Boegbeeld in Neruda se huis op Isla Negra
Deel XVIII
Verpakking van ‘n reis het ook te make met uitpak. Wat gepaardgaan met jet
lag. Die liggaamlike skommeling om die tydsone van hier met daar te versoen.
Middel van die nag wawydwakker. Met drome van wat agter jou lê. Seereise is
minder steurend, omdat tyd beter sinchroniseer. Met vlieg is daar tyd wat gewen
en verloor word. En ‘n selfoon en liggaam registreer dit.
Dus in die middel van die nag pak ek uit. Gooi klere in die wasmasjien en
dink oor my reis. Hoe goed het alles ingepas in my twee reistasse. My
Neruda-boeke, ‘n studie oor Cloete, reisplan (Viajes y Turismo), Storr se
studie Solitude, ‘n simboolhandleiding, ‘n tydskrif oor T.T. Cloete,
Spaanse grammatikaboek, DVD's (krimmies), paspoort, geelkaart, $'s, twee
kredietkaarte, Mirakel en muse, Woord en wonder ...
Ek skryf ‘n rubriek Die Burger
(5.1.2016):
Ten huise van die groot Chileense digter Neruda
Die Chilene het respek vir hul skrywers,
skryf die digter Joan Hambidge ná haar onlangse besoek aan Chili waar sy die
goed bewaarde museumhuise van Gabriela Mistral, Vicente Huidobro en Pablo
Neruda besoek het.
Neruda se
sitkamer by Isla Negra. In die huis het hy die Canto General
geskryf – sy digterlike studie oor die Suid-Amerikaanse geskiedenis.
Die groot
Chileense digter Pablo Neruda had drie huise: in Isla Negra, Valparaíso en La
Chascona in Santiago.
Die huis in
Isla Negra suid van die stad Valparaiso is ‘n belewenis en waarskynlik die
beste museum. Neruda was ‘n versamelaar van botteltjies, vlinders, skulpe en
selfs goggas, omdat hy geglo het dat die digter na die wêreld moet kyk soos ‘n
kind: onbevange.
In hierdie
huis staan sy studeertafel, wat hy glo saam met sy geliefde Matilde, uit die see
gaan haal het toe ‘n skip gesink het. Neruda se liefde vir die see is
alombekend en daarom is sy huise dan ook in die vorm van ‘n skip gebou. Die
deure is nou; die trappe steil.
In hierdie
huis staan ‘n aardbol en in sy studeerkamer foto’s van geliefde skrywers soos
Walt Whitman en Baudelaire. Klippe is eweneens belangrik hier; ‘n vriendin,
Marie Martner, het die sitkamer met ‘n klipmuur versier.
In die
slaapkamer kyk die bed uit oor die see. Die agnostiese Neruda se liefde vir
primitiewe objekte is opvallend. Onder ‘n tafel se glasblad sien ek ‘n
tarotstel. Hy het telkemale in vreemde lande speelkaarte versamel.
In 1937 het
Neruda uit Europa teruggekeer en na ‘n plek gesoek om sy Canto General
te skryf, sy digterlike studie oor die geskiedenis van Suid-Amerika (waarvan
die eerste publikasie deur Diego Riviera versier is). Die huis in Isla Negra
was die ruimte waarin hy hierdie voortreflike werk voltooi het, na my mening
een van die grootste prestasies in die wêreldletterkunde.
Die huis in
Valparaíso heet La Sebastiana, vernoem na die argitek wat dit ontwerp het. Met
klein gangetjies en steil trappe beweeg ‘n mens ook van kamer na kamer. Hoe het
Neruda, ‘n groot man, dit bemeester? wonder ek.Hierdie huis staan op die Florida-heuwel
en die argitek het nooit die voltooide huis gesien nie. Omdat die huis te groot
was vir hom alleen het Neruda dit saam met sy twee vriende, Marie Martner en
Francisco Velasco, gekoop.
Die woning is
op 18 September 1961 ingehuldig. Die gedig “La Sebastiana” is vir hierdie gedenkwaardige
geleentheid geskep.
Ook hier is ‘n
kroeg in die huis en Neruda was glo ‘n uitstekende kok en gasheer wat nooit
gaste in sy kombuis toegelaat het nie.
Dit is huise
vol relieke, houtbeelde (selfs ‘n perd!), antieke boegbeelde, skulpe . . .
La Chascona
(“wilde maanhare” – die liefdesnaam vir sy geliefde Matilde met haar boskasie)
geleë in die Barrio Bellavista, Santiago, is ‘n museum met afbeeldings van
objekte wat in die huis in Isla Negra te sien is.
Die pragtige
tuin met die huis wat uit verskillende vlakke bestaan, herinner aan die
argitektuur van die ander twee huise. Daar is gesogte kunswerke teen die mure
en die liefde vir Chinese kuns is opmerklik.
Dit is bekend
dat die politieke situasie ná die coup vir Neruda ‘n groot teleurstelling was.
Party meen hy het aan ‘n gebroke hart gesterf. Ander meen hy is vergif; ander
sê dit was kanker.
In 1992 is sy
oorskot na sy geliefde Isla Negra geneem. Hier rus hy langs sy vrou, Matilda
Urrutia, in die Tumba de Pablo y Matilde.
Die klou dui
reeds die dier aan. Só verraai ‘n huis eweneens iets van die mens: ‘n Liefde
vir die natuur, van klein objekte of kunswerkies op ‘n tarotstel, ‘n
donkerpienk skulp, vertel vir ons Neruda kon so goed dig, omdat hy die
ding-heid van iets kon raaksien, die konkrete, die kenteken van die groot
digter.
En kunswerke
uit vreemde omgewings (waar hy as diplomaat diens gedoen het) en ‘n groot
aardbol bewys dat hy buite die grense van sy land kon dink en dig.
En die huise
verklap dan ook sy liefde vir reis, hetsy na die Ooste of na Spanje of Frankryk.
Die toegangsgeld gaan na die Fundación Pablo Neruda, ‘n
menseregte-organisasie.
‘Grootste digter in enige taal’
Pablo Neruda
was die grootste digter van die 20ste eeu in énige taal, het die Colombiaanse
skrywer Gabriel García Márquez een keer gesê.
Die naam
Pablo Neruda was die skryfnaam van die Chileense digter, diplomaat en politikus
Ricardo Eliécer Neftalí Reyes Basoalto (1904-1973). Twee jaar voor sy dood is
hy as die president van die Chileense Kommunistiese Party aangewys.
Hy het egter
sy nominasie teruggetrek en is net daarna as diplomaat in Parys aangestel.
Neruda, wat
reeds op tienjarige ouderdom begin dig het, is in 1971 met die Nobelprys vir
Letterkunde in Parys bekroon.
Sy bekendste
werk is Veinte poemas de amor y una canción desesperada wat in Engels as
Twenty Love Poems and a Song of Despair in 1924 wêreldwyd verskyn het.
Fernando
Alegría skryf só oor Neruda in Modern Poetry Studies: “Wat ek wil benadruk was
dat Neruda ‘n digter van die liefde was, en meer as enigeen ‘n kragtige,
vreugdevolle oorwinnaar van die dood.”
Neruda het in
verskillende style geskryf, van historiese epiese verhale, politieke manifeste,
prosa en outobiografieë tot hartstogtelike liefdesgedigte.
*
In my tas is daar ook klippe: van Neruda se huise; Mistral se huis in
Vecuňa en twee ronde, platklippe van die Andes ...
Klippe. My hele huis staan vol klippe: Nagasaki, Macchu Picchu, Istanboel
...
Onverganklike objekte. Bakens.
Anders as foto's. Of memento's.
Neruda in ‘n selfgesprek
In elke uithoek van Chili
gedigte soos saad gestrooi:
Oor eensaamheid en die corázon.
‘n Canto general, selfs die opstand
verwoord in Obras completas.
Daar by die vérre Atacama-woestyn
en in al die vulkane hoor ons nog:
poësie is ‘n okkupasie, ‘n hartstog.
Op ‘n jong leeftyd vind dit mý,
hierdie blommende copihues:
hoe kort die lewe; hoe durend
die uiting in só ‘n stil obiter dictum;
‘n rymverdoeseling, woordskuwend.
© Joan Hambidge