Thursday, January 24, 2013

Elias P. Nel - Bek sonner brieke (2010)



Elias P. Nel. Bek sonner brieke. Protea Boekehuis, 2010. ISBN 978 1 86919 460 4.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Goeie rubriekskrywer is soos goeie port. Jy proe-proe daaraan. Rubrieke verskyn dikwels in dag- of weekblaaie met ‘n rakleeftyd. Hierna bundel die skrywer dit onder ‘n titel. Die meeste is egter tydsgebonde en dikwels skryf rubriekskrywers net te lank sodat die fut sommer gou uit is. ‘n Mens kom die resep of patroon agter en dan werk dit nie meer nie. ‘n Goeie rubriekskrywer is ‘n stilis, ‘n kenner op sy gebied (soos Melvyn Minnaar oor wyn) of ‘n lewensgenieter of satirikus (Chris du Plessis). ‘n Rubriekskrywer het ‘n bepaalde gehoor (en aanhang) en word dikwels in sy of haar tyd ‘n mini-legende (soos Madeleine van Biljon of L.I. Bertyn). ‘n Goeie rubriek is soos ‘n essay: elke woord afgemeet met ‘n idee of lewenswaarheid wat lank na die lees nog in die gemoed draal. Hier is Wilhelm Jordaan die meester. ‘n Goeie rubriekskrywer skryf oor motors sodat die motor ‘n persoonlikheid kry en ‘n reisskrywer transporteer jou na daardie vreemde, eksotiese plek. En kosskrywers moet jou onmiddellik ‘n dis laat próé.

Boonop moet ‘n rubriekskrywer betyds besef dis tjailatyd en ‘n redakteur moet weet wanneer die bottel port begin leeg raak. Fynproewers kan onderskei tussen goeie en swak port.

Die rubrieke in Bek sonner brieke van Elias P. Nel het oorspronklik in Taalgenoot verskyn en word op die agterblad geloof deur Frank Hendricks en Abraham H. de Vries. Oom Goltros word vergelyk met oom Schalk Lourens en Toon Prens. Allersoetste omgangsafrikaans word hier gebruik en die boek is vir die fynproewer. Binne verskyn postmodernistiese prentjies.

Die verhale is eerlik-komieklik in praat-Afrikaans geskryf en wat waarskynlik veral sal bekoor as as dit voorgedra of voorgelees word.

Wyshede is daar soos die ou tante wat gaan kla het oor die ouderling se onwelvoeglike voorstel: “Die broer hette onpraatlike praat met my gepraat”.

Ek is duidelik nie die teikenleser hier nie.

Dit mag egter in ander se smaak val en veral taalkundiges, meen ek, sal oneindige plesier hê aan die taalverskynsels soos innie, hierie, baisekel, tjeeners, allie, oppe, assit, pambeer, eniklik, bawwetjies, ensomeer.

Die vertellinge werk telkens met ‘n luisteraar wat dan uiteindelik gefnuik word.
Gun elke diertjie sy soort drienkie. Oom Goltros (Goliat Tross) is die verteller wat jou sommer met die hele vark gooi. Prettig die misverstande rondom woorde. Lekker Hanepoot het ons hier vir die “werrie symste leser” uit die “gorra”. Die skrywer is ‘n boorling uit Verneukpan.

[Hierdie resensie het vantevore in Media24 verskyn.]