Wednesday, January 23, 2013

Christine Barkhuizen le Roux - Wat die oog gesien het (2010)



Christine Barkhuizen le Roux. Wat die oog gesien het. Human & Rousseau, 2010. ISBN 978 0 7981 5256 3.

Resensent: Joan Hambidge

Christine Barkhuizen le Roux is ‘n digter, kortverhaal- en romanskrywer. Sy het debuteer met dimensie in 2000; in 2006 het Waar koek en wyn ontbreek, en roset (2006), ‘n tweede digbundel wat in Nederlands vertaal is in 2009. Padmaker, haar roman, het in 2010 verskyn en Wat die oog gesien het is ‘n bundel kortverhale.

In “Lanset” word die vooropgestelde idee wat ‘n vrou het oor ‘n dokter en al die mites oor dokters met ‘n knalslot ontmasker. Die leser word ingesleep by die aannames oor dokters wat in ‘n samelewing gedy. Dit is ‘n knap verhaal en die leser begin dan met groot verwagting die bundel te lees.

Hierdie bundel bevat anekdotes, herinneringe, reisverhale, ‘n raamvertelling (“Verby”) waarin die verteller se ervarings in jukstaposisie geplaas word met ‘n vroulike werker se lot op die plaas en hoe vroue binne verskillende klasstrukture reageer op die noodlot.

Wat die oog gesien het lewer implisiete kommentaar op vrouwees. Daar word dikwels in verhale, tersluiks, verwys na ‘n beperkte begroting en ‘n vrou wat afhanklik is van die man se versorging. Tog is daar reise buite die patriargie en sensitiewe waarnemings in ‘n vreemde landskap (soos Turkye) waar verskillende gebruike en gelowe verhaal word. Dit is nie radikale feminisme nie, maar daar is beslis ‘n baie sterk gekodeerde vroulike blik in hierdie verhale soos in “Boas” waar die vrou, getrou aan die man, ‘n klein bedryfie begin om selfversorgend te kan wees. Op ‘n uiters subtiele wyse word die verhouding tussen haar en haar man, Basie beskryf en die betrokkenheid by die ander man suggestieryk weergegee. (Terloops, dit is Barbra Streisand, nie Barbara nie!)

Dit is ‘n bundel waarin vroue afhanklik is van mans vir ‘n inkomste en ‘n bedryfie begin om iets vir hulself te doen. Tog bly hulle vasgevang in die wêreld van die man en dit word baie aangrypend beskryf in “Bed” waar ‘n gesiene vrou se aftakeling weens Alzheimer se siekte beskryf word. In die verhaal “As Falco ja sê” word die onderliggende spanning van die meeste verhale belig: die vrou wat moet dankbaar wees vir die versorgende man (164).

Dit is ‘n bundel wat ongelyk is in gehalte. Daar is ‘n handvol knap verhale, maar sommige bly vassteek in die anekdotiese of die momentopname. Vir hierdie leser was dit wel ‘n interessante leeservaring om die onderliggende feministiese diskoers te ontleed in die bundel. Die slotsin van die slotverhaal sluit aan by die voorblad van die bundel: “Op die bruingebrande hand se vingertop kom sit, trillend, die middag se één blou vlinder” (189).

Dit is verhale wat meer word as ‘n tydskrifverhaal, maar soms vassteek in die geykte beeld of nie genoegsaam die sielkundige gegewe van die verhaal ontgin nie. Wat jammer is. Met ‘n bietjie wag en bywerk kon dit dalk iets meer geword het. “Bed” en “Verby” sou wel ‘n gedugte bloemleser laat nadink oor ‘n moontlike opname in ‘n kortverhaalboek.

Hierdie bundel het my terug geneem na De Vries se kortverhaalboek en weer laat kyk na Hélène Cixous se teoretiserings oor vroue-skryfwerk. Langs Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper is hierdie bundel maar ‘n floue uitbeelding deur ‘n vroulike skrywer. Gaan kyk na die hoogtepunte wat De Vries vir ons saamgestel het en Henriette Grové en Ina Rousseau skryf oor die lot van vrouwees so skerp en dwingend dat jy eenvoudig nie die verhaal kan neersit nie.

[Hierdie resensie het vantevore in Die Burger verskyn.]