Wednesday, December 16, 2015

Filmresensie: Joan Hambidge skryf oor Carol (2015)

Rooney Mara & Cate Blanchett

Met Cate Blanchett, Rooney Mara, Sarah Paulson, Kyle Chandler. Regisseur: Todd Haynes

Die film Carol, bekwaam geregisseer deur Todd Haynes, ondersoek die liefde tussen vroue. Die film is oor 'n periode van elf jaar geskiet.

Britte en Amerikaners het hierdie projek saam ontwikkel. Vicki Christina Barcelona en Julia is intertekste.

Vir ons doeleindes: Cate Blanchett is hier. Een van daardie vroue met 'n vreemde skoonheid, wat aberrasie goed kan vertolk soos in Woody Allen se Blue Jasmine.

Die ontmoeting tussen twee vroue, Carol en Therese, vind plaas in 'n speelgoedwinkel wanneer Carol (Blanchett) vir haar dogtertjie 'n pop wil koop vir Kersfees. Die winkelmeisie stel 'n treinstel voor.

'n Lesbiese verhouding ontwikkel tussen haar en die jonger Therese, wat haar agtergelate handskoene terugbesorg.

Dis New York in die vyftigerjare. Kerstyd. 'n Ryk, welvarende vrou wat 'n jonger meisie se lesbiese aard ontdek. Dis 'n film van ambivalensie. Carol se vorige verhouding met 'n vrou maak haar man jaloers. Hulle staan op skei. Die man ontsien nie vuilspel wanneer hy 'n speurder aanstel (wat poseer as 'n verkoopsman) om hulle te agtervolg op 'n ontvlugtingsreis wég van NY nie. Daar is 'n eertydse minnares wat biegmoeder en redder speel.

Die film werk met heteroseksuele eise ('n huwelik met 'n kind wat die pion word in die slordige skaakspel), psigoterapie (Carol moet "genees" word), paranoia, Eisenhower praat op 'n tv-skerm, die leuen van huweliksgeluk, rykdom versus armoede en verleiding versus samespel.

Carol is die klassieke lipstiek dyke, 'n mooi vrou wat lesbies is, maar vasgevang is in 'n hetero-wêreld en ten slotte in 'n prokureurskantoor weier om teen haar grein in keuses te maak. Therese promoveer van winkelassistente tot fotograaf. 

Die storie is maar ylerig, Toegegee, dit wil 'n bepaalde periode vasvang en die kostuums en periodestukke is perfek nagevors. Van 'n haarstyl tot 'n kamera. (Therese neem graag foto's van haar geliefde Carol.)

Maar wát dit werklik 'n voortreflike rolprent maak, is in die spel tussen die vroue. Blanchett en Rooney Mara speel uitstekend as die twee geliefdes. Die jonger vrou ontwikkel van 'n meisie sonder agentskap tot een wat haar lewe beheer en 'n besluit kan neem. En die bordjies verhang. Blanchett se oë, haar stemspel en hoe sy rook, vertel alles van haar karakter.

Die sekstonele is nogal eksplisiet en dis meer as 'n gekafoefel in die donker. Is hier werklik gewoeps op die stel of nie, soos daar beweer word oor Don't look now?

En die mans, aan beide kante, staan magteloos voor die vroue se verbintenis met mekaar.
Dis 'n film wat lank na die kyk daarvan 'n mens bybly oor die pyn wat mense ervaar wanneer die samelewing sterker word as die private begeertes.

Daar is beweging tússen ordes; goed gesimboliseer deur daardie treinstelletjie in die speelgoedwinkel.

En kyk in watter dorp is die motelkamer!


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)