Vicente Huidobro se studeerkamer
Deel IV
In die middel van die nag lui die foon. Toe ek optel, is daar niemand nie.
‘n Muskiet teister my met sy gezoem. In my tas ontdek ek ‘n afweermiddel. Ek
stap na buite en die hoor die voëls se aubade.
Om nege eet ek ontbyt. My gids is reeds hier. Drie ure vroeër as beplan.
Ek gooi die laaste paar goed in die tas en stort.
My gids is Cesare. Hy word blitsig Julius Caesar. ‘n Lieflike man neffens
die laggende bestuurder, Christian. Ons is nou op pad na die huis van Vicente Huidobro, vertaal in Afrikaans deur Uys Krige – daardie digter wat gewaarsku
het dat oortolloge byvoeglike naamwoorde in ‘n gedig moord pleeg ...
‘n Gedig draai in my. Die vorige aand maak ek nota’s vir die reis en kyk
na my paspoort. Hoe verskil chornologiese tyd tog nie altyd maar van emosionele
tyd nie? Ek het die besoeke aan Viëtnam en Kroasië in die herinnering
omgedraai. Ek dink aan my beste vriend wat binnekort verjaar ...
Aubade
Meedoënloos die psige se tydhou,
daardie bakens in die gees:
klein oorwinnings, veral verliese
talmend in die herinnering.
In drome, die dagboek van die siel,
beweeg ek tydelik terug in tyd,
terug na jou op ‘n ander vasteland,
waar jy jou verjaarsdag vier sonder my.
Ek tel twee klippe op vir jou, ‘n cadeau,
by Pablo Neruda se huis in Isla Negra.
Die oggendlied van ‘n klein lyster,
vreugdevol oor nog ‘n dag se aanbreek.
In hierdie Plano de Ubicación,
vier ons in woorde saam,
nog ‘n jaar van aftel, optel en tydhou.
Die oggendstond het ‘n gedig in die mond.
Die huis is vol dokumente en installasies. Met groot sorg en kundigheid
saamgestel, maar sonder hárt.
Die busbestuurder lag toe ek gouer as beplan die huis verlaat. Ons is
immers op pad na Neruda se twee huise: in Isla Negra en in Valparaíso.
Ten spyte van die groot aantal toeriste, is die huis in Isla Negra ‘n
belewenis. Hier kan jy eers ‘n klein dokkie oor die digter se lewensloop
meemaak en daarna van kamer tot kamer beweeg met begeleidende oorfone. Die
digter se versamelaarsliefde vir botteltjies, vlinders, skulpe en selfs goggas
is aanskoulik. In elke kamer sien ‘n mens hoe gedrewe hy gewerk het. Walt
Whitman is duidelik ‘n digterlike vaderfiguur. In die studeerkamer staan ‘n
aardbol en ‘n vriendin, Marie Martner, het die sitkamer versier met ‘n
klipmuur.
Hier koekeloer ‘n mens in die slaapkamer met die bed wat na die see kyk:
ons is immers bewus van Neruda se obsessie met die see en dat die huis in die
vorm van ‘n skip gebou is.
Op oorfone word elke kamer nougeset verduidelik. Die agnostiese Neruda se
liefde vir primitiewe objekte is opvallend. Onder ‘n tafel se glasblad sien ek ‘n
tarotstel.
Die huis in Valparaíso heet La
Sebastiana, vernoem na die argitek wat dit ontwerp het. Met klein
gangetjies en steil trappe beweeg ‘n mens ook van kamer na kamer. Hierdie huis
staan op die Florida heuwel en die argitek het nooit die voltooide huis gesien
nie. Omdat die huis te groot was vir hom alleen het hy dit saam met sy twee
vriende, Marie Martner en Francisco Velasco, gekoop. Die huis is op 18
September 1961 ingehuldig. Die gedig "La Sebastiana" is vir hierdie
memorabele geleentheid geskep.
Daar staan ‘n kroeg in die huis en Neruda was glo ‘n uitstekende kok en
gasheer wat nooit gaste in sy kombuis toegelaat het nie.
Dit is huise vol relieke, houtbeelde (selfs ‘n perd!), antieke boegbeelde,
skulpe ...
In 1937 het Neruda uit Europa teruggekeer en na ‘n plek gesoek om sy Canto
general te skryf, sy digterlike studie oor die geskiedenis van Suid-Amerika
(waarvan die eerste publikasie deur Diego Riviera versier is). Die huis in Isla
Negra was die ruimte waarin hy hierdie voortreflike werk voltooi het, na my
mening een van die grootste prestasies in die wêreldletterkunde.
Dit is bekend dat die politieke situasie na die coup vir Neruda ‘n groot
teleurstelling was. Party meen hy het gesterf aan ‘n gebroke hart.
In 1992 is sy oorskot geneem na sy geliefde Isla Negra. Hier rus hy langs
sy vrou, Matilda Urrutia, in die Tumba de
Pablo y Matilde.
Die opbrengste van alle besoeke gaan na die Fundación Pablo Neruda, ‘n menseregte-organisasie.
Die opbrengste van alle besoeke gaan na die Fundación Pablo Neruda, ‘n menseregte-organisasie.
© Joan Hambidge