Wednesday, January 23, 2013

Mari Grobler - Toe dit nog vroeg was (2010)



Mari Grobler. Toe dit nog vroeg was. Tafelberg Uitgewers, 2010.

Resensent: Joan Hambidge
                                                                     
Hierdie bundel het bykans ongesiens verbygegaan. Dis ‘n baie mooi bundel waarin die digter veral die San-wêreld ontgin – met woordverklarings en voetnote. In “Winter”(35) word die liefdesvers nuut aangepak binne die wêreld van die San. Die gedigte klink outentiek op en getuig van deeglike navorsing. Maar die navorsing bedreig nie die gedig nie. Die primordiale bestaan van die San word beeldend vergstalt. “Jy’s mooi” (38) vang die inkantatiewe aard op van’n bestaan onder die gounja (maan).

Die afdeling “Storie” handel weer oor die intiem-persoonlike waar ‘n geliefde afgestaan is aan die dood. Die verbeelde, mitiese gegewe word dus hier deel van die digter se bestaan:

sy mag nie ‘n dooie volg
                  sy drome wakker maak nie
omdat afreis van spore glo
onsigbaar is (57)

Die een voetspoor op die bundel word dan ‘n klein ikoon binne-in die teks waar ons twee voetspore vind – met die leser as ‘n spoorsnyer.

Die bundel praat met die hele tradisie van die San, nie net met die Afrikaanse tekste nie, maar ook met Stephen Watson se Return of the moon. Veral Eugène Marais se boesmanverhale word hier geaktiveer en die herdigtings van Antjie Krog word ook opgeroep. Grobler gee egter haar eiesoortige interpretasie van die gegewe. Sy werk met min woorde, helder beelde en die verse het beslis ‘n sjamanistiese kwaliteit. Daar is enorme skoonheid in hierdie eenvoud opgesluit. In spaars woorde neem sy jou terug na al die debatte oor hierdie gedigte, onder andere die kwessie van besit/appropriasie. Aan wie behoort hierdie tekste van die San? Daar was al woedende en onverkwiklike debatte hieroor.

Die Bleeks is die opskrywers en hierna het die tekste allemansgoed geword. Elke digter wat uit hierdie bron kom skep het, gee ‘n eiesoortige interpretasie aan die teks. En dis tekste wat alreeds afgelei is. Mari Grobler gee myns insiens ‘n oorspronklike en nuwe spin op hierdie tekste.

Reënman

Kxau, eienaar van stories
het droom geword, hy lê alleen
in ‘n skuiling met sy bene na die ooste

hy rus in ‘n diep graf tussen rotes
met ‘n waterskilpaddop gegraaf –
hy kom steeds as dit reën    (70)


“naglig”(16) is onthoubaar mooi met die slot:

hy verstaan die taal wat kwartels
deurnag met wyfies
onder ‘n volmaan praat

Daar is mooi en sterk beelde (soos “Die volstruis laat my vlug met die wind van voor. // Hy wat soos weerlig skop” (26) of

die maer hart
ná laaggety,
‘n leë poel  (13)

Dis so jammer hierdie bundel het ongemerk verbygegaan, want dit verdien beslis meer aandag. Dis goed om binne die intellektuele tradisie ook hierdie soort gedig te lees wat sterker op die emosies aanspraak maak.

Xô! Dis ‘n mooi bundel. 

[Hierdie resensie het vantevore in Die Volksblad verskyn.]