Wednesday, January 30, 2013

Jeanne Goosen - Plante kan praat (2010)



Jeanne Goosen. Plante kan praatKwela Boeke, 2010. ISBN 978 7957 0300 3.

Resensent: Joan Hambidge

Hiperrealisme gemeng met absurditeit en ‘n gevoel van nihilisme. Gooi ‘n skeutjie gekheid by en jy het Jeanne Goosen se nuwe kortverhaalbundel, na vyftien jaar. Dit heet Plante kan praat.

Digter, dramaturg, romanskrywer, kabarettis, rubriekskrywer, dit is Goosen. Die skrywer van om ‘n mens na te boots (1975) en Lou-oond (1987); die weergalose Ons is nie almal so nie (1990) en die heerlike satire ‘n Paw-paw vir my darling (2002).

Met so ‘n gedugte skrywer is die leser altyd geneig om tekste vergelyk met ‘n hoogtepunt en dan leesplesier te versmaai. Dit sal ‘n fout wees om hierdie boek te wil afspeel teen ander Goosen-tekste. Lees dit eerder as besondere eenvoudige verhale – amper soos die BY-rubrieke – met ‘n eiesoortige blik op die werklikheid en ingeboude satire. Die mens in sy domheid en weerloosheid; in sy geloof in ewigheidswaarde met ‘n gebrek aan humanisme. In hierdie opsig is die slotverhaal ‘n kragtoer-in-die-kleine: dit heet “Nog ‘n dag” en die waansin van die daaglikse joernalistieke werklikhede word aan die kaak gestel en dan word dit die back-drop vir die fantasie van die skrywer wat ‘n verhaal begin vertel (skryf) in ‘n taal tussen Afrikaans / Nederlands / Duits. Dit is skreeusnaaks met die verteller wat ten slotte besluit:”I fall on the floor and I laughs and laughss and laughsss” (156).  Die verkeerde grammatika en die herhaling en vermeerdering van die s-klank, verïroniseer die gegewe. (“Heute Tag kwam ik in mein offies”).

Die titelverhaal, “Plante kan praat” (106) is ‘n oefening in gekheid. Hier is dit die satiriese Goosen aan die woord wat die kits-roem van moderne digters opstuur: ‘n enkele reël, “Plante kan praat” herskryf sy driekeer en omdat Johanna van Huyssteen, die “digter”, dit goed vind, is dit dit goed. Triomfantelik is sy, en Berlioz bloei oor FMR en sy hoor die plante wat praat met haar. Dit is die digter Goosen wat in hierdie verhaal aan die woord is wat met haar besondere (bykans) surrealistiese aanslag die lewe ontmasker as ‘n leuen. In talle verhale is daar verwysings na musiek en mense wat deur musiek wil ontglip uit die werklikheid wat hulle versmoor, verminder of verneder.

Hierom is daar dan dikwels ‘n wrede blik op karakters, bykans asof die vertellende instansie daarop uit is om te ontluister. “Fucked for life” (11) debunk die religieuse dimensie deur ‘n kru-verwysing wat binne die opset van die verhaal aanvaarbaar is. In “Wolwors” (46) word geweld geparodieer en dit wat lesers verwag van seks gekombineer met geweld. Inderdaad het ons hier ‘n pornografie van geweld, maar sekuur in beheer gehou deur die vertelling wat alles sekuur voorberei. Dis bykans asof Goosen hier die voyeuristiese leser wil gee wat hy of sy verwag, en nog meer. Asof sy wil sê: jy het gevra, hier is dit. “Ben Prins se voete”(109) wys op die gebruik van toeval in hierdie verhale en retro-verwysings wat ‘n vervloë wêreld oproep. Wat Harry Kalmer Sondae probeer doen in sy Rapport-rubrieke, kry Goosen hier ongeforseerd reg.

“Hulle noem my Jean’’ (116) wat inspeel op daardie onvergeetlike voorganger waarin Anneli van Rooyen haar klassieke “Aan die einde van die reënboog” sing, betrek die gender-tematiek van die verhale met die refrein: “Ek is ‘n vrou en ek vat kak van niémand nie”. Die man “snak soos ‘n doedelsak” wanneer sy met hom klaarspeel. Eers lag ‘n mens; dan word jy oorval met deernis vir die karakters wat uitgelewer is aan vooroordele en diskriminasie. ‘n Mens sou hierdie verhaal kon benader as ‘n soort fantasie waarin die verteller klaarspeel met almal wat haar al leed aangedoen het.

Goosen skryf oor low-class joints, oor dollas, oor Durbs en Parow, oor mense wat aansuiker, oor verskoppelinge, oor ‘n ou wat soos ‘n Champion spark plug lyk: maar vertel kan sy vertel. Van Spokie Snygans se ervarings of ‘n trassie, Gladys die sex-change, se leed. Wreedheid word afgewissel met hartverskeurende teerheid soos “Begeerte”(87) waarin ‘n simpel mens nie sy begeertes en drome kan verwoord nie en ten slotte die sagte lied van ‘n reënvoël kweel.

Dis ‘n boek wat vele emosies in ‘n mens wakker maak.  Ek was gaande oor die laaste digbundel Elders aan diens (2007) en hierdie verhale vra vir ‘n saam-lees daarmee.
Die donkerkant van die lewe word dikwels gewys asof die verteller buikspreker is van die melancholie. Die verhale lees vlot, maar met elke her-lees, word ‘n mens bewus van die slim komposisie.

Ons noem haar Jeanne Goosen.

Welkom terug, Jeanne.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]