Deel XII
Kom ons praat sommer padlangs. Santiago de Chili verskaf beslis nie aan my
die frisson van Buenos Aires presies ‘n jaar gelede nie. Dis ‘n meer
genadelose stad en een sonder tierlantyntjies. My hotel is in die
Lastarria-buurt en met The Singular is daar beslis nie fout te vinde nie.
Stede het persoonlikhede. Soos mense het hulle ‘n aura. Jy kan dit aanvoel
in die ongesegde dinge. Die kos is goed. Die wyn fantasties. Die bier yskoud.
Maar daar is nie daardie vibe wat jou oorrompel soos in Buenos Aires
nie. Miskien gebeur dit nog ...
Ons besoek die museum van herinnering (Museo de la Memoria y los Derechos Humanos), ‘n museum wat alle
mensregteskendings veral in Chili aan bod bring. Letterlik op ‘n nugter maag is
dit te veel om te aanskou, hierdie politieke verskrikkinge. President Bachelet
het die museum geopen in 2010 om die verskrikkinge van die Pinochet-regering
tussen 1973 - 1990 aan die kaak te stel. Bachelet het self gely onder die
diktatorskap van Pinochet.
Die ingangsportaal is ‘n foto-installasie róndom die verskillende lande op
aarde waar menseregte geskend is. Die mag van die foto – wat direk en vinnig
kommunikeer (aldus Susan Sontag), word in verskeie video's vir die kyker
benadruk. Bevryding en onderdrukking. Die kil oë van ‘n soldaat wat ‘n
insurgent kwatswink slaan, bly my by. (Museum of Memory and Human Rights - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek
31 Desember 2015).
Neruda se huis La Chascona – ter ere van sy geliefde Matilde – bevat vele
replikas van die huis uit Isla Negra. Nogtans is dit goed om weer alles te
sien. Die huis roep vergelykings op met die twee ander huise wat ek besoek het
en vir my gevoel is die een op Isla Negra die primordiale huis, daardie huis
met sy studeerkamertafel gevis uit die see!
Ons is vroegoggend daar, maar daar is soveel toeriste dat die tou lank is.
My gids hou plek, terwyl ek notas neem. Jy mag helaas geen foto's neem nie, maar
ek neem wel, met toestemming van een van die bestuurders, ‘n foto van die
binnehof.
Nou is dit lunch in El Galeon. Ons moet deur die vismark stap en die reuk
van vars vis is oorrompelend. Heerlike vis (Corvine / seebaars) met aartappels
en vars tamatie. ‘n Klein orkessies sing Italiaanse liedjies en loop met ‘n
hoed rond vir footjies.
Dit is warm. Buite baai mense in fonteine en drink water selfs uit die
spuitende fonteine.
In die laatmiddag is dit wandel in die buurt. En hier val ek in by ‘n
klein restaurantjie Les Assassins regoorkant my hotel. Frans. Die
eienaar se vader het ‘n duur restaurant gehad waar Neruda graag geëet het.
“Andersoortige Kommunis, daardie man,” meen die eienaar, ”lief vir duur
wyne en goeie kos.”
Hy vertel van Allende en die vriendskap met Neruda. En Allende se
selfdood. Ek vertel vir hom van die verskillende representasies van Allende se
dood; dat sommige meen dit was ‘n sluipmoord.
Vertrek waar die Chileense President Salvador Allende na bewering selfmoord gepleeg het tydens die 11 September 1973 militêre coup.
“Nee, nee. Hy het hom self geskiet met ‘n geweer wat hy as geskenk gekry
het van Fidel Castro. Ek vertel jou: dit ís hoe dit was. Dit was sy einde
tydens die coup. Hier in my plek het ‘n Suid-Afrikaner gereeld kom eet. Ek het
sy naam vergeet. Hy is ‘n baie ryk man ... sy naam ontgaan my skielik. Miskien
as jy weer kom, sal ek dit onthou.”
Ek vertel hom van die verskillende landskappe wat ek meegemaak het. En van
die wyne wat ek gedrink het op die verskillende plekke.
“Gelukkig skryf digters gedigte ten spyte van hul ideologie of politieke
idees,” sê ek vir hom. Iets wat ek geleer het by my beste digtersvriend.
Ek drink ‘n glas Montes Alpha Reserva (Cabernet Sauvignon).
More is dit die einde van die jaar.
Ek werk aan my bundel Indeks en
sien teen ‘n muur staan: Indexa.
La Serena
Bykans dieselfde ligtorings
die oseaan se geklots
‘n roepende voël
die natuur se muurpapier
verander niks aan
die binnelandskap
van vertrek of onthou
toe ons saam ‘n ligtoring
kon besoek voor jou weggaan
na ‘n ander oord
- in die volksmond die dood -
en hierom vermy ek
begraafplase of ruimtes
waar die ontslapenes
onder blomme
doodluiters
uitgestrek lê.
Ons hou nog soms
kajuitraad in drome
wanneer jy woordeloos bely,
jy mis my. Maar as daar
geen woorde meer is nie,
hoe weet ek wát jy uiter?
Die ligtoring in die donker nag
sein jou verlange na my uit
wat in die lewe staan.
Maar dit is ek
wat jou mis,
flikkerende
baken in die nag.
Jy is buite woorde, buite tyd.
Jy is buite woorde, buite tyd.
© Joan Hambidge