Monday, January 21, 2013

Kleinboer - Werfsonde (2012)




Kleinboer. Werfsonde. Umuzi, 2012,

Resensent: Joan Hambidge

Eers was daar Werfjoernaal van FA Venter. Toe kom Alexander Strachan se Die werfbobbejaan en nou het ons Kleinboer se tweede roman, Werfsonde. Kleinboer het met sy debuut, Kontrei, die tonge los gehad en die Rapport-debuutprys verower. Tereg ook, want hy kán maar, soos hulle sê. Ons het ‘n voorblad van Anton Kannemeyer met ‘n (herkenbare) outeur wat kyk na die liggaam van ‘n naakte swart vrou.

Kannemeyer se voorblad is al ‘n kode vir die subversie van die gegewe – nes die geval is met Catherine du Toit se vertalings van Houellebecq waar ons ‘n blasende bul kry in die vorm van Houellebecq, die anargis en supermark Baudelaire.
En dis presies wat hierdie vertelling doen. Dit vertel die naakte waarheid van die lewe van ene Fanie / Kleinboer wat werk as ‘n sub by ‘n landboutydskrif. En hy vertel die storie van sy lewe. Die leser beleef die outobiografie van die outeur, afgewissel met fiksionaliserings daaromheen. Hy vertel vir ons alles in die kleinste besonderhede: hoe hy sy geliefde se liggaam beleef, intimiteite tussen hulle en veral die verskillende aannames oor swart en wit in hierdie land. Met eindelose humor en gevathede: soos dat dit nie ‘n Piet Retief-oomblik is wanneer hy tussen swart mense verkeer nie.

Op bladsy 213 word daar verwys na Jonathan Franzen se The Corrections en hoe die verteller lukraak die boek op enige plek oopmaak en verder lees. Dit is ook op hierdie teks van toepassing: jy kan dit op enige plek oopmaak. Dit is soos ‘n joernaal van ‘n “naked I” wat alles om hom registreer: sy vrou, sy kind, die huidige Suid-Afrika.

Hy beskryf Johannesburg – wel ‘n swart Johannesburg – en die roman eindig met ‘n besoek aan die landelike Hopewell. Hier is ook blaffende honde, maar hy maak oorproppies om die gekef af te weer. Nie met sukses nie.

Dis ‘n vertelling wat ‘n tydsdokument is. Kleinboer se oog vir die klein besonderheid maak van hierdie boek iets waardevols. Ons beleef hoe hy op ‘n minibus ry met Lungi en Jomo na Pietermaritzburg, ‘n bus wat eers vertrek wanneer al 15 sitplekke gevul is.

Dis ekstreme realisme, hierdie joernaal. Die naked I, die oog wat soos ‘n kamera Zuma op ‘n plakkaat waarneem en sonder oordeel die politieke werklikhede van die (nuwe) Suid-Afrika registreer. I am a camera het Christopher Isherwood geskryf. Dis ook van toepassing op Kleinboer.

Hy beskryf homself as ‘n tref-en-trap-man (228) en dis hoe jy hierdie roman moet benader. Daar is wonderlike beskrywings soos: “Ek het die skaamheuwel-blues.” En: ”Babelas is ‘n brein met voggebrek; jagsheid is ballas met vogoorvloed” (227).

Dis nie ‘n boek wat ‘n mens wil aanbeveel vir die teerhartiges nie. Maar dis ‘n lekker boek!

[Hierdie resensie word afgedruk met vriendelike vergunning van Fine Music Radio & die resensent.]