Wednesday, January 23, 2013

Theo Kemp - Skool (2010)



Theo Kemp. Skool. Tafelberg Uitgewers, 2010. ISBN 978 0 624 05305 7.

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie roman ondersoek die skoolsisteem in Suid-Afrika. Op die mooi voorblad is daar ‘n das van ‘n privaatskool en agterop ‘n verfrommelde en gebreekte band (“tape”), waarskynlik om te wys hoe onmoontlik dit was om die volle impak van hierdie verhaal te vertel. Dit kan beskou word as New Journalism daardie soort teks wat veral in die VSA geskryf is deur figure soos Tom Wolfe en Truman Capote waarin werklike insidente of “trends” onder die loep geneem word. Dit is dan in die eerste instansie ‘n soort tydsdokument. Skool deur Theo Kemp beskryf en ondersoek die skoolsisteem en die probleme daaromheen in ‘n kwasi-outobiografiese vertelling. Ons lees dat dit Theo Kemp is, maar ek benader hierdie teks eerder as ‘n fiksionalisering van die “ek”, net soos wat die vertellers by Wolfe en Capote gefiksionaliseer is. Dit is die skrywer, maar ‘n skrywer gefabriseer deur die skrywer.

Dit is ‘n pakkende vertelling wat die stinkende aspekte van geweld, tik-verslawing en gebrek aan dissipline aan die kaak stel. Die vertellende instansie gebruik ‘n diktafoon om die aspek van waarheidsgetrouheid te onderstreep. Die leser is regdeur die vertelling bewus van die illusie van waarheid wat geskep én volgehou word. Daar is onderhoude met mense en die verhaal se egtheid word verterk deur herinneringe aan ‘n jeug waar die vertellende instansie as ‘n outsider vir die leser geskets word. Hy is dus van jongs af buite ‘n sisteem en soos dit dan bekend is aan vertellinge waarin hierdie soort karakter optree, is die waarneming duideliker en ongekompromitteerd weens die blik van buite.
Kemp maak ook gebruik van Michel Foucault (veral Discipline and Punish) se siening van die panoptikum op bladsy 125: die bewaarders kan die gevangenes sien, maar nie andersom nie. Foucault gebruik dit as ‘n metafoor vir hoe die mens se sigbaarheid hom weerloos maak vir die onsigbare magstrukture waaraan hy uitgelewer is. Hierdie filosoof het gesaghebbende studies geskryf oor hoé magsisteme gedrag aan bande lê. ‘n Skool is immers ‘n plek van dissipline en ‘n ruimte van opvoeding. Wat gebeur as die “leerders” in opstand kom of uitgelewer is aan geweld op verskillende vlakke soos armoede, dwelmverslawing, bendes?

Ivan Illich se Deschooling Society kom ook aan bod wat die “new journalism”-aanslag beklemtoon. Enersyds is daar fiksionele ervarings; andersyds beleef ons werklikhede en die Amerikaners tipeer dit tereg as faction.Die verteller vra inderdaad hoe hierdie Foucault hom kon help om mag en instellings beter te begryp. 

Die jeuggedeeltes is besonder konkreet en helder vertel en die roman lewer ‘n soort utopiese blik op die plaaswêreld wat in felle kontras staan tot die distopia wat die nuwe Suid-Afrika impliseer met konflik, bedrog en verlaging in skoolstandaarde. En die onveiligheid van skole.

Sogenaamde tuis-onderrig, leer ons, is ook nie onproblematies nie, omdat dit geweldig duur is en enorme eise aan die ouers stel. Boonop word hierdie praktyk ook as rassisties gesien.

Die hoofstuk op bladsy 228 kan as ‘n kort-kortverhaal gelees word, ‘n besondere deug van hierdie roman wat daarop dui dat hoofstukke goed afgewerk is en nie net sommer saamgeflans is nie. Die verhouding tussen die ek en Dindi dra die vertelling. Die outeur skryf gedistansieerd en emosieloos, sodat skerp en onthutsende oomblikke ‘n mens dikwels eers later tref.

Verskeie lesers het die boek gelees, veral bekende romanskrywers en literatore. Hierdie tendens om almal te bedank raak erg problematies. Het jong skrywers nie genoeg selfvertroue nie? Kritiese lesers mag vra hoe sou die boek gelyk het sonder die insette van al die buite-lesers.

Nietemin, ‘n roman wat ek met groot plesier gelees het, al 232 bladsye. Dit mis dalk die meedoënloosheid van In cold blood of die ironies-aweregse aanslag van Radical Chic & Mau-mauing the Flak Catchers, maar vir ‘n debuut is dit knap. Die roman is voltooi as ‘n projek in Kreatiewe Skryfkunde onder leiding van Marlene van Niekerk aan die US.

[Hierdie resensie het vantevore in Rapport verskyn.]