Marié Heese - Maestro. Human & Rousseau, 2016. ISBN 978 0 7981 7391 9
Resensent: Joan Hambidge
Marié Heese beklee binne die Suid-Afrikaanse letterkunde ‘n besondere
posisie. As skrywer van Die uurwerk
kantel (1976) tot historiese romans soos The Double Crown (2009), The
Colour of Power (2011) en A
Triple-headed Serpent (2012) waarmee sy buite die landsgrense beweeg en ‘n
groter leesgehoor verower het. Met haar roman Vuurklip (2014) het sy die argeologiese roman aangepak, eweneens
met sukses.
Heese is ook essayis, digter en jeug/kinderboekskrywer. Daar is ook ‘n
reisverhaal met resepte: Die honger
reisiger (2010).
Haar jongste roman Maestro –
besonder mooi uitgegee – handel oor die vormingsjare van Gianlorenzo Bernini,
die beroemde Italiaanse beeldhouer en argitek. Die roman se sub-titel aktiveer
dan die Bildungsroman waarin die hoofkarakter se vormingsjare en dikwels
moeilike lewe uitgebeeld word. Die leser ervaar dan die oorwinning, dikwels op
spirituele of op ‘n kunstenaarsvlak. Miskien sal ander lesers dit as 'n
Entwicklungsroman benader.
In ‘n nawoord (En toe?) vra die werklike outeur die vrae wat die leser vra
by die lees van die historiografiese roman. Hier wys Heese met welke drif sy
die geskiedenis besoek het, maar ook haar verbeelding gebruik het by die skryf
van hierdie roman. Die roman bevat ‘n handige bibliografie vir die speurende
leser.
Daar is vooraf ‘n dramatis personae – met ‘n asterisk waar die karakter
fiktief is – om die leser te help navigeer deur hierdie komplekse, dog aangrypende
roman.
Die eg-Italiaanse milieu word geskep deur die binnespraak van die verteller
wat ‘n Italiaanse woord gebruik met die onmiddellike Afrikaanse vertaling
ingebed in die teks – soos bozzetto (kleimodelletjie), ensomeer. Of as die
leser kan aflei wat die woord beteken (fabricca), word dit net so weergegee.
Die verskillende hofies werk opsommend en is bekend aan die Bildungsroman.
Daar is ‘n inhoudsopgawe wat die gang van sy lewensverhaal rig: Deel I:
Onthoofde engeltjie; Deel II : ‘n Lewenslange stryd; Deel III: Die mens is soos
gras; Deel IV: Meester van die wêreld.
Die Dramatis personae en En toe?-gedeelte wys op ‘n ouktoriale verteller
wat in beheer is van die gegewe. Boonop is daar afdrukke van kunswerke.
Die sterk filmiese kwaliteit van die roman is opvallend. Die leser sien en
ruik die omkopery, die diefstal – jy sien die kaaswiele, trosse fisante,
duifeiers, en wat nog (102).
In hierdie dae van kitskos-romans, is die werk van Marié Heese en Dan
Sleigh belangrike gebeurtenisse. As jy
belangstel in die sewentiende-eeuse geskiedenis behoort jy onverwyld hierdie
roman te lees.
Die leser kan op enige plek die roman oopmaak en dit lees soos wat Roland
Barthes aangetoon het in S/Z
(1970/1974) wanneer hy vyf kodes gebruik om 'n Balzac-verhaal oop te maak. Al
die kodes wat hy gebruik, is hier van toepassing: die spel tussen die
referensiële kodes en die stem van die karakter. Ons vind in hierdie teks
ernstige besinnings oor die kosmologie; die beeldhoukuns (en hoe dit in daardie
tyd uitgevoer is); Petrarca, die liefdesdigter gebore 1304, is hier neffens
godsdiens, oorlog, die liefde (en straf wanneer daar buite-egtelike verhoudings
is); die Spirituele Oefeninge van
sint Ignatius Loyola; die rol van die pous; die funksie van die castrato; die
impak van Michelangelo ...
Innocentius X wat geswig het en Bernini ook opdragte gegee het; spanninge tussen
kunstenaars, nydigheid, ensomeer. Kyk wat word oor die Dawid-beeld gesê en die
fout in die komposisie.
Ook die kunstenaar as kulkunstenaar word behandel. Die impak van
jeugtraumas wat hom in alle waarskynlikheid geïnspireer het om 'n kunstenaar te
word, beskryf sy dwingend. Die mens wat tydelik is en tussen tertia en nona kan
verdwyn, is 'n draad in die vertelling (68); nes die innerlike demone wat die
kunstenaar voortdryf (463).
En die begryp van die choleriese persoonlikheid of aard (463).
Barthes se Sarrasine-lesing was van besondere nut om hierdie teks oop te
maak: die oortreding van taboes (simboliese kode) en die hermeneutiese kodes
(waar die 'waarheid' vertel moet word). (Die vyf kodes is: hermeneutiese kode; proaieritiese kode of empiriese stem; die
Semiese kode of die stem van die persoon; die simboliese kode en die sogenaamde
referensiële kode of die stem van die wetenskap).
Die kunstenaar se enorme ontwikkeling van die
Barokstyl (saam met tydgenote soos die argitek Borromini en die skilder en argitek Pietro da Cortona). Maar die tyd het ook
verander met die opkoms van die Neo-Klassisme. Veral die kunsgeskiedkundige
Howard Hibbard – onder andere – het geweldig baie gedoen om sy bydrae opnuut
onder die loep te neem.
Hierdie roman neem die leser na soveel aspekte van
kunsdebatte dat dit uiters frustrerend was om hierdie boek te resenseer, omdat
'n mens nog veel sou wou benadruk! Die veranderde rol van pouse, soms
erkenning, ander kere afwysend. Die studies van James Fenton, Giovanni Caresi,
Sarah McPhee, e.a. het die roman gerig.
Die toneel van 'n kind wat doodgery word deur 'n koets en die hartelose
hantering hiervan is iets wat hierdie leser altyd sal bybly. Met 'n wasvrou wat
die scudi ontvang – al was dit nie haar kind nie – en hartelose mans se
hantering hiervan, en die jonge Bernini wat dit aanskou het en daardeur ontsteld was.
'n Mens sou meer wou skryf oor Galilei wat ook hier betrek word. 'n Egte
Renaissance mens wat kon skilder, die luit bespeel het en boonop gestraf is vir
sy wetenskaplike sieninge. Die pous was uiters magtig toe. Kettery en
godslastering word ook hier ondersoek.
Maestro is ‘n hoogtepunt in Marié Heese
se oeuvre. Sy versoen haar historiese belangstelling met ‘n besondere kreatiewe
drif. En sy lewer kommentaar op al die
fasette van 'n samelewing met die skrywer wat 'n ander kunstenaar vereer.
Soos iewers geskryf word: beslis 'n okkasie vir 'n staande ovasie!
Marié Heese
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)