Deel X
Vir oulaas
na die hotel. Die kroegman gee my ‘n afskeidsbier op die huis. Sy kroegmaat het
gisteraand ‘n hele skinkbord met cocktails laat val.
“Kan ek
help?”, het ek die geskokte man gevra, wat moes opmop.
“Nee,
toemaar, senora.” Hy lyk verleë en die wagtende Duitsers lyk ongeduldig.
Toe ek
halfses die hotel verlaat vir die twee ure rit na Punto Arenas, stap hy na my.
“Vir jou,
senora.” Hy oorhandig ‘n duur bottel Reserva spesiaal gebottel vir die Australis-hotelgroep.
Ek bedank hom vir die gul geskenk.
Lieflike
personeel. ‘n J&B-single word sommer ‘n driekamp. Deure word galant oop- en
toegemaak; ‘n serp word opgetel. As die koffie koud is by die ontbyttafel, maak
die bestuurder vars koffie net vir jou.
Ek verlaat
Puerto Natales en ry vir twee ure na Punto Arenas. Ons ry verby ‘n plaas wat
heet Monte Alto, die naam van my huis en ek weet ek hoort hier!
In die
groen weilande wei skape, perde en koeie. In ‘n gehuggie staan daar ‘n ambulans
voor die aanklagkantoor. ‘n Kafeetjie se ligte brand.
Ek drink
die landskap in. Wanneer ons by ‘n dam verby ry, sien ek hoe koud dit is. Die
brandertjies verklap winter. En Punto Arenas is ysig.
Die aand
drink ek van die Reserva ‘n glas en gee die res van die bottel vir die portier
wat uiters dankbaar en bly is.
Opvallend
van hierdie reis is hoe mense my “agtervolg”. Stap ek in by ‘n nuwe hotel, vra
iemand was ek ook nie op daardie plek nie.
So raak
hulle ou onbekende-bekendes.
Sosioloë
beweer mos mense soek mekaar spontaan op. Op treine sit dieselfde mense langs
mekaar, asof hulle onbewustelik mekaar “herken”. Vanoggend op pad na La Serena
en dan finaal Santiago, sien ek vir Olga op die lughawe. Heerlik met haar
gesels op ‘n koue, nat oggend oor hoe sy as Mexikaan Santiago ervaar.
Gebed van ‘n
reisiger
Die
sneeutoppe van die Andes,
‘n kormorant
teen ‘n seekrans,
‘n swewende
valk in die blou lug,
weet ek, hoe
geseënd om ‘n landskap
met die oog
te skandeer en dan te vertolk
in woorde, in
‘n ander tongval ritmies,
volgens die
hartslag van my aard.
Ook die
sonsondergange en maans-
veranderinge
registreer ek in ‘n skets,
die blote
onthou, ter wille.
Sneeu, son,
maan, water, lug,
kormorant en
valk ...
Niks was
toevallig dalk?
Soos dit nou
maar altoos met reis gesteld is, moet jy keuses maak. Jy kan eenvoudig nie
alles in ‘n land ervaar of besoek nie. Sou graag Easter Island (Rapa Nui) wou
meemaak, die vulkaniese eiland in Polinesieë, met die ongeveer 900 standbeelde.
Klipaltare (ahus), hierdie groot menslike figure en hul groot koppe.
Een van die
grootste opelug-museums op aarde.
Maar met al
die reisonsekerhede en -stakings moes die weermag ingryp en mense met ‘n weermag-vliegtuig
na die eiland neem. Verder, vertel my San Francisco-mede-reisiger, was hulle
daar vasgekeer weens die stakings. Sy wys selfs foto's hoe hulle in die weermagvliegtuig
langs die bagasie sit.
So my hele
reisplan sou ontwrigting in die gesig staar. Moes ‘n muntstuk opgooi: Wynlande,
Neruda, Huidobro en Mistral se huise en die gletsers (met natuurskoon) in
Puerto Natalis Of Rapa Nui en snorkel in die pragtige oseaan ...
Kruis of
munt?
Reis het
eweneens ‘n spyskaart – en jy moet kies ...
Terwyl ek
hierdie inskrywing maak op pad na La Serena, onder andere om Gabriela Mistral
se huis te besoek, lees ek van Randall Wicomb se dood, hy wat so mooi “Dans metdie rooi rok” kon vertolk met sy gewese vrou, Koba.
Nou draal die
wysie in my kop ...
Dans met die rooi rok, die hartlam van my.
Dis die rooi rok, dis die mooi rok, dis die rooi rok wat
waai.
Dawid de Lange se orkes, Haai! Haai!
Dis die rooi rok, dis die mooi rok, dis die rooi rok wat
swaai.
Nou dink ‘n
mens – sommer om opstropperis te wees – het die vertaling van die liedjie
dieselfde krag as die oorspronklike?
En hier op
pad na La Serena weet ‘n mens presies wat die woord hártstaal beteken.
La Serena snags
Ek neem foto's van die Andes en dink dat een van die hoogtepunte in my lewe die besoek aan die gletser was. En daardie whizza met geltser-ys, veral.
Ek kyk uit op
die lughawe in Santiago de Chili vanuit die vliegtuig en sien hoe my tas
ingelaai word. Dankbaar dat die tas nie agterbly in Santiago nie, maar saamreis
na La Serena. Ek herken my tas aan sy blou sekuriteitssleutel.
Dis immers
een van die nagmerries van reis: dat jou tas agterbly op ‘n lughawe of na die
verkeerde bestemming versend word. Veral die Amerikaners op hierdie reis vertel
hoe die tas wegraak en dan ‘n paar dae later eers opdaag.
Wanneer ons
vlieg, sien ek spore op die berge. Is dit dalk van die gode, soos Von Däniken
beweer het oor die gode se besoeke aan Peru en hier? Daar draal rook uit ‘n
bergtop.
Sou wat wou
gee om ‘n vulkaan te sien ontplof – van ver af deur ‘n vliegtuig se venster.
Die laaste
drie dae was vol met avonture en ek is nogal lodderoog wanneer ek in La Serana
aankom in ‘n soort oord wat herinner aan die een in Acapulco. Mense lê langs
die swembad. Nou is dit eers uitpak en gewoond raak aan die nuwe kamer.
Die wifi
werk. Maar helaas is daar geen water in die kamer nie. Ek moet dit in die
restaurant gaan koop en boonop geen prop vir die bad nie. Die recepcion beveel
ek moet stort, en basta. Dis hoe dit hier is.
My gids
vertel ek moet more ontspan. Dan neem sy my Dinsdag na Gabriela Mistral se huis.
En dan die Elqui-vallei.
Vanaand gaan
ek vroegerig inkruip.
© Joan Hambidge