Friday, January 1, 2016

Reisjoernaal: Chili 2015 (Deel XIII)


Deel XIII

Santiago se Turistik-plattegrond bekyk ek met aandag. Waar was ek al? Mercado Central. Patio Bellavista. Barrio Bellavista vir bruisende naglewe. Gran Torre Santiago, die hoogste gebou in Chili, staan hier.

Die Mapocho-rivier, wat deur die stad dreun, is roesbruin van die afval. Kopermyne, oos van die stad, gooi afval in die rivier wat die water onbruikbaar maak vir enige verdere gebruik. Verder is dit ‘n stad van uiterse lugbesoedeling, veral in die winter, omdat die stad vasgekeer is tussen die berge. Maar net sowat ‘n uur se ry, en ‘n mens beleef die wonderlike wynplase en die see.

Met so ‘n oopbustoer kry ‘n mens ‘n ander blik op ‘n stad. Toevallighede wat sig aanmeld. ‘n Oop venster waardeur jy kyk. Net soos ‘n gedig dikwels daardie toevallige-óntoevalligheid saamsnoer.

Net soos hotelkamers ‘n mens se ervaring van ‘n stad kan bepaal. In Santiago de Chili beleef ek die Singular Lastarria hotel met sy wonderlike gange in die hotel. Die swembad op die negende verdieping help om die hitte draaglik(er) te maak. Hierteenoor die is die Holiday Inn op die lughawe maar net ‘n herberg, ‘n tydelike oorstaanplek, voordat die reis begin. Die resort in La Serena – met geen water in die hotelkamer nie – was ‘n kruis tussen ‘n hotel in Phuket en een in Ballito-baai, wat jeugervarings en dalk, ‘n ou liefdesverbintenis, oopgeruk het. 

 Waarskynlik sou Valparaíso beter met my psige gewerk het as die hotel Gervasoni nie so na aan retro-vervalle was nie. Maar nou ja: die kamer was skoon en ordelik en ek weet dat hotelle in enige bewaringsgedeelte moeite het om ‘n hotel te restoureer. Die Cabo de Hornos in Punta Arenas was eweneens net ‘n staning onder die sterre alvorens ek moes beweeg na ander plekke: Puerto Natales of Santiago. En in Puerto Natales in die CostAustralis het die personeel werklik iets spesiaals geskep vir die besoekers in die moderne hotel. Daar waar die kroegman se hand flink gly wanneer hy ‘n whizza vir jou skink.

En net om die draai van die Singular eet ek die allerheerlikste vis met ‘n glas Malbec uit die Mendoza-vallei, waar die Andes anders lyk as hier. Merluza (hake) is die mees populêre vis alhier, maar vandag smul ek vir die derde keer aan die reineta. Die corvia had ek gister en gedagtig aan die groot vars visse by die mark, verlang ek skielik na smoorsnoek en die lekker vis by die Miller's Thumb daar in Tamboerskloof. (Sien Eating Chilean/ Eating Chilean Fish).

Nou is dit oujaarsaand. Die sjampanje wag!

More pak ons die oopbustoer.

Die digter as reisiger

Jy meen dat reis
inhoude in my wakker maak.
Vanoggend halfvyf (toe reeds
lank na tien by jou) sit ek
grootoog in Santiago de Chili
op die hotel se patio
en teug aan ‘n sigaret.
‘n Jong man op ‘n fiets,
werkers in ‘n bus,
die deurnagbestuurder, o.a. vorm
alles deel van "Descubra Santiago".
Of loop vind jouself eerder
in ‘n vreemde landskap:
die Hotel Singular, Lastarria.
Die hoteldak maak eers na tien oop,
maar die gedig het begin vorm aanneem,
ek meen dit was gister se kant,
toe jy afbeeldings van horlosies
vir my aanstuur aan die gatkant
van nog ‘n jaar ("here's looking at you kid") ...
Nou wag ons op die dénouement
om al die los drade saam te snoer:
dalk net die buitelyne van ‘n gedig
vir die ontdekking van ‘n stad
wat sy geheime stukkie vir stukkie
prysgee en lank na die vertrek
van die digter sal bly draal
in die gemoed van die aangesprokene,
daardie een wat op dieselfde tydstip
op ‘n ander kontinent peuter aan ‘n vers.


(c) Joan Hambidge