Deel XIV
Nuwejaar. Op
die dak van die hotel word daar vuurwerke afgeskiet. Deur die stad
georkestreer. Almal staan met vonkelwyn in die hand en bekyk die skouspel.
Die vals
bonhomie tussen die hotelgaste – soos dit nou maar met reis gesteld is. Jy ontmoet
mense, ruil adresse en inligting uit en dan stap almal op hul eie paadjie
voort.
In die
hotelkamer staan daar ‘n bottel vonkelwyn vir die gas – met twee glase ...
In die
ontbytkamer die volgende oggend speel die bekende liedjie "Pass me
by" ... "If you don’t happen to like me ..."
Santiago is
bot-toe op nuwejaarsdag. Bykans soos iemand met ‘n kater wat in die bed moet
bly. Daar gaan niks in die stad aan vandag nie. Geen toere. Geen restaurante;
net die hotel met sy dakswembad is oop.
Die
ontbytkamer is leeg.
Waar is al
die mense heen? Of rus hulle?
Die kelner
verduidelik almal het deurnagparty en sal eers weer die tweede opkom vir lug.
Ek onthou ons
pieknieks langs die Vaalrivier of by Ouma in Bergvliet. Lekker kos.
Sestiger, Chris
Barnard, is in hierdie dae oorlede. Ek hoop van harte hy het nie die geniepsige
opmerkings oor hom gelees in Vlam in die sneeu nie. Verskeie huldeblyke
sonder hom uit as ‘n stilis en storieverteller sonder gelyke. Dit was hy
bepaald en ofskoon hy tot die beweging van Sestig behoort het, was hy nie eintlik
deel van die beweging se politieke front nie. Hy was nie uitgesproke oor
politieke kwessies soos sy tydgenote nie, wat opnuut bewys dat ‘n
"beweging" nie noodwendig álle skrywers van ‘n spesifieke era saamsnoer
nie, en ook dat binne ‘n beweging die identiteite dikwels divers en
uiteenlopend is.
Om terug te
kyk op sy lang loopbaan waarin hy verskillende genres beoefen het, onthou ek
hoe hy met Moerland indertyd die M-Net-prys verloor het, terwyl Griet skryf
‘n sprokie dit verower het. Maar lg. wás nuuts en anders; en het ingepas by
die voorskrifte van die prys tóé. Maar Moerland bly staan as ‘n groot
prestasie desondanks.
Brief Die Burger 28.12.2015 Die dood van Chris Barnard is ‘n groot verlies vir die Afrikaanse prosa. Veral sy roman Mahala (1971) en bundel kortverhale Duiwel-in-die-bos (1968) is twee uitstaande prestasies in enige letterkunde. In Mahala skep hy atmosfeer, op so ‘n wyse dat die leser telkemale moet teruglees om te bepaal wat droom is en of iets werklik gebeur het. In Duiwel-in-die-bos skep hy ‘n bundel verhale wat telkemale op mekaar inspeel, ‘n belangrike eenheidsbundel in Afrikaans soos Henriette Grové se Jaarringe. Soos in die film Otto e mezze (8 ½ uit 1963) van Fellini is die skakels subtiel tussen hede en verlede, droom en werklikheid. Daar was ook filmtekste, kontreitekste, rubrieke, dramas, radiodramas en jeugverhale. ‘n Uitsonderlik geskakeerde loopbaan, ‘n Sestiger en veral ‘n romanskrywer na wie ‘n mens by herhaling kan terugkeer.
Joan Hambidge, La Serena
Pas geswem –
die opruiming en terugkeer begin nou ‘n harde werklikheid word. Op Versindaba
is daar ‘n inskrywing waar heimwee
verkeerdelik met ‘n deelteken geskryf word.
Tog heimwee,
soos Mimi Coertse dit vertolk het: die verlange na die bekende en geborgene.
Die teenoorgestelde van hierdie begrip is Fernweh,
die verlange na die onbekende en iets waaraan hierdie skrywer beslis ly!
Die
botteltjie vonkelwyn drink ek saam met vier Britte wat Suid-Afrika graag
besoek.
Ons sit in
die dakswembad en ruil gemeenplase uit.
Die hotelle
óm die hotel is steeds gesluit.
Agter ons lê
die jaar van die hutsmerk: # en ‘n mens wonder hoe die nuwejaar daar gaan
uitsien. Gaan die opstande en onrus voortduur?
Hierdie reis
was ‘n pelgrimstog om die verskillende huise van Pablo Neruda te besoek en
uiteindelik keer ek terug huiswaarts met etlike bonusse in my knapsak: die
Andes in Puerto Natales en die gletser; die wynlande by die Matetic-wynlandgoed
waar die keldermeester selfs iets weet van Afrikaans; die woestyn in San Pedro
de Atacama; die belewenis van die Andes-gebergtes vol kaktusse en dordroog
buite Vicuňa; die vuurwerke oujaarsaand in Santiago.
Die
ontmoeting met soveel gawe, terloopse mense in hotelle, gidse en bestuurders,
soos Christiaan met sy humorsin en Caesar wat vir my in rye staan en plekhou.
Die jongelinge in hotelle – goed opgelei – wat aandra en bedien. Op Spaans. En
my Spaans het goed opgetel. As ‘n mens nie deur Engels geannekseer word nie,
leer jy bittergou om jou oor oop te maak vir ‘n vreemde taal. En
google-translate en ‘n Spaanse grammatikaboek het my vér gebring deur hierdie
landskap.
Hoe heerlik
het my gids in la Serena nie gelag oor my nabootsing van Spaanse aksente nie.
Ek sluk my
woorde oor Santiago. Dit het ‘n andersoortige bekoring.
Die lang paaie waarin die verskillende landskappe – soms kletsnat, soms dordroog – jou bewus maak opnuut van Neruda se beroemde uiting: Chili ís deur ‘n digter gemaak.
© Joan Hambidge
Die lang paaie waarin die verskillende landskappe – soms kletsnat, soms dordroog – jou bewus maak opnuut van Neruda se beroemde uiting: Chili ís deur ‘n digter gemaak.
© Joan Hambidge