‘n Mens is eers deel van ‘n nuwe landskap as jy iets van die kos en wyn
van daardie land aanvaar en verstaan. Jy moet dit eers letterlik vertéér.
Hierom eet ek altyd eksotiese disse van ‘n land wat ek besoek. Paling (“conger
eel”), vis van die landstreek (Reineta ‘n vreemde wit vis met ‘n pienkerige
binneaanskyn), Tilapia, en daardie ou gunsteling: die ou oktopus.
Espinacas a la crema (oftewel, spinasie met room), Ensalada verde
(groenslaai) wat in elke land ‘n verrassing is oor ‘n groen blaar wat anders
proe. Arroz (rys) in verskillende vorme, veral die rys uit Peru, verander ook
die proe-algoritmes.
‘n Mens is ook eers deel van die nuwe landskap as jy die begraafplase van ‘n land besoek het. Of ten minste verbygery het. In San Antonio is die begraafplase aanskoulik met hélder blomme.
‘n Mens is ook eers deel van die nuwe landskap as jy die begraafplase van ‘n land besoek het. Of ten minste verbygery het. In San Antonio is die begraafplase aanskoulik met hélder blomme.
Daar is populierbome langs die pad en die bestuurder stop sodat ek hierdie
primordiale bome kan afneem. Hulle takke is droog, hang afwaarts; tog is daar
nog steeds iets wonderskoons in hulle aanwesigheid. Maar dit is veral die mooi
bloekombome wat my aandag vang. As jong kind in ons dorpie in die Noord-Kaap
het hierdie bome en hul reuk ‘n onuitwisbare indruk op my gemoed gelaat ...
Boom
Daar staan die boom.
‘n Bloekom met takke
windsels bas afgeruk
deur wind en weer só verweer.
Droë blare teen vingerpunte
herroep die skemerwêreld
van herinnering.
‘n Kind speel boom-boom;
sag onhoorbaar raas die wind daar-
deur. Bloekomtakke ruik na wind:
wind word bloekomolie.
Skielik hoor die wind
ons nie meer.
Die boom is afgekap.
Toe uitgekap. Kompos. Dor-droog.
Vrot. Deel van die aarde
waaruit dit
spruit.
(Joan Hambidge: Palinodes, 1987).
Ons huis het langs ‘n begraafplaas gestaan waar ek as jong kind graag
gespeel het. Tog kon ek dit nie oor my hart kry om Neruda se graf op Isla Negra
te besoek nie. Miskien omdat die digter vir mý nie dood is nie en deur sy
lewegewende digkuns vir ernstige digters ‘n absolute inspirasie bly. Sy
gedrewenheid met die digkuns word bevestig met die besoeke aan sy huise waar
elke objek wat hy versamel het, getuig van ‘n skeppingsdrif.
Neruda se graf
Langs sy geliefde Matilde op Isla Negra
lê Pablo Neruda in ‘n klipgraf met ligene.
Hierdie tombe vermy ek (on)bewustelik:
vir my is Pablo Neruda, die spoorwegman
se seun, die diplomaat en grootse versman,
nooit dood, nimmer begrawe of finaal verban.
Sy woorde leef vérby die hier-en-nou,
hy dra die nag en water en maan
in sy hart en aanskoulike digterlike mond.
Hierom versoek hy: “Moenie vra na my naam
of my welstand nie”; laat my soos hierdie Chileen
in die middelpunt van my verwonding, alleen.
O laat my op my lewensreis agter op Isla Negra.
Buite op die stoep sien ek die skepe in die baai van Valparaíso.
Vanoggend om sesuur het ek voor sonsopkoms die mooiste foto geneem van die
stad. In die Gervasoni B&B raas dit geweldig. Dit was eers ‘n ou huis van ‘n
ryk oliebaron uit Kroasië glo.
Dis ‘n lawaaierige ruimte. Mens hoor elke voetstap; ook van die dooies. Jy
hoor jou bure snork. Die sitkamer is vol outydse meubels en dit het die sjarme
van ‘n retro-plek.
Die spieël in die sitkamer is vuil. Ek het versoek om in ‘n kleiner kamer
te bly op die grondverdieping omdat die trappe na bo nekbrekend is.
Daar is selfs ‘n orreltjie in die sitkamer. Sou die gesin saans met
aandgodsdiens hier hul Here met blye galme geprys het?
Die kersboom flikker-flikker met rooi en groen balle ter versiering.
Die personeel is behulpsaam en gaaf. In die nag staan ek op die piepklein
balkon om te rook en verluister my aan die voëlgesang in hierdie kleurryke
bewaringstad. In die hawe lê daar hele paar skepe en wag op passasiers. Van
hulle gaan tuis in die Gervasoni.
“Al wat daar te siene is,” meen ‘n man uit Kanada,” is die begraafplaas.
Daar gebeur niks verder nie.”
Vir oulaas gaan ek wandel in hierdie stad met sy vele trappe en trollies.
En die eenmaligheid van hierdie oomblik besing.
Vannag sal ek wonder oor die gesin wat eens in hierdie groot kasarm van ‘n
huis gebly het. Leef hulle nog? Of het hulle vertrek na die ander oord?
© Joan Hambidge