Wednesday, December 23, 2015

Reisjoernaal: Chili 2015 (Deel VI)

Punta Arenas
Deel VI

Nou op pad Punta Arenas toe. Vroegoggend word ek wakker van ‘n skip wat die hawe binnevaar. Uys Krige se "Tram-ode" staan helder voor die verbeelding.

Vinnig pak ek die laaste goed in. Eet brekfis met twee Britte. Hulle het glo die aardbewing gevoel dreun hoër op in Chili. Genadiglik niks hier nie. Gisteraand die lekkerste tuna geëet in ‘n klein boetiekhotel: tuna halfgaar met appels, pere en framboos. Met Malbec-wyn wat die gasvrou spesiaal vir my oopmaak net vir twee glase. Die kos is besonder mooi voorberei en ‘n gastronomiese plesier.

Ek vertel haar van my lunch by die Italiaanse restauarant om die draai. Ek het paling bestel ... en wel, sommer ‘n gewone vis gekry. En ten spyte van my herhaaldelike aanduidings dat dit nie paling is nie, het die kelner sterk beveel dit is paling. Nou om in die vreemde in ‘n bekgeveg betrokke te raak ("me pay, me say") is sinneloos.

Ek eet dus die vis maar.

Mein ist die Rache, sagt meine Karte. Toe ek moet betaal, wil die ou kaart nie saamspeel nie. Dus moet ek onder toe beweeg, waar die bestuurder sit, en ek laat die fooitjie gewoon wegglip.

O, en geniet die Madama Malbec nie hierdie verhaal nie! Sy skink sommer nog ‘n glas wyn. Ek het kennelik haar dag gemaak.

Skink vir die harlekyn nog wyn.

Nou is dit weer van Valparaíso na Santiago met Ricardo die drywer. Dan die vlug van vyf ure na Punta Arenas. Met ‘n stop op Puerto Montt.

En by my vorige besoek aan hierdie dorpie het my hart anders gevoel.

Puerto Montt

Ek dink vanoggend aan jou eens lieflike mond:
‘n diep grot met jou tong ‘n vuurspuwende berg.
‘n openbare saal wat té veel vreemde besoekers toelaat.
‘n Middeleeuse kasteel met jou tong die valhek.
‘n lughawe in ‘n onbekende stad waaruit ek moet vertrek.
‘n vol bespreekte hotel met geen slaapplek.
‘n eiland soos Chiloé waarheen ek weens die weer nie kon gaan.
‘n land soos Venezuela wat geen visas toestaan.
Waarom dink ek tog vanoggend aan jou mond
in ‘n ver afgeleë plek soos Puerto Montt?

Puerto Montt (Verdraaide raaisels, 1990)

Nou sit ek op die lughawe en wag op my vlug om 14.10.

Ek drink ‘n Escudo Lager. En bier in Chili is baie lekker. Royal Guard en Cristal my ander gunstelinge. Proe soos ons SAB-nommers. En ‘n mens kry ook Heineken hier, hoewel almal voel jy moet die plaaslike biere probeer.

As daar iets soos road rage is, dan is daar beslis iets soos lughawe-rage. ‘n Kind hier neffens my gooi ‘n vloermoer en die moeder sit en toekyk asof dit die normaalste reaksie op aarde is.

Op Spaans vra ek haar sagter asseblief. Die Chilene kyk anders na openbare plekke, wil dit my voorkom. ‘n Ouer man en vrou soen-soen die sekuriteitsgedeelte deur; twee meisies sit gevaarlik en vry voor my hotel gisternag. ‘n Vrou by die oorkantste tafel sit haar naels en vyl. Wat my laat dink aan twee bekende grappe: How do you know a Jewish American princess has an orgasm? She drops the Emory board. Of: Why does a Jewish American Princess wear a gold diaphragm? So her boyfriend will think he's coming into money.


Op die vliegtuig – vir bykans vyf ure – sit ‘n norse vrou langs my en teef die pragtige lugwaardin op Spaans oor die diens. Sy is ongelukkig oor onbenullighede. Soos dat daar nie ‘n kotssakkie voor haar is nie en nie ‘n tydskrif nie en en en ...

Die lugwaardin oorhandig ‘n kla-vorm.

Ek vra ook een.

En bedank die lugwaardin dat sy my geskuif het na ‘n ander sitplek (ek wou nie op die nooduitgang wees nie) en oor die wonderlike diens. Sy glimlag toe sy my boodskap lees.

Op die vlug is ‘n groep jongmense uit Pennsylvania. ‘n Koorgroep. En hulle sing vir ons aan boord. Pragtige stemme.

Die toerleier is verruk toe hy hoor ek is van Kaapstad, want sy koor het al saam met die Tygerbergse jeugkoor opgetree!

Toe ek badkamer toe stap, is daar ‘n jong seun besig om ‘n toeval te kry. Ek dog eers hy is naar; toe besef ek dit is ‘n angsaanval. Gelukkig het hulle hul eie dokter saamgebring wat hom pamperlang en kalmeer.

Waarskynlik reismoegheid. Op die lughawe wag die gids. Die dorpie is veilig, vertel sy. Ek sien hoe blombakke versier is met gehekelde lappies. Alles ter viering van Gabriela Mistral. Sy is verbaas om te hoor dat sy in Afrikaans vertaal is. Onder andere deur De Waal Venter (Gabriela Mistral – vertaling in Afrikaans).

Dit is koud buite. Gelukkig het ek ‘n baadjie saamgebring.

Die hotel is dadelik gereed met ‘n kamer, maar helaas, kamer 704 het geen bed nie!

Ek bel recepcion wat dadelik ‘n ander kamer regkry vir die moeë reisiger. ‘n Mens is immers die hele tyd besig om waar te neem, indrukke te verwerk.

Punta Arenas is die suidelikste punt van Chili in Patagonië waar die Atlantiese en Stille oseane bymekaarkom. In die hotel is daar vele jongelinge op pad Antarktika toe. En ander weer na die Tierra del Fuego.

More vertrek ons na Puerto Natales. Dan gaan ons die Torres del Paine besoek en daarna die gletsers op Kersdag!

Plitvice Mere Nasionale Park in Kroasië

Beide hierdie ekskursies is glo iets om te beleef. Ek wonder hoe dit gaan vergelyk met die pragtige  Plitvice Mere Nasionale Park in Kroasië? Een wat ek net deur gietende reën kon bespied en via ‘n klein film moes meemaak.

Nou is dit nie representasie nie, maar "the real thing"!

© Joan Hambidge