Wednesday, January 30, 2013

Kobus Lombard - Vlerke vir ‘n Houteend (2010)



Kobus Lombard. Vlerke vir ‘n HouteendProtea Boekhuis, 2010. ISBN 978 1 86919 354 6.

Resensent: Joan Hambidge

In 2001 het hierdie digter gedebuteer met Geknipte naelstring en hierna het Tussen wysvinger en duim in 2005 gevolg. Die jongste bundel Vlerke vir my houteend het soos die vorige bundel eweneens by Protea Boekhuis verskyn. Die digter gebruik gestroopte, sober taal en veral die Namibiese landskap kom aan bod in hierdie digkuns. Gedigte oor die geloof is ‘n verdere tema en in die uitgewershuis se publikasieverslag word daar geskryf dat die digter in sy tweede bundel die liefde vir sy aanneemma verwoord en die moeder wat hy nooit geken het nie. Die derde bundel het hierdie leser begin lees sonder hierdie voorkennis en ek is van mening dat die leser nie nodig het om kennis te neem van hierdie outobiografiese gegewe nie.

Lombard skryf ‘n eenvoudige vers met min woorde, maar in die “eenvoud” is daar dikwels ‘n geladenheid opgesluit. Ek het die gewoonte om ‘n digbundel van agter na voor te lees en dan weer van voor na agter. Op hierdie manier kan jy dikwels die konstruksie van die bundel op sy kop draai of deur ónbedoelde motiewe of saamgroeperings breek. Die slotgedig in hierdie bundel is ‘n vers wat waarskynlik ‘n sleutel verskaf vir vele verse in die bundel. Dit heet “Ma se erflating” (78):

in jou vulpenadres
kan ek my ‘n kamer verbeel
in jou silwer poeierdosie
kan ek partikels
van jou lyf vermoed
selfs die brei in jou stem
is tegnologies bewaar

maar hoe streel ek
die swart van jou hare
agter die glans van ‘n foto (78)

En vele gedigte probeer hierdie toestand-van-die-onmoontlike besê. Die gedig bring dus ‘n soort versoening tussen die gevoel van verlies of nostalgie en die werklikheid. In die titelgedig word daar ‘n ars poëtika vir die leser gegee waar die idee van die houtkerwer se werk gelyk gestel word aan die digterlike proses (42). 

Vir my is die mooiste en aangrypendste verse in hierdie bundel gedigte wat handel oor die verhouding met die moeder, daardie primordiale verhouding wat ons almal se identiteit bepaal. In die psigoanalise word daar ook gekyk na die verhouding tussen digterlike taal en die moederbuik; ‘n mens dink hier veral aan die teorieë van Julia Kristeva. Wat dus ‘n vers oor die moeder is, kan ook gelees word as ‘n gedig oor die skryfproses en die onvermoë (waarmee vele digters worstel) om dit wat buite woorde lê, onder woorde te bring.
Daar is ‘n handvol gedigte in die bundel wat onthoubaar is, soos “Eenrigtingkaartjie” (67):

met die vertrek van my reisgenote
staan ek telkens voor die eenrigtingglas
van dié eenmanvertreksaal
geen oproep om aan boord te gaan
geen digitale flikker
oor die beplande tyd van aankoms –
die bestemming, so sê die reisbrosjure,
het strate van goud, engelekore
en ‘n stadspoort van opaal

dog vir hierdie enkelreis
bly ek tot die dood toe bang

Die moontlikhede van die skryfproses word ontgin: so byvoorbeeld in die gedig as ‘n “briefwisseling”verander die letterlike brief verander na e-pos, maar lewer ook kommentaar op die intieme aard van die skryfproses.

Vanaf die debuut tot nou, is daar groter selfvertroue by die digter opmerklik. Dit is ‘n beskeie bundel, maar in die eenvoud en suiwerheid aangrypend en belangrik.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]