Wednesday, January 30, 2013

Johann de Lange - Judasoog (2010)



Johann de Lange. Judasoog: ‘n Keur uit die gedigte van Johann de LangeHuman & Rousseau, 2010.  ISBN 978 0 7981 5149 8.

Resensent: Joan Hambidge

Akwarelle van die dors. Dit is nie alleen die titel van Johann de Lange se debuutbundel nie, maar dit is hoe ‘n mens hierdie ryk geskakeerde digkuns kan tipeer. Dit is ‘n digkuns van die paradoks, van onvervulling en juis hierom is daar ‘n intense belewing van die oomblik en die skoonheid in verval. ‘n Mens sou De Lange se poësie onder verskillende noemers kon plaas: die verhouding met die gestorwe vader wat soos ‘n herhalingsdrang deur die hele oeuvre beweeg (die digkuns en prosa), die gesprek met Ingrid Jonker, Sheila Cussons en N.P. van Wyk Louw. 

Die digter word (verkeerdelik) tipeer as gay-digter. Hy het van die sterkste verse oor hierdie tema in Afrikaans gelewer (veral in Nagsweet), maar De Lange het ‘n Januskant. Hy is sowel cruiser, gay-digter as besinger van die skoonheid. Hierom die gesprekke met en herdigtings van o.a. Dickinson, Baudelaire, Rilke, Auden, Edmund White; nader tuis, Opperman, T.T. Cloete, Ina Rousseau, Wilma Stockenström, o.a.

Henning Snyman skryf op die agterblad tereg: Binne die geestelike diepgang van sy verse kom die beeld ágter die beeld te voorskyn”. Dit is ‘n raak opsomming van die besondere beeldvermoë.

Wat hierdie bundel uiters waardevol maak vir die waarderende leser, is die handvol nuwe verse wat ook opgeneem is in hierdie keur. Hier vind ons openlike gay-gedigte (die een is ‘n versweë antwoord aan ‘n ander digter) en ‘n lieflike vers oor Marilyn Monroe. Daar is ‘n vers oor Golgotha waarin die digter die moderne tegnologie aanwend soos google, sms, twitter, blog, ensomeer om te probeer bepaal hoé die moderne media-behepte mens sou reageer op die fenomeen Jesus Christus.

Bekende digterlike temas tref ons hier aan: die liefde, dood, kortstondigheid van ons bestaan, die verhouding met die werklike en digterlike ouers, die “naakte algebra” van die gay-bestaan, gedigte oor dwelms en Vigs, verse oor ikone (soos Monroe, Kurt Cobain) ensomeer. ‘n Mens is opnuut onder die indruk van die digter se besondere vermoë om die gedig op ‘n sekure slot af te stuur:

Ek soek in die falende lig
na die slot van my gedig (126, “Slot”)

Hier gebruik die digter die wêreld-van-die-digkuns om die werklike lewe te beskryf, iets wat regdeur die oeuvre loop. Die intratekstuele en intertekstuele aanslag kom nou helder na vore en in ‘n keurbundel kry gedigte dikwels ‘n nuwe betekenis, omdat hulle nou langs ander verse lê.

Die Judasoog van die bundel betrek nie alleen die eksplisiete seksuele verse soos “Loergat” (uit Nagsweet) nie, maar aktiveer die posisie van die leser as voyeur wat die private bestaan van die digter betree. Trouens, jonger navolgers van De Lange het beslis nie die vermoë om die eksplisiete en selfs transgressiewe beeldgebruik so oortuigend te gebruik nie. Die digter kan nooit van kitsch of grillerigheid beskuldig word nie, al dig hy oor reeksmoordenaars wat tot simbole verhef word.

Selfs die gebruik van die plat woord (soos in “Tongnaai 2”) word metafories so in beheer gehou dat ‘n mens net jou hoed kan afhaal vir die digterlike energie.

Wordende naak en Nagsweet, uit 1990 en 1991 onderskeidelik, bly my twee gunstelingbundels. In die middel van die oeuvre – en al die ander bundels voorspel en keer weer terug na hierdie twee suiwer bundels. Die Orpheus-mite is ‘n belangrike sleutel vir die begryp van hierdie digkuns met sy vele “correspondances” en “blomme van boosheid”.
Van die Tierra del Fuego tot aan die ysvlaktes van Groenland, van die Kaap tot Wladiwostok, vibreer hierdie gedigte met hul fyn toespelings op die Griekse mitologie en ou wyshede. “Daar is geen einde aan die skep van tekste nie,” lui die motto uit Prediker 12:12.

Johann de Lange is eweneens ‘n begenadigde vertaler (soos sy vertalings van Stockenström bewys het) en ‘n besóndere kortverhaalskrywer.

Maar dit is in sy digkuns waar ons onder die indruk kom van ‘n suiwerheid:

Die sagste wat ons het, die taal,
bestaan solank ons asemhaal. (“Taal”, 123)

Hierdie digkuns is bekroon met die Ingrid Jonker- en Rapportpryse.

Sy oeuvre word feitlik ‘n register van emosies, fel en diep, skryf Snyman. En dit is presies hoé dit is.

Beeld-kyk

Net die oog: ooglidloos
en ingedagte in marmer,
‘n gaatjie geboor
om ‘n soort pupil
– paradoksaal, want: pupil
is juis nie gaatjie nie,
maar: ‘n soort anemoon
met sluitspier kompleet –
te simuleer. En juis
die gaatjie: die gaatjie
gee jou daardie kyk,
daardie serene uitdrukking,
en is die verskil
tussen jou en my:
jy: soos klip,
ek: soos anemoon.

(uit: Akwarelle van die dors, 1982).

Die digter het self die verse gekies; ek sou waarskynlik nog bygesit het!

Human & Rousseau se projek om keurbundels vir belangrike digters te gee, moet beslis aangeprys word – nes ‘n mens die wingerd prys.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]