Thursday, January 31, 2013

Tom Gouws - Ligloop (2010)



Tom Gouws. Ligloop. Human & Rousseau, 2010. ISBN 978 780798 15239 6.

Resensent: Joan Hambidge

Die titel Ligloop aktiveer om in die lig te loop, dus spiritueel te wees en om versigtig om te gaan met die gegewe in hierdie bundel. Reeds in die programgedig word die leser gemaan “trap ligvoets ligvoets as jy oor my woorde loop” (“he wishes for the clothes of heaven”, 11). Die motto uit Bakhtin (“We are the voices that inhabit us”) aktiveer die gesprek met T.T. Cloete en Antjie Krog. Daar is ‘n gesprek met Achmatowa en Sergei Esenin wat ‘n gesprek met die Russiese letterkunde oopmaak. 

Yeats word herskryf – met sukses, en ‘n gedig oor Johannes Kerkorrel tree in gesprek met De Lange se vers en die liedere van die sanger. Die Bybel, veral Elia, verskaf ‘n ander ryk voedingsbron waarop die digter teer. Die spel met die Afrikaanse digkuns en die WVK word in ‘n wrang distigon van Watermeyer beskryf: “elia en die ou boereplaas” (73).  (Trouens, dit sou ‘n fassinerende ondersoek wees om al die motto’s en verwysings te aktualiseer.) 

Cloete se klassieke vers “Die vroue van Vermeer” word deur Gouws “vermeerder in vers”. Krog se Jerusalemgangers word herbesoek via J.P. Claasens se studie oor hierdie trekkers. Breytenbach se “allerliefste” word nou in die kuberruim aangespreek en in ‘n distigon, “elia en die ou boereplaas” (73) word die profeet Elia ‘n masker vir Gouws se blik op die Afrikaanse letterkunde en die siening van die plaas. In ‘n wrang “aftelrympie” word die bloedige verloop van die land se geskiedenis weergegee met die onthutsende slot via Peter Blum: allesverloren.

Daar is vele motto’s by gedigte en Van Wyk Louw open die religieuse dimensie in hierdie bundel wat in sterk kontras staan met die verwysings na die politieke en aktuele wat soos ‘n fyndraad (of lig?) deur die bundel skyn.

En ook Eybers is hier in sowel ‘n vers wat aan haar opgedra word en in daardie bekende spanning tussen die man en vrou. Die webbe roer hier en die leser word telkemale bewus van die gedig wat uit die self spruit. Gouws is bewus van die self as ‘n konstruksie en die spel met die “wisseling van lywe” word behendig volgehou: soms in die skoene van Vermeer, dan as diensmeisie, dan as Elia, soms net as digter of méns. In ‘n “wyding”, ‘n liefdesvers, word die geliefde ‘n vers gegee waaruit sy eendag moet put:

eendag as jy oud is en saggies met jouself praat, en bewe,
en die tou te kort word vir die skep uit putte van herinnering,
vat dié vers, geliefde, lees dit weer as onvoldoende wyding
van ‘n digter wat na woorde soek vir die diepgang van ‘n lewe.

Soms is die self ‘n kleitablet, ander kere ‘n sakrament.

Titels van bundels en gedigtitels is in kleinletters en die verse getuig van ‘n streng tegniese beheer. Die beelddig is veral in Afrikaans deur Johan van Wyk met Heldedade kom nie dikwels voor nie (1978), verrassend ontgin. Cloete se Marilyn Monroe-verse bly eweneens bakens hier. Dit is ‘n ryk geskakeerde bundel bedoel vir die ernstige poësieleser.
Woordspel, flink ryme, eksperimentering met vorme maak van hierdie bundel ‘n genoeglike leeservaring. Veral die verse oor Vermeer is aangrypend. Die bundel nooi eweneens ‘n psigoanalitiese lesing uit via Lacan veral met die verwysings na spieëls, die camera obscura, meniskus, en studies oor die betekenis van simbole (soos die leeu) in die skilder se werk. In ‘n gedig “advent” (44) word die self genadeloos bekyk. Die twee hooftemas in die bundel word goed teen mekaar afgespeel in ‘n gedig oor Moeder Theresa se nalatenskap en Vermeer se bankrotskap. Die speelse vind ons hier in ‘n klein juweel:”resep vir sinlike soesji”(53).

In 1990 het Gouws gedebuteer met diaspora, hierna volg troglodiet in 1995 en syspoor in 2002.

Ligloop is ‘n bundel oor die “verskeie teksture van die landskap van die self”, soos die digter skryf in “die geograaf” (29). Die invloed van D.J. Opperman en die maskers van die digter word aanskoulik geïllustreer in die slot gedig wat ons as ‘n visioen kan lees.
Die verwysings is goed verwerk en vorm en inhoud word één in hierdie ontroerende bundel.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]