Thursday, January 24, 2013

Leon de Kock - Bad Sex (2010)



Leon de Kock. Bad Sex. Umuzi, 2010.

Resensent: Joan Hambidge

I

Dit is die verhaal van Sammy / Sam / Samuel L. Baptista oftewel Sammy-Boy se soeke na die self. In hierdie uiters onderhoudende roman, wat ‘n soort raamvertelling is, word die wel en wee van Sammy se soeke-na-self in ‘n Philip Roth-agtige Portnoy’s complaint weergegee. Kom ons wees eerlik. As feministiese en gay-skrywers hulle harte kan oopmaak en ontboeseminge publiseer, mag macho-mans dit ook doen. In hierdie vertelling aan die sielkundige, ene Anna Brink word die lewe van die hoofkarakter weergegee. Dit speel af in sy jeugjare in Mayfair, gewone, nee eintlik kommen mense en die pratende ek vertel alles van sy verwondings.

Liebe dein Symptom wie Dich Selbst verwys na Jacques Lacan, die Franse psigoanalis se siening van die wond wat die self bepaal. Dit is ook die titel van Slavoj Žižek se film oor sy eiesinnige interpretasie van Lacan.

Die leser word dus bewus gemaak van die slim toespelings op “talking therapy” (Lacan se parlêtres) dat daar ‘n sogenaamde “clean slate” moet wees sodat transferensie kan plaasvind. Soos in die toneel waar die hoofkarakter broeklosmaak vir die suigende lippe van ‘n prostituut, word die leser ingelyf by al die intieme bedsake van die hoofkarakter, sy broer, sy grensoorskrydende familie en hul besoekers en les bes: ‘n molesterende dokter.
Die verhaal word aan die gang gesit met die einde van ‘n verhouding. Die magtige en dus kastrerende vroulike baas en minnares, ene Sabina Fairbrother (Sabina Spielrein?), woonagtig te Westcliff Ridge, het probleme met sy tafelmaniere. En so word ‘n hele verlede “ontsluit” van boks-insidente, tot ‘n broer se masturbasie-toneel en manewales wat die ek-verteller psigies skend. Dit is ‘n “cocked-jocked”-roman waarin satiriese uitsprake gemaak word oor die akademie (“The Ideology of Bliss”) en feministiese tekste soos The women’s room.

Die vertelling ontstaan wanneer die terapeut opdrag gee dat die verteller ‘n roman moet skryf en die leser kry dus die volle weergawe van ‘n komplekse man se siening van seks. Die magspel, die vrees vir vroue, kastrasie, die mag van die vader, ensomeer. Maar nou alles is nie loodswaar Lacaneske (all puns intended) vertelling nie. Daar is skreeusnaakse weergawes oor die verteller se jeug waar die ma in gesprek tree met ‘n skinderlistige tante wat die jong kind afloer; skerp opmerkings oor rasverskille van doerietyd; die invloed van Springbokradio en vervolgverhale. Die invloed van die broer op sy lewe lewer ook felle kommentaar op Freud se siening van familiestrukture en die “return of the repressed”. Die jong kind se vrese rondom die broer se oortredings en sy eie vergrype soos winkeldiefstal is werklik aangrypend goed weergegee. Wanneer die broer sy jeugliefde betree, is hy in erge konflik…:

“Remember Charmaine Lotter?” he says.
‘ “Yes, of course, man!” I blurt out.
‘ “Well, I just fucked her,” he announces. “Fucked her good and solid. Half an hour ago . . .”
‘I felt an immediate jolt of bitter outrage. Charmaine Lotter! I was in love with her, Anna! But she’d always seemed so out of reach. She was a lanky, barefooted girl . . . a year or two older than me . . . and impossibly pretty, just like her twin sister, Darlene. They were sandy-haired waifs . . . only just “developed”.
But innocent! And now Nev goes and does this . . . this, with that disgusting dick of his!
‘I feel angry and outraged, but I also feel kind’ve jealous . . . and I have to hide all these feelings away, too, otherwise there’d be further complications . . . Basically, I feel useless and left out.
But still, Nev gives me the horrible details. Tells me the story. This is his moment. Telling me is his real moment of glory. Rubbing it in my face. I am his foil. So this is more or less how he tells it”.

Daar is etlike ongelooflike tonele: ‘n bokstoneel wat weens naarheid stop; ‘n molestering van ‘n jong seun in ‘n dokterspreekkamer; ambivalente intimiteit met Sofia van Staden; ‘n homo-toneel in Kaapstad.

Die boek is in lekker spreektaal geskryf. Op ‘n plek verneem ons van die “moedelose anger” van die karakter wat deur sy terapeut bewus gemaak word van sy wonde. Woede en vevreemding. En ‘n herhaaldelike terugkeer na iets of iemand wat sal begryp…

Op bladsy 133 is die pa in Durban:

“Like that old Durban joke photograph my father once showed me, where he’d positioned
himself behind a board with a painted cartoon on the front, resting his neck and head on the cut-out space as the photographer took the snap. The board showed a ridiculous
figure – now transformed into my dad – with just his head sticking out from the inside of a toilet bowl, his hand on the flush handle, ready to pull. The speech bubble read: “Goodbye, cruel world!”
‘It was the reduction of everything to that level, crude clichés of Durban-by-the-sea in the 1960s . . . a world of bluster and corny white jokes . . . a backwater, mealy-mouthed sense of
inferiority before the greater world, those days when people still saw themselves as colonial small fry, and they resorted to cheap shots, in low-slung drawls: “Yous wanner get ya picksures tayken?”, as if they didn’t deserve better and they knew it. This was the world I thought I had outgrown and outlived.”

Ten spyte van  die moedige pogings van die hoofkarakter, wat aan die Universiteit van die Witwatersrand gestudeer het en dus die geleerde verwysings aanvaarbaar maak, kan ‘n mens tog nie jou jeug ontglip nie. Dis ‘n roman wat met soveel eerlikheid geskryf is dat ‘n mens net eenvoudig bewondering vir die teks kan uitspreek.

Die aanslag is reg. Die karakters praat soos regte mense. Jy hoor die Mayfair-nommers.
Dis eweneens ‘n belangrike tydsdokument: die apartheidsjare, bediendes in agterkwartiere, ras-kwessies en vooroordele.

Die boek lees vlot. Ten spyte van die pyn (en eerlikheid) word die vertelling afgewissel met humor.

II

Die raamvertelling en die opdrag van die sielkundige maak van die leser ‘n medepligtige. Jy word deel van die verhaal en die genesing van die verteller. Jy koekeloer saam met hom en beleef ook die transgressiewe arenas van die jeug. Daar word uitgepraat uit hierdie spreekkamer en die leser wat aanstoot neem, moet gewoon die roman neersit.
Verder is die roman polities-inkorrek en begin dit ‘n debat wat waarskynlik vir sekere feministe aanstootlik sal wees. Die verteller is egter besig om kommentaar te lewer op maskuliniteite en die manlike kultuur en hoe die sensitiewe man hierdeur geraak word. Dit is juis hierdie “double talk”, in Koestenbaum se terme, wat die roman geslaagd en aangrypend maak.

Die analis/analysand-rolle word gekompliseer met die leser wat analis word en soms gepootjie word en in die analysand-posisie geplaas word wanneer jy die Toweels onthou, Springbokradio, die ou-Suid-Afrika en die verteller se soeke na identiteit is ‘n moeilike dog eerlike reis. Op ‘n manier is dit ‘n antwoord ook op Marlene van Niekerk se Triomf, puik vertaal deur De Kock.

Maar in sy geheel: ‘n ongelooflik komplekse roman wat in gesprek tree met psigoanalitiese sienings oor self en verwonding.

Veral Lacan se siening van die knope in die psige is hier relevant. En vir vroue-lesers dalk ‘n onthulling dat man-wees met baie wroeging en vrese gepaard gaan.

Bronne:

Koestenbaum, Wayne. 1989. Double talk - the erotics of male literary collaboration.Londen: Routledge.

Lacan, Jacques. 1988. "The insistence of the letter in the unconscious" in David Lodge(red.): Modern criticism and theory - a reader. Londen: Longman.

Longhurst, Derek(red.). 1989. Gender, genre & narrative pleasure. Londen: Unwin Hyman.

Malcolm, Janet. 1992. The purloined clinic. Selected writings. Londen: Papermac.

Noyes, John K. 1997. The mastery of submission. Inventions of masochism. Ithaca: Cornell University Press.

Ragland, Ellie. 1995. Essays on the pleasures of death. From Freud to Lacan. New York: Routledge.

Singer, June. 1997. Androgyny - Towards a new theory of sexuality. Londen: Routledge & Kegan Paul.

Žižek, Slavoj. The pervert’s guide to the cinema. DVD.

[Hierdie resensie het vantevore in SlipNet verskyn.]