Thursday, January 24, 2013

Carina Diedericks-Hugo - Thomas@rock-ster.net (2010)



Carina Diedericks-Hugo. Thomas@rock-ster.net. Lapa Uitgewers, 2010. ISBN 978 0 7993 5080 7.

Resensent: Joan Hambidge

Elke jaar, en dit is die waarheid, lees ek ‘n Saartjie Baumann om my terug te voer na my heerlike leesplesier as kind. En sommer vir die lekker, tel ek ‘n Maasdorp-boek op. Reeksboeke, so meen vele kenners van kinder- en jeuglektuur, is sleg vir die jong kind, omdat dit glo te afgestem is op voorspelbaarheid en die kind se verbeelding aan bande lê.
Hiermee wil ek grondig verskil. Reeksboeke het ‘n nuwe geslag lesers onder meer geleer om postmodernistiese tekste te begryp met die hersirkulasie van karakters (uit ander romans ook) of teksgrense. Dan praat ons nie eers van hoeveel vrouelesers Dr. Serfontein as ‘n rolmodel sien of hartgrondig na Kobie se kaskenades verlang nie.

Carina Diedericks-Hugo verteenwoordig die nuwe geslag jong lesers se Topsy Smith / Bettie Naudé. Die jongste uit haar woordverwerker (nie pen nie!) is Thomas@rock-ster.net wat beskryf word as ‘n radikale boek wat rock. Die jong leser word behalwe vir die boek ook geneem QR-kodes wat jou lei na ‘n klankgreep, video en foto; ‘n spesiale MXit-kanaal net vir Thomas en vriende; ‘n gunstelingspeletjie Fangs en ‘n Radikale Rockfees se webblad waar jy self ‘n rockster kan word en jou eie musiek kan meng. (As jy nie weet wat dit alles behels, ontspan: dit word in die boek verduidelik, dude.)

Die skrywer begryp dus die nuwe geslag se behoeftes. Hulle wil nie lees van Malie of Alie wat blommetjies pluk of gekunstelde Afrikaans (of Afrikons) met mekaar praat nie. Hierom word daar in die Thomas-boeke verwys na “losers” of “pel”. Die woord “sure” word gebruik en uitdrukkings “soos in glad nie”.

En die lewe suig. Die idilliese bestaan wat in ouer kinderverhale aangebied word (en waaraan grootmense dalk plesier mag hê), word in hierdie tekste geproblematiseer en ondermyn. Op die agterblad byvoorbeeld is daar nie net wit kinders nie, maar ook bruin en swart kinders wat dus ‘n groter teikenmark verseker. Kinders tans beleef gemengde skole.
Die verwysings in die roman is eietyds. Karen Zoid, Hannah Montana, Francois van Coke, onder andere, gooi hier ‘n draai. Ons lees van “groupies” en “dudes”.

Die harde werklikheid van die nuwe Suid-Afrika kom ook aan bod met verwysings na die impak van ‘n kaping op ‘n lewe.

Die verhaalgang is snel en Diedericks-Hugo kan vertel. Dit is bekend dat sy intensiewe navorsing doen en skole besoek om kinders se behoeftes te snap. Wat ek weet (en begryp) van jong mense, word hulle behoeftes aangespreek. Net vanaand gaan ek weer nostalgies raak en ‘n Trompie lees!

Kenners op hierdie gebied, soos Lydia Snyman en Maritha Snyman tans, sal beslis kennis neem van ‘n veranderende sub-genre. Daar is onder andere kru-taal in (“poepsak”, bladsy 44) en die karakters praat waarheidsgetrou. Dalk kan hierdie boeke ‘n vergelykende studie oproep: hoé die ou-Suid-Afrika se “onskuldiger” reeksboeke oorgegaan het in ‘n ander werklikheid. Kyk byvoorbeeld hoe word gesagsfigure hier uitgebeeld.

Die komplekse binnelewe van die jong mens word goed uitgebeeld. Die pyn en frustrasie rondom “crushes” en skoolwerk. Vals beskuldigings, ‘n aanval op ‘n onderwyser (wag, wag ek wil nie die storie weggee nie), word teen ‘n snelle tempo vertel. En die einde bring wel ‘n oplossing met ‘n duidelike wenk vir ‘n volgende Thomas@.

Taalkenners, oppas vir huilpille in die Horlicks, want dis hoe die kinders praat. Daar is wonderlike beelde wat ‘n mens altyd sal bybly. (Iemand sit soos ‘n Hollywood-ster met selluliet; dus afgehaal. Die ou is maller as ‘n alien in ‘n wasmasjien, is ‘n ander een.)
En die voorblad van die boek is besonder aantreklik. Thomas sit met ‘n selfoon in sy hand. Ons verneem van die Hectic Hamburgers, terwyl Saartjie Baumann se Juffrou Minnaar meen sy ken kinders. Ja, kinders van ‘n ander tyd en dalk die Drie Muskiete en een met ‘n paar weerbarstige krulle. En Saartjie boep soos Bing Crosby (Omnibus 1, Perskor se heruitgawe van 1993.) Saartjie hou ook ‘n konsert, maar om geld in te samel vir die Strandfonds en sy is besorg oor arm kindertjies in Indië. Saartjie is haar moeder se vreugde en las en haar vader se oogappel. Thomas het ‘n pa wat die skoolhoof aanvat en met ‘n siviele eis dreig oor wanoptrede.

Carina Diedericks-Hugo: you go girl, you go!

[Hierdie resensie het vantevore in Rapport verskyn.]