Deel IX
Die ou Kersaand-ete in die hotel was skaflik. Calamari, soesji en toe
kalkoen in ‘n Thai-sous. Met ‘n kelnerin wat letterlik geen Engels magtig is
nie. Maar kos bestel per menu werk mos maar met gebaretaal!
Hierna is dit gesels in die sitkamer met die reisgenote. ‘n Jong klomp
lawaai erg, en toe hulle gevra word vir stilte, wys ‘n Chileense vrou,
woonagtig in Chicago, ons daarop dat ons nou gesien gaan word as pretbederwers.
Ek sien wat sy bedoel, met al die ou gelade, vuil blikke wat na ons toe gegooi
word. Chilene mag plesierig wees, al is dit ten koste van ander mense.
Laatnag waai die wind stormsterk en my serp is amper vort toe ek ‘n
sigaret buite rook. ‘n Jong kelner vang dit behendig.
Ons besoek die nasionale park op Kersdag.
Ek land eers op die verkeerde bus (na ‘n uur se wag); uiteindelik kom ons
bus aan. Geduld o geduld wat so baie kan verdra.
Eers besoek ons die Mylodón-grotte
en ek stap die steil pad flink uit. Ek neem foto's van die mooi struike en
voëls.
‘n Groot oerdier (en hier is ‘n beeld van hom so reg uit Jurassic park) is hier in 1895 ontdek
saam met ander uitgestorwe diere. Dit het ongeveer 10 200 - 13 560 jare gelede gelewe,
en dit relativeer nogal alles wat ons nou beleef. Hierdie grot geleë in die
Chileense Patagonië bly vir geoloë van besondere belang.
Nou beweeg die bus na die Torres del Paine wat asemsnakkend mooi is.
Tussendeur stop ons vir foto's en bano-gebruik.
Die toilette is silwerskoon. Die middagete – my kersete – is sop,
groenslaai, hoender (gebraai in ‘n pizza-oond) en water.
Kersdig
Meer as flikkerende ligte
aan ‘n denneboom
die viering van Kersfees
in Torres de Paine:
denkend aan voete deurboor
met staal nes die hoender
en aartappels nou in die oond.
My kersete eenvoudig,
herinner aan die dualiteit
tussen sienlike en onversadigbare.
Proe genade in hierdie maaltyd.
Neem, eet en drink totdat
wyn in water verander.
Op die brosjure word jy gewaarsku om nie te rook nie (omdat dit ‘n brand
kan veroorsaak) en as jy ‘n Puma op die lyf loop, kyk hom stip in die oë en
maak jouself groter...
Dit reën in die Torres del Paine, en maak alle fotosessies en staptogte
moeilik. ‘n Paar jong mans stap egter in die gietende reën en keer kletsnat
terug met wasige foto's. Op ‘n helder dag sou ‘n mens egter die volledige
ervaring anders karteer. Nou is die ervaring dus gedeeltelik ...
‘n Amerikaanse vrou uit San Francisco voel hulle moes eerder eerlik gewees
het dat die uitstappie in die reën beteken ons sou nie die beroemde bergtorings
sien nie. My gevoel is: ten minste het ons die pragtige natuurskoon meegemaak; niemand
kan die weer beheer nie.
Daar is altyd maar die voortvarende reisiger (eerder toeris) wat altyd
ongelukkig is as alles nie perfek is nie. Reis is ‘n waagstuk, en as die
elemente nie saamspeel nie, kan ‘n mens nie altyd kry wat jy begeer nie. Of wat
die biljet verkoop nie.
Ek lees tussendeur Neruda in Afrikaans deur Uys Krige vertaal (Spaanse
dans. Perskor, 1990). In die voorwoord word beweer hy het aan ‘n gebroke
hart gesterf na die sluipmoord op Allende. In die vele huise word beweer dit
was kanker. ‘n Paar jaar terug is sy oorskot opgediep en ondersoek vir
vergiftiging.
Terwyl ek sy gedigte lees, val ‘n beriggie uit hierdie bloemlesing. Die
dood van Rika Cilliers, waaroor eweneens vraagtekens hang ... Daar word in die
berig vermeld dat sy depressie-medikasie geneem het en in haar slaap oorlede is.
Die digter van die bundel Spirakel, wat soveel gedigte oor luister
geskrywe het en ‘n bundel Mammoet oor olifante en oerdiere. Ook die
spekulasie oor die rede vir haar vertrek, is opvallend. Ons sal nooit finaal
weet nie.
My reissak sit vol biljette en notisies – wonderlike materiaal waaruit ‘n
mens later kan put vir gedigte.
En terwyl ek hier reis, is dit of ek méér begryp van Neruda se beskrywing
van plante, bome, die see ... Hoe populierbome se takke gebreek is en jy
nie daardeur kan sien nie ...
Neruda se hantering van die treurvers is ongelooflik behendig. By die dood
van Silvestre Revueltas word die aarde sy huis sonder deure.
Dis vroegopstaan, uittjekkereer en die boot betyds haal na die gletser. Ek
voel lodderoog en beneuk van te min slaap. Boonop sak die son laat in hierdie
geweste.
Die reis na die gletsers, Navegacion a los Glaciares, vind plaas op ‘n
windstil dag. Ons eerste stop is ‘n besoek aan ‘n eilandjie met kormorante wat
met die eerste oogopslag lyk na pikkewyne. Hier vertoef hulle vir drie maande
totdat die jongelinge hulleself kan loods van Pared de Cormoranes, oftewel die
Muur van Kormorante.
Ons seil voort op die Fiordo Ultima Esperanza.
Ek vra vir die Chileense vrou langs my wat vir ‘n ding ‘n coigues is. Glo ‘n soort boom. Wens Johann de
Lange was nou hier; hy sou vir my alles kon verduidelik van hoe die fjords tot
die gletsers beweeg het en presies hoe dit ontstaan het. En waarom en hoekom.
Dit is ‘n
windstil dag, maar snerpend koud.
Die boot
vaar verby ruimtes waar jy condors kan afneem. Ek dink aan Van Wyk Louw se
"Dood in die berge" met die tartende slot. So is dit ook met die dood
van bogenoemde digters gesteld: ons sal nooit finaal weet nie.
Die
majestueuse Monte Balmaceda is 2035 meter hoog. Aardverwarming eis sy tol, want
in 1981 was hierdie gletser waterpas met die see.
Ons moet
stap tot by die gletser in Tom Chetwynd se A dictionary of symbols
verwys hy na stap as ‘n manier wat ‘n mens emosioneel in beheer kom. Dus stap
ek na grotte en gletsers, rugsak op die rug.
Die reis is
goed, maar soos dit nou maar eenmaal met reis gesteld is, emosioneel
veeleisend. Die verwerking van indrukke, die spanninge rondom op plekke wees
(of nie wees nie); vlugkansellasies; wisselkoerse; vreemdslaap en aankom
telkens na vier dae in ‘n nuwe blyplek met ‘n nuwe hotelbestuur en hoteluitleg.
En natuurlik: wanneer ‘n mens alleen reis, op jou eentjie, is jy uitgelewer aan
ander mense wat dikwels saam-saam reis. Klein gesprekke, klein konneksies, met
hoë energie en adresse wat uitgeruil word, met die wete dat dit ‘n eenmalige
ontmoeting sal bly. Selfs al word jy genooi na ‘n huis in Santiago na nuwejaar.
Die Serrano
gletser, in die Bernardo O’Higgins nasionale park, is aanskoulik. Dit lyk blou
en iemand verduidelik dat dié ys digter is as gewone ys en alle kleure van die spektrum
van sonlig absorbeer behálwe blou, en dit is waarom die ys blou is.
Daar is ‘n
boom wat geel vruggies dra.
“Wat is
dit?”, vra ‘n vrou.
“Maroela!”,
skerts ek, gedagtig aan die feit dat jy selfs hier in hotelle Amurala-likeur
kan kry.
“O amper
glo ek jou. Ek was al in Suid-Afrika.” Maar die vruggies het kolletjies op,
anders as ons maroelas.
Hoe lyk dit
dan of die gletser ‘n papier-mâché-gedoente is soos by ‘n skoolkonsert? Maar
nee, twee manne van ons boot is besig om met yspikke die ys in stukke te breek
vir die beloofde whiskie met ysblokkies.
En daardie
whizza is spiekeries. Met millennium-ysblokkies. Van Puerto Toro nou voorwaarts
na die Eberhard ranch.
Vanmiddag
se lunch is ‘n braai-ete. Die beste skaapvleis van my lewe. Glo Magellaanse
skaapvleis hier op die Eberhard ranch.
‘n
Skaaptjoppie met bietjie vetjies en ‘n skaapribbetjie murgsag. Ek gesels lekker
met die Italjaners aan my tafel en ‘n Spanjaard wat alleen reis soos ek. Die kos
vergelyk goed met die Argentynse ranch waar ons eweneens van die beste vleis
genuttig het.
Buite tel
ek twee plat ronde klippe op so in die Andes se skadu. Een vir my; een vir my
beste vriend.
Op die
terugvaart dommel almal so ‘n bietjie na die lekker ete en rooiwyn. Dan word
hulle wakker, effe verleë, oor die slaap wat hulle so onkant betrap het.
Ons groet
op die kaai. Vertrek in alle windrigtings.