Wednesday, January 30, 2013

André Pretorius - Iets ver en nuut (2010)



André Pretorius. Iets ver en nuut: Reissketse. Protea Boekehuis, 2010. ISBN 978 1 86919 355 3.

Resensent: Joan Hambidge

‘Soms lê die grootste ontdekking van ‘n verre bestemming nie in die plek nie, maar in jouself, soms sien jy op reis niks duideliker nie as jou eie plek, die mense wat jy agtergelaat het. Want reis gaan net soveel oor menswees as oor besienswaardighede.’ Aldus die agterplat. Met hierdie oorbekende siening, tel ‘n mens die boek op. Die skrywer het veral die afgelope paar jaar in BY gereeld oor reis geskryf en bekendheid verwerf met sy rubrieke oor wyn, musiek en internasionale aangeleenthede. Daar is deesdae ‘n vloed van reisbeskrywings in die media, neffens kosrubrieke.

Beide temas transporteer jou. Beide bring jou ook weer terug na jou self. Want om te reis, is dikwels ‘n onthutsende oefening met ongevraagde selfinsig, terwyl eet / uiteet / kook jou kan laat uitsit. Dieet of nuwe klere is dan jou voorland (Grappie).

Pico Iyer en Paul Theroux bly my gunsteling reisskrywers. Beide maak ‘n wêreld in woorde oop sodat jy nooit weer kan dink oor daardie landskap sonder om aan hul skryfwerk te dink nie.

In Afrikaans is die reisbeskrwyings van André P. Brink goue gunstelinge. 

Pretorius se bundel versamel reisindrukke en “Die estetika van die dood” (Parys, Oktober 2005) werk skerp assosiatief rondom die begrip van dood, begraafplase en herinnering. Uiteindelik is ‘n mens vergete wanneer niemand jou meer onthou nie: Wanneer daar niemand meer is wat my naam gebeitel in klip kan lees en weet wie ek was nie, is ek dan slegs maar ‘n voetnoot op die granietbladsye van ‘n begraafplaas? Stof was ek…” (97).

Die verskillende onderafdelings snoer die bydraes saam en die opening-rubriek “’n Olimpiese droom” word daar verwys na Ryszard Kapuscinski se Travels with Herodotus. Die oorgang van grense en liminaliteite is op die oomblik ‘n buzz-woord in die literatuurteorie. Soos dikwels in reisverslae gebeur, vind ons ‘n terugkeer na plekke. Die tweede besoek word dan in die gemoed afgespeel. Hoe het dinge verander en ook dieselfde gebly. In die eerste stuk word die fantasie-lewe van die jong kind beskryf oor die verlange om oorsee te gaan en dit met ‘n meevaller regkry.

Reis is onderrig, skryf hy, maar jy leer nie altyd wat jy gedink het nie (18).

Hy beskryf die gryse weer in Amsterdam tereg as piouter (211) en wanneer daar oor kos geskryf word, is dit ook hier ‘n snelskrif om iets van die kultuur van ‘n land te begryp. Besonder mooi is die foto’s in die boek waarvan die foto van die Boeddhistiese monnik met sy bidsnoer puik is.

‘n Mens kom natuurlik veel te wete van die reisende ek in hierdie versameling en soms word die leser ook aangespreek as ‘n “Geagte leser” (102) sodat jy as’t ware hierdie ooggetuie-verslag meemaak.

Dis ‘n lekker boek. Inderdaad vir die leunstoel-reisiger bedoel. Stede het persoonlikhede en elke reisiger gaan uiteraard anders kyk na ‘n bepaalde stad. Die melancholie (hüzün) van Istanboel is byvoorbeeld oorbekend. 

Musiek en letterkunde word gebruik om ‘n ervaring te belig. Hoe skryf ‘n mens tog oor St. Petersburg sonder Dostojefski? Of oor Istanboel sonder om Pamuk te betrek? En Istanboel swig inderdaad onder die gewig van sy geskiedenis.

Net ‘n kritiese kanttekening: soms word die beeldspraak verwarrend aangewend: Vir my was dit die eerste soet smaak van daardie verruklike vrug wat altyd tergend buite bereik gewink het” (10).  En is dit bedoeld: de laaste (13) of is spreektaal hier ingespan? Waarom word Dostojefski in Afrikaans weergegee, maar Pamuk in Engels? Hoekom Pamuk dan nie maar ook vertaal na Afrikaans nie?

Istanboel is eerder ‘n melancholiese as ‘n nostalgiese stad.

Maar dis tersydes.

Die titel verwys na ‘n Koos du Plessis-liedjie.

Want tyd is wind, en wind is nes ‘n kind,
op soek na iets, iets ver en nuut (“Die somer is verby”)

‘n Boek vir die reisbesetenes. En daar is baie van ons.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]