Monday, January 21, 2013

Ilse Salzwedel - Onvertelde stories van Afrikaans (2012)




Ilse Salzwedel. Onvertelde stories van Afrikaans. Lapa Uitgewers, 2012. ISBN: 978 0 7993 5637 3.

Resensent: Joan Hambidge

Sopas lees ek die jongste digbundel van Hennie Aucamp Teen die lig (Protea) waarin hy outydse woorde afstof en aan die vergetelheid ontruk. Net hierna land Ilse Salzwedel se Onvertelde stories van Afrikaans, ‘n stuk kultuurgeskiedenis, op my lessenaar en ek dink: hoe wonderlik dat daar mense is wat met onverdrote ywer skryf oor die papkoejawelwals, die riel en dat Afrikaans nie net aan “wit” mense behoort nie. Gaan lees sommer weer Hans du Plessis se Griekwa-Psalms en ons praat weer. En vra jouself af: is dit nodig dat ons Engelse woorde in gedigte indra as ons sulke lekker woorde soos beduimeld, smeuïg, adret, vedel, onverhoops, boen, liemaak, buryn, baroe, ensomeer kan gebruik?

“Askoek! Die verhaal van die riel” aktiveer ‘n lekker uitdrukking soos die son sal vir jou vrek brand as hy jou vandag alleen kry.

Elias P. Nel, verneem ons, het die riel weer laat herleef en Salzwedel gee sonder om skooljuffrouagtig te raak, ‘n plesierige oorsig van die riel en “uitdansery”. Lekker lirieke en egte volksgedigte soos “Bokkie, jy kan maar rol soos ‘n bol, maar na my toe sal jy weer kom hol” maak dit verder plesierig. Ook hoe die riel werk, naamlik ‘n liefdesdans waarin voëls nageboots word, is uiters leersaam. Die oorsprong kan teruggevoer na die Khoisan wat ‘n sirkeldans uitgevoer het om ‘n goeie oes of jagtog te vier. Die Skotse immigrante se “reel dance” had eweneens ‘n invloed, maar die riel in die woorde van Elias P. Nel, kom uit die aarde. En wil jy meer weet? Gaan koop hierdie boek! Oor swart Afrikaners, Duitse wesies, Namas en wat nog.