Deel VII
Wyle Ants Kirsipuu, daardie groot taalkenner, kon die verskillende
bergreekse in Suid-Amerika by name opnoem, en in korrekte Spaans.
Nou kyk ek na die berg met sneeu op die toppe en die see wat gevaarlik
beweeg. Sowat drie ure se ry van Punta Arenas na Puerto Natales. My lunch is ‘n
geurige lemoen en ek sit Spaanse frases en leer.
Ons steek die Argentynse grens verby en daar is baie mense wat voor
Kersfees kom inkopies doen in Punta Arenas.
Die landskap is wonderskoon en landelik. Daar is skape en ‘n Gaunaco
spring onverwags oor die pad. My vorige hotel het bokhorings teen die muur en
heet die Cabo de Hornos.
Die Torres del Paine ontvang gemiddeld 150 000 besoekers per jaar. Hier is
mere en gletsers om te besigtig. Om hierdie aanskoulikheid mee te maak, kliek
hier: Cuernos del Paine from Lake Pehoé - Torres del Paine National Park -Wikipedia, the free encyclopedia.
Die park is in 1959 begin en soos met ons geliefde ou Tafelberg is hier
ook al insidente van brande gewees toe ‘n jong Israeliese backpacker per
ongeluk die woud aan die brand gesteek het en verwoesting gesaai het in 2011.
In 2005 het ‘n Tsjeg voor hom dieselfde gedoen.
Beide regerings het egter volle verantwoordelikheid aanvaar met skenkings
van bome en selfs geldelike hulpfondse vir die herstel om die manne wat te veel
boom gerook het se skade reg te stel.
In hierdie landskap bly ‘n mens bewus van voëls. Miskien omdat dit
onbekende wysies is, hoor ek dit so duidelik. Elke oggend word ek wakker gemaak
deur ‘n voëltjie en soveel so is ek bekoor dat ek begin oplees oor die aves van
hierdie land.
Flaminke is te vinde in die park, saam met uile en houtkappers. En die
Caracara, daardie stadig-bewegende valk aas graag wat te ase is (Caracara -Wikipedia, the free encyclopedia).
Uiteindelik is dit die Andes wat my altyd sal bybly: die groen Andes in
Mendoza; die Andes in Santiago wat bo die lugbesoedeling uitklim; en dan die Andes
met sneeu op die toppe.
En ek lees oor die Andes-gedigte wat al geskryf is en kom af op hierdie
een deur William Lisle Bowles, met ‘n fragment waarin die Andes beskryf word:
The Spirit Of Discovery By Sea -
The First Book
... Beyond the misty main
The weary eye scarce wanders, when behold
Plata, through vaster territory poured;
And Andes, sweeping the horizon’s tract,
Mightiest of mountains! whose eternal snows
Feel not the nearer sun; whose umbrage chills
The murmuring ocean; whose volcanic fires
A thousand nations view, hung like the moon
High in the middle waste of heaven; thy range,
Shading far off the Southern hemisphere,
A dusky file Titanic.
[...]
Hierdie priester se beeld van die enormiteit van die Andes, naamlik as
Titanic, is in die kol.
En Walt Whitman in ‘n ander toonaard:
Sounds of the Winter
Sounds of the winter too,
Sunshine upon the mountains—many a distant strain
From cheery railroad train—from nearer field, barn, house
The whispering air—even the mute crops, garner’d apples, corn,
Children’s and women’s tones—rhythm of many a farmer and of flail,
And old man’s garrulous lips among the rest, Think not we give out yet,
Forth from these snowy hairs we keep up yet the lilt.
Ek begin ‘n vers oor die berg.
En hoor skielik Afrikaans in die hotel. Twee reisigers uit Stellenbosch
wat vir vier dae deur die berg getrek het. Haar vel is rooi geskroei van die
wind. En natuurlik gesels ons oor die taal-potpourri en al die spanninge rondom
die taal.
Buite begin die wind waai. My daaglikse rookritueel gebeur teen ‘n woeste
wind in.
En buite bars daar die nag ‘n storm los.
Die oggend is dit verby; asof daar nooit ‘n storm was nie ...
Maar dit is net tydelik. Ons sit op die boot en die aankondiging kom. Ons
kan nie reis nie; die wind is te sterk.
In die gietende reën terug hotel toe. So is dit nou maar met reis.
Uitgelewer aan die elemente.
© Joan Hambidge