Thursday, January 24, 2013

Doc Immelman - Ruacana tot Rosh Pinah (2010)



Doc Immelman. Ruacana tot Rosh Pinah. Protea  Boekehuis, 2010.  ISBN 978 1 86919 436 9.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Konsertinahek is ‘n smoelslaner. Aan die woord is Doc Immelman (wat al veertig boeke gepubliseer het) en hier in sy rubrieke gesels oor die ou Suidwes, kampvure, jag, rooi duine…

F.A. Venter was indertyd redakteur van Die Suidwes-Afrikaner en later Frans van Zyl, redakteur van Die Suidwester, het Immelman as rubriekskrywer aangestel. Die foto’s op die voorblad en agterste binneflap vertel van ‘n lang lewe.

Die boek bevat ‘n handige lys met woordverklarings. Die rubrieke is leersaam, onder andere oor Cuca-bier wat kinien bevat (33) en nostalgies. ‘n Spanning tussen toe en nou is dikwels hier aanwesig. Name word verander (om skuldiges te beskerm); dus is hier ook sprake van fiksionalisering. Elke rubriekskrywer weet immers dat jy moet aanlas en bylieg om die rubriek te laat werk. ‘n Oop slot vind ons byvoorbeeld in “Die geheim van die swart sak” waar die leser en verteller bly wonder oor wat toé gebeur het. 

Sy bydrae  “’n Rubriek oor rubrieke” analiseer die lot van die rubriekskrywer baie skerpsinnig. Daar sal altyd iemand iewers wees wat jou beskuldig van iets onaangenaams, ‘n les wat die skrywer by W.A. de Klerk geleer het.  Onthou jy nog die uitdrukking “ek was jonk en vol asyn”?

Daar is ‘n huldeblyk aan Langenhoven en ‘n leersame stuk oor mahangu. Sy beskrywing van Windhoek vyf-en-dertig jaar gelede is onthoubaar. Die boek vertel ook van Angola en daar is ook ‘n naba-resep in!

Kwinkslae is daar en ‘n liefde vir landkaarte. (Geweet as jy ‘n plaas se naam verander, roep jy ‘n vloek oor die grond uit?)

Soos daar inderdaad bely word: jy kan die nostalgie afkrap met ‘n mes. As jy die woorde ken van die Suidwes-lied, praat van ‘n Stammtisch of weet wat ‘n agarob is, moet jy beslis die boek aanskaf.

[Hierdie resensie het vantevore in Media24 verskyn.]