Monday, January 21, 2013

Ingrid Winterbach - Die aanspraak van lewende wesens (2012)




Ingrid Winterbach. Die aanspraak van lewende wesens. Human en Rousseau, 2012.
H&R  ISBN 978 0 7981 5706 3

Resensent: Joan Hambidge

Die aanspraak van lewende wesens van Ingrid Winterbach is bekroon met NB-uitgewers se eerste prys in Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2012. Die roman word tipeer as “komies, hartroerend, meditatief, verruimend”. En ‘n mens sou kon byvoeg: melancholies. Die roman is aangrypend geskryf en speel terug op ‘n vroeëre besinning, naamlik Klaaglied vir Koos. Winterbach vertel twee stories, te wete die verhaal van Karl Hofmeyr, wat moet raad vind vir sy broer Iggy se geestesongesteldheid. Hierteenoor het ons die besinning van Maria Volschenk oor haar lewenslot en hantering van haar suster se dood. Die karakters se paaie kruis op ‘n plaas, surrealisties beskryf, in Kaapstad waarin die outeur dus sydelingse en ironiese kommentaar lewer op die tradisie van die plaasroman in Afrikaans. Ene Josias Brandt, ‘n soort katalisator in hierdie roman, is in ‘n stryd met Iggy (Ignatius) gewikkel.

Winterbach se romans interesseer nie hierdie leser om die verhaallyne nie. Dit intrigeer eerder om die digte verwysingsveld en die sterk metaforiek. Die jongste roman is ‘n lament en die titel “die aanspraak van lewende wesens” aktiveer ook die ander kant van die munt, te wete die aanspraak van gestorwenes. Soos in vele romans, roep die teks ‘n sterk psigoanalitiese verwysingsisteem op. Hierdie teks vra vir ‘n saamlees met Freud se “Rou en Melancholie” (1917).

Die “vroeë verwonding en verdriet” (40) van Maria word ondersoek. Die verteller neem ons terug na die skooljare as ‘n sleutel tot die intense ervaring van leegheid en die familie is ‘n ruimte van verwonding. Dit is ‘n verhaal wat psigiese kennis ondersoek en die verwysing na die Id aktiveer die kelder van die onbewuste. Taboes (soos kinders wat ‘n kaal lyk sien) en ‘n DVD (waarna Maria en Vera kyk) waarin psigiaters meen skaamte en vrees lotsbepalend is, neem ons na verdere lae. Soos in vroeëre tekste is die “dierlike impulse” en die mens se lot verbind aan groter patrone. Dit is ‘n roman vol selfverwysings: die “frostbite” aktiveer Die benederyk en Klaaglied vir Koos se ondersoek na evolusie kom aan bod. Dit wat buite die rasionele lê, word ‘n fokus. Die Sitra Achra, die Sheddim, Stabat Mater, Heavy Metal, films (soos The Big Lebowski, o.a.) Wagner, eis ‘n Barthesiaanse benadering op soos beskryf in S/Z (1970) van kulturele en persoonlike kodes. Met die leser as die waarsêer.

Die verwysings na skaak neem ons terug na Nabokof.

Die suster, Sofie, se ongewone blik word ‘n belangrike sleutel vir die emosionele ruimte waarin Maria haar begeef. Deur haar nalatenskap word Maria bewus gemaak van die spirituele domein. Die suster, ‘n digter, wil haar hande nalaat aan haar suster; ‘n slim troop vir hoe die suster se lewe uiteindelik Maria se lot bepaal. Karl se pakkie bevat eweneens inligting oor sy broer wat ‘n deur ‘n spirituele hel gefolter word en glo dat hy ook fisies transformeer. Twee parallelle verhale dus; ‘n parallaks, in Žižek se terme. Die roman aktiveer ook die Gnostiek: Maria word deur haar suster bewus gemaak van die tien hekke van spirituele wysheid (125). Iggy se brief aan sy broer aktiveer eweneens hierdie gegewe en dit sal die leser loon om die Ofiet-diagramme en die Boek Esegiël saam te lees. Die voorblad aktiveer immers sowel die Bybel as die wetenskap. Syfers speel ‘n belangrike rol in die roman: Maria is ‘n syfermens en Karl is obsessioneel oor getalle. ‘n Sielkundige torring aan Maria: watter geheim het die moeder van haar weerhou? Hierdie aspek neem ons weer terug na die moeder in Die benederyk.

(Nes die verwysing na Louise Bourgeois). ‘n Terugkeer na Stellenbosch word bykans intratekstuele kommentaar op die skrywer se eerste werke. Daar is min passasies wat so vindingryk geskryf is in enige letterkunde as die ontmoeting met twee bergies (die vrou ‘n palmleser) in ‘n begraafplaas. Daar is die optekening van die natuur: sprinkane, spinnekoppe, ensomeer, as ‘n beswering van depressie.

Daar is vele verwysings na beeldende kunstenaars wat eweneens die teks (onbewustelik) laat voortstu. Die natuurbeskrywings is digterlik en ‘n mens kan hier die hand van die beeldende kunstenaar sien in haar konkrete beskrywings van die ruimte. Psigiese inhoude word nie blote abstraksies of ‘n intellektuele getjommel nie; die leser beleef dit in die krisisoomblikke van ‘n karakter wat onverwags geskiet word of ‘n kind wat meen sy lewe is in gevaar. Die dialoog is vindingryk en snaaks. Die verskillende hoofstukke impliseer ‘n ouktoriale vertellershand wat te midde van chaos tog orden. Die oog vir détail imponeer: van ‘n karakter se bo-lip tot ‘n vrou se oog kan jy sién.
Die roman het ‘n sterk verhaallyn met ingewikkelde kodes en toespelings: wetenskap teenoor spiritualiteit; vooruitgang teenoor kataklisme. Weemoed wissel humor en aksie af. Klein tersydes word ‘n kulturele kode.

Binne ‘n bestek van bykans drie dekades het Winterbach haar gevestig as een van die belangrikste romanskrywers van ons tyd. Dit is loflik dat sy telkens binne ‘n kort bestek ‘n nuwe roman skryf sonder om gehalte in te boet. 

Dit is is ‘n briljante roman. Binne die afgelope tyd het ek dit driemaal gelees. En elke keer iets nuuts raak gelees. Daar is min slotte in enige roman wat ek ken wat my tot sulke weemoed gedryf het as die einde van hierdie boek.

Met stilte as die grootste ellende wat ‘n mens kan tref; nie skaamte en vrees soos die Nederlandse psigiaters in die roman meen nie. Dit is opgedra aan wyle Paul Cilliers, die filosoof.


[Hierdie resensie het voorheen verskyn in Die Burger & word afgedruk met vriendelike vergunning van die resensent.]