I
Met 'n herbesoek aan Marilyn
Monroe in die film Bus Stop (1956)
word Monroe meteens 'n interpretasie-probleem. Jacques Derrida se Il n'ya pas de hors-texte (daar is geen
buite-teks) beteken daar is 'n oneindige aantal tekste wat inspeel op die teks
voor jou.
Die verhaal is eenvoudig. Dit is
'n liefdesverhaal met 'n cowboy (en rodeo-ryer) wat verlief raak op die meisie.
Hy heet Beau (Don Murray); sy Chérie. Hy spreek haar naam verkeerd uit as
Cherry. Op pad na 'n rodeo-wedstryd sien hy sy donna angelicata ...
Die naïewe plaasjapie verstaan nie hoe verkeersligte werk nie. Nog minder begryp hy dat die mooi engel wat hy sien nie 'n engel is nie. Sy is immers 'n danseres en bied mans drankies aan. (Ons as kykers weet wat hier aangaan.)
Hy sien haar, raak dolverlief en
neem nie nee vir 'n antwoord nie. Sy vlug op die bus waarop hy en sy maat ook
is. Die busbestuurder het sy hande vol en uiteindelik wanneer hulle aankom by
Grace se busstop is daar 'n woeste vuisgeveg tussen die busbestuurder en Beau.
Met Beau wat in die sneeu byt.
Hy vra verskoning die volgende
dag en die jong vrou, Chérie, gee dan vir hom in. Haar aanvanklike renons, gaan
oor in ambivalensie en uiteindelik oorgawe. (Nie 'n goeie beeld van die vrou
wat uiteindelik maar ingee nie ... of het ons hier iets van Jacques Lacan se
sydelingse opmerking dat 'n vrou (en seksuele fantasie) maar net die simptoom
is vir die man? Hy merk dit op in sy Seminaar
gelewer op 21 Januarie 1975.)
Die gesprek tussen Beau (die
onskuldige man) en Chérie (die ingewyde) was waarskynlik in die tyd as komedie
bedoel; nou is dit skrynend.
By die rodeo-wedstryd - waar
Beau kaatjie van die baan is - is daar twee Life
Magazine-fotograwe wat die beeldskone Chérie afneem. Maar hulle neem
eintlik vir MM af.
Op die bus, vlugtend van die
lastige Beau, bely Chérie aan 'n jong meisie dat sy eintlik net wil trou en
kinders hê. 'n Gesprek wat 'n mens teruglei na die biografiese studies oor
Monroe waarin sy telkemale die behoefte uitgespreek het om binne die veilige
hawe van die huwelik te wees. En 'n moeder te wees. Dit is egter iets wat haar
nie beskore was nie, weens haar sterstatus.
III
Die bus beweeg van Montana tot
in Arizona. Ons beleef die lieflike landskap waar die jonge Beau op pad is na
sy rodeo-wedstryd en in 'n ander stryd gewikkel geraak, naamlik die liefde.
Chérie, die talentlose sangeres,
begeer aanvanklik om 'n Hollywood-ster te word. (In hierdie stadium weet die
kyker dat Monroe dit reeds is.) Haar vertolking van "That Old Black
Magic" bekoor Beau in so 'n mate dat hy dadelik met haar wil trou.
(Monroe, terloops sing wél hier.)
Hy "ontvoer" haar dan
later, maar by Grace se busstop, gee sy in vir hom. Sy maat, Virgil (simboliese
naam), bly agter.
IV
"There is no fabric without a weave," (Mitchell en Rose, 163) is hier ter sake. Ons kan vandag nie meer op 'n "onskuldige" manier na Marilyn Monroe kyk nie. Sy is die simptoom van ons begeerte en ons ervaring van 'n simbool.
God and the Jouissance of The Woman. A Love Letter. Die vrou bestaan
nie; sy is net 'n simptoom van ons fantasie.
En die diskordante onbewuste
ervaar jouissance as dit wat
plesierig en vreesaanjaend is.
Bronne:
Feminine Sexuality: Jacques Lacan and the école friedienne. redd. Juliet Mitchell en Jacqueline Rose. W.W. Norton
and Pantheon Books, 1985.
Marilyn. Norman Mailer. Alskog Inc.,
1967.
Vir inligting oor Bus Stop is IMDb - Movies, TV and Celebrities
geraadpleeg.
© Joan Hambidge