik-volwasse insig. Die primordiale krag van die gegewe word behendig verbind en Jan van Tonder beweeg diep in sy eie psige in.

Daar soveel onthoubare momente in hierdie boek: soos Boytjie, die bediende se swart kind wat deur die vader verjaag word; die skuimtonele; die beskrywing van ‘n groter seun se seksuele uitbuiting van ‘n jonger kind en die konfrontasie met Joon. In onderhoude bely Van Tonder deur hoeveel weergawes hierdie roman moes gegaan het om uiteindelik hierdie boek te word. Dalk, dalk kon ‘n laaste weergawe my beswaar ondervang het.

Lees hierdie roman.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]