Tuesday, January 29, 2013

Gilbert Gibson - Oogensiklopedie (2010)



Gilbert Gibson. Oogensiklopedie. Tafelberg Uitgewers, 2010. ISBN 978 0 624 04831 2.

Resensent: Joan Hambidge

Gilbert Gibson het vanaf sy debuut met Boomplaats (2005) die aandag getrek as ‘n opwindende digter wat op ‘n slim wyse werk met intertekste. Toe kom die tweede bundel Kaplyn (2007) en hy maak van die intertekstuele spel iets verregaande en uitdagend. Hy verskaf vooraf woorde, nee eintlik spore, waarmee die leser die bundel moet benader. Daar is selfs ‘n woordelys agterin om vreemd-klinkende en mediese woorde te help verklaar in die leesaksie wat ‘n kaplyn is. (En ‘n kaplyn is ‘n boomgesleepte skoon stuk grond tussen twee vegtende lande, spesifiek met die intensie om spore wat op die kaplyn kruis op patrollie raak te sien.)

Die jongste bundel heet Oogensiklopedie. Ons vind weer ‘n woordelys wat begrippe verduidelik Griffin lei ons na Ondaatje, die seun van Michael (wat op die voorblad verkeerd gespel word).

Die verduidelikings / endnote help dus die leser om die gedig oop te maak en as’t ware vanuit die digter se bedoeling te lees. Ons het dus die inhoudsopgawe – op die voorblad soos by Loftus Marais se Staan in die algemeen nader aan vensters – en dan die gedigte met die verklarings (aangegee as “woorde”). Die oog as I /eye is alreeds ‘n gelade simbool. ‘n Mens dink hier (onder andere) aan Luis Bunuel en Salvador Dali se Un chien Andalou waar die kyker sien hoe ‘n oog deurgesny word. Hierdie surrealistiese kultusfilm is vir my ‘n persoonlike kode by die lees van hierdie bundel waar die leser as’t ware van gedig na nawoord blaai, net soos in die film bekend om sy opheffing van ‘n kontinue ervaring.

Gibson stel dus bepaalde eise aan die leser, omdat sy gedigte nie volgens konvensies werk nie. “another roadside attraction” aktiveer onder andere Tom Robbins se kultusroman uit 1971. Dit is ‘n roman bekend om die non-liniêre progressie en in die gedig word die leser gekonfronteer met ‘n bloedige einde: ‘n gesin word uitgewis en “ingelyf” by ‘n vervoerwa weens ‘n kind wat ‘n balletjie gooi. Die pa se aandag word afgetrek: hy het sy oë neergeslaan.

Al die geledinge rondom die oog word in hierdie bundel in ‘n komplekse simbool-struktuur geaktiveer: sikloop, katarak, sien / kyk, sluiter, versluier, blik, wenkbroue, wimpers, oogknip, oogvog, pupil, sig, blind (onder andere is daar ‘n gedig oor Borges)  ….

Dit is ‘n digterskap waarin daar dikwels besin word oor die rol van die digkuns:

Die woord met lug ‘n droom besleg
wat die donker van winter
nes ‘n voortdurende gedig
die beste vir later verberg (89, “sikloop”, ii).

Hierom dan ‘n woord in die kantlyn wat die leser moet neem na ‘n direkte verwysing of assosiasies oopmaak in die gemoed. Derrida se en marge kom dikwels hier ter sprake (skrywe) en die spel met tekens, nawoorde, die bewuswees van die woord se signifikasie, betrek Of Grammatology. Tekens, woorde, betekenisse. En wat uiteindelik nie opgevang kan word nie. Die digter wat wag op ‘n droom (“seiko seahorse”, 81, op ‘n gedig, op “closure” / sluiting.

Die gedigte beweeg tussen hoogs emosionele verse en gedigte wat intellektueel in beheer is. ‘n Gedig wat ‘n mens altyd sal bybly is die vierde gedig uit “sikloop”:

‘n man met ‘n katarak aan die een kant
loop in  die tuin    sy naam is samuel,

maar hy lyk soos simon die houthakker
sy vlaktepredikasie is oor leaves of grass

soos die toesegging van ‘n plaasskool
lê sy voete die dubbele standaarde neer

sy oog loer omkors met sout
die wang ‘n goedhartige

in die tuin is azaleas versigtig versprei
nes diasporas van afrikaners in’n ander land

hy reis tot waar die beddings verval tot wit
die sterjasmyn tot waar die struike

tot niks verdwyn, en die faulkners nog woon
in die moeë middel van die mississippi:

op vrydae sit Samuel die swart
sakke uit

“Ek onthou jou dus behendig / gephotoshop teen die dood” (124) is van die ongelooflike beelde wat die digter gebruik. ‘n Baie sterk motief in hierdie bundel is die talle verwysings na die religieuse. In die slotgedig “wat die mens” (130) word daar duidelik ingespeel op die Bybelse gegewe, maar dit word hier verdraai na die moderne mens met al sy ellendes en angste. Dit is asof die digter in hierdie bundel besig is met ‘n bestekopname van sy jeug en as’t ware sy lewensfilosofie van nou probeer bepaal teen dit waarmee hy groot geword het.

Oogensiklopedie is nie ‘n maklike bundel nie. Dit gee nie sommer sy geheime prys nie en die talle kruisverwysings maak van die bundel ‘n besondere ryk tapisserie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]