Ingrid Glorie
Glory glory halleluja
Daar woed tans 'n tsoenami op Facebook oor JB Roux se resensie van
Chanette Paul se Offerlam wat verlede
week in Rapport-Weekliks verskyn het.
Die boekeredakteur van Beeld, Jo
Prins het my vir 'n reaksie gevra wat ek so verwoord het:
“Dit is waarskynlik ook die reg van ’n skrywer om vriende en volgelinge op
Vuisboek in te span om die resensent af te maak as nydig of oningelig.
“Indien die boek goed is, oorleef dit ’n swak/onkundige/oningeligte
resensie. Wanneer die boek as negatief getakseer word, is die resensent
onkundig. Andersom is die resensent briljant, lieflik, enig in sy/haar soort.
“Me. Paul is ’n gevestigde, populêre skrywer en haar reputasie behoort nie
deur een resensie beskadig te word nie.
“Goeie publisiteit. Een resensie het nou kleintjies gekry.” (Beeld, 27 deser).
Skaars was my reaksie daar, of Ingrid Glorie kritiseer (op Jo Prins se Beeld-facebookblad) my as sou ek JB Roux
verdedig het met sy feitefoute en mistastinge oor die roman. 'n Mens sou kon
vra of Me. Glorie my neutrale reaksie begryp het?
Ek het nie vir Roux opgekom of teen Chanette Paul gedraai nie. Ek het
gewoon net gewys op die bedryf en hoe dit daar uitsien.
Kollega digter en vertaler Daniel Hugo het die volgende geskryf in
dieselfde berig:
“Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat lesers ‘gewaarsku’ word teen ’n boek
wat op geen manier – polities, seksueel of godsdienstig – grensoorskrydend is
nie.
“Dit klink of die resensent aan ’n soort grootheidswaan lei. Hy het in
vorige resensies ook al bewys dat hy onbevoeg is om ’n boek regverdig te
beoordeel.”
Selfs Crito het verwys na die "hovaardige resensie" van Roux (26
deser).
Ek staan dus by my oorspronklike stelling - 'n polemiek rondom 'n boek
(die spreekwoordelike kleintjies) mag verkope stimuleer.
Dis al.
© Joan Hambidge