I
Die filmweergawe Gemma Bovery
(2014: regisseur Anne Fontaine) is ‘n boeiende toespeling op Flaubert se
klassieke roman Madame Bovary (1856),
‘n teks wat ek hartgrondelik ken en beskou as ‘n baken oor hoe dit wat jy lees,
jou lewe kan verander (of verwoes). Dieselfde geld Tolstoi se Anna Karenina (1878). Beide vroue lees
liefdesverhale wat hulle laat verlang na ‘n liefde wat net in boeke bestaan.
Gemma Bovery is die filmweergawe van
Posy Simmonds se gewilde roman (1999).
Uiteraard word ‘n mens bewus van die toespelings op Flaubert se klassieke
teks: ‘n vrou wat betrokke raak by ‘n liefdesverhouding wat haar lewe
vernietig.
Claude Chabrol
‘n Mens kyk ook na hierdie moderne film met Claude Chabrol se verwerking
van die teks in 1991 met die ónootroffe, weergalose Isabelle Huppert in die
hoofrol. Met ‘n kameraskoot waar sy van die trap afstap en jy sien die swart
skaduwee teen die muur as 'n waarskuwing van dit wat gaan gebeur.
Die moderne (G)emma is tragi-komies. Met seksueel-uitbundige tonele, ‘n
voormalige Parysenaar en nou bakker van die dorp en twee jongmense wat mekaar
“vind”. Sy is getroud (en voorheen gelos); hy is jong student en welvarend.
Haar man is ‘n restoureerder en sy hou van die reuk van sy klere nadat hy ‘n
daglank aan die saag en werskaf was. Haar voormalige geliefde is ‘n
koskritikus. Sy was 'n illustreerder van boeke.
Sou ‘n eks-Parysenaar in ‘n dorpie die bakker word en boonop belangstel in sy
bure se doen en late? Sou die jong student se moeder aan wie ‘n gesogte kunswerk
behoort, dit later as gesteel aanmeld en ‘n prokureursbrief skryf aan die
buurvrou? Is hulle gelykklinkende name Gemma en Charlie (Jason Flemyng) genoeg
om sy Flaubert-fantasie aan die gang te sit? Wil hierdie oordrywings ‘n soort
satire word, of is dit blote ‘vehicles’ wat die plot laat voortstu?
Dalk aweregse kommentaar op die verveelde rykmanslewe? Want verveling in
die oorspronklike Flaubert-teks was immers die sneller vir Emma se ellende.
II
Madame Bovary, The Kiss
‘n Belangrike punt is dat hierdie film – wat Madame Bovary aan die vergetelheid ontruk – bewys hoe sterk die
oorspronklike teks is. Selfs Chabrol, ‘n gedugte filmmaker, moes worstel met
die oerteks wat oor sy teks hang.
Hierom waarskynlik die ironiese slot: ‘n wurgdood aan brood. Asof die nuwe
film wurg aan die ouer tekste.
III
In D. C. Muecke se Irony and the
ironic (1970) maak hy ‘n belangrike punt dat ironie nie net beteken om iets
te sê en die teenoorgestelde te bedoel nie. Ironie is eerder om iets op so ‘n
manier te doen, te skryf, te verfilm sodat ‘n eindelose reeks van subversiewe
interpretasies daardeur geaktiveer word (31).
So beskou verironiseer hierdie film die idee van tragiese liefde en
selfdood. Dit word gewoon ‘n belaglikheid.
Gemma Arterton is Gemma Bovery
Boonop is die slot van die film 'n verdere ironie. Die bakker se seun
kondig aan dat die bure se van Karenin is. Die kyker weet natuurlik wat mag
kom. Dit blyk 'n grap te wees, maar aanvanklik dink jy hier kom 'n verdere
wending.
Dit neem jou terug na die voorlaaste toneel waar die jong vrou se man, die
bakker en haar eks-minnaar almal aandadig voel aan haar dood. As haar man nie
gedink het sy het seks met die eks nie (hy was immers net besig om haar te probeer
red van 'n stikdood met die Heimlich-maneuver) en as die bakker net nie daardie
brief aan haar geskryf het asof dit die student was nie, het alles goed
afgeloop. Maar dit is nie so nie. Gemma is immers self, soos Madame Bovary,
verveeld en eiesinnig. Sý is die skepper van haar eie drama, haar fata.
Dan is daar ook die spel met gif. Aanvanklik meen ons sy is vergiftig (sy
het immers 'n ding oor die veldmuise), maar dis net die oorspronklike teks wat
hier inspeel. Die bakker wat koekeloer in die dagboeke werk nie so goed in 'n
film as wat dit in die romankuns werk nie.
Fabrice Luchini as die aantreklike grootoog-bakker en Gemma Arterton is die
gelyknamige hoofkarakter.
Dit speel af in 'n fiktiewe Normandiese village. Die oorspronklike teks
speel af in Rouen. In die Flaubert-teks trou Charles met Emma na die dood van
sy vrou. In die moderne film was Charlie voorheen getroud en Gemma se
voormalige geliefde ontrou aan haar. Hy keer natuurlik later terug as trooster.
Hy heet Patrick en is natuurlik Léon, die geliefde na wie Emma terugkeer na Rodolphe
haar verlaat.
Madame Bovary - Ezra Miller & Mia Wasikowska
Madame Bovary het 'n kind; Gemma het 'n mopshondjie. Emma is verlief op
Rodolphe, haar tweede minnaar, en skryf indiskrete briewe aan hom. Hy beëindig
die verhouding met 'n brief wat hy in 'n appelkoosmandjie laat. Gemma hou 'n
dagboek waarin sy haar emosies en gevoelens uitstort. (En hieruit lees die
bakker uiteraard vanuit 'n agterna-perspektief.)
Emma se aankoop van luukses is 'n poging om te herstel van liefdesverraad
en ongelukkigheid. Wanneer die skuldeisers kom, is beide minnaars onbetrokke,
maar haar eggenoot help haar uit die verknorsing. Dit is egter so dat hy uiters
ontsteld is wanneer hy afkom op hul liefdesbriewe. Gemma is ook in die skuld na
Charlie se vertrek. Sy sterf egter nie aan 'n arseen-oordosis nie, maar aan
brood wat die bakker vir haar gelos het. Charles in Madame Bovary sterf aan 'n gebroke hart, maar Charlie keer terug na
Londen.
En daar is natuurlik ook die besoek aan die opera in Madame Bovary. En opera, weet ons, simboliseer hewige emosies en
drama.
IV
Vladimir Nabokof
Vladimir Nabokof se beroemde Cornell
lectures was 'n belangrike baken om klassieke romans oop te skroef en elke
besonderheid na te gaan. Met 'n inleiding deur John Updike. Elke teks is so
deeglik gelees met aantekeninge in die kantlyn wat die leser bewus maak van
Nabokof die leser. ( Woorde Wat Weeg / Vladimir Nabokof - Deel I (2006). Besoek 19 Oktober 2016).
© Joan Hambidge