Deel XVI
Ontbyt vir
oulaas in die hotel. Ek eet lig. Olga en Marco het toe nie opgedaag nie, weens
die verkeer op die 2de Januarie, maar foto's aangestuur en beloof
ons sien mekaar weer.
Groet al die
hotelwerkers wat die afgelope tyd uitsonderlike diens gelewer het.
Die heerlikste fillet geëet in Les Assassins by die eienaar wat vertel dat sy vader Neruda geken het. By die Franse plekkie oorkant die hotel. Hier sing Charles Aznavour en selfs Grace Jones heerlike chansons – en soms is die mossie van Parys daar.
Dan lughawe
toe met Christiaan en Caesar wat my aflaai. My bestuurder van die taxi,
Christiaan en (Julius) Caesar my gids.
Veels te
vroeg. Dis halfnege en dit gaan weer bebliksemd warm wees vandag.
Ek sit in die
besigheidsitkamer en maak lysies en kyk na die mense. Drink water. Neem vir
oulaas foto's van die Andes.
Die kos op
die vliegtuig is prima: fillet en vars slaai. En Chili wyn. Vyf ure lank op
vlug LA 752 tot in Sao Paulo waar ek dadelik stort en vervars vir die vlug net
na middernag. Daar is vier skoon hemde en onderklere in my sak. Om in elke
lughawe vars aan te land.
‘n Jong
meisie wat kennelik laat is vir haar vlug, stamp my amper onderstebo in haar
haas om die vlug te haal.
‘n Man slaap
onder die boom - ‘n heel surrealistiese prentjie. Inmiddels lees ek op die
verskillende vlugte Neruda se Memoirs.
Hoe hy
byvoorbeeld vir Gabriela Mistral sien. Toe sy die Nobelrpys ontvang, staan die
kinders in Temuca erewag vir haar met copihues (‘n blom). Maar so seergemaak
was sy oor die skinderstories versprei oor haar lewe dat sy nie afklim en die
skoolkinders ontmoet nie. Sy ontglip met ‘n nagtrein ...
Neruda skryf mooi
oor haar digkuns: wat is die geheime bestanddele van haar digkuns?, vra hy.
En as hy
uitvind, gaan hy ons nie vertel nie. Hy wys wel op die pyn wat regdeur haar
magistrale digkuns loop.
En te spyte
van Huidobro se voortdurende aanvalle op hom, kan hy steeds positief oor
hierdie digter skryf. Hy wys op die kristalagtige kwaliteit van sy digkuns en
dat sy gedigte glinster en vreugde verskaf. En op die Europese verwysingsveld
en die enorme intellektualisme in sy digkuns. Ten spyte van siedende aanvalle op
Neruda, maak hulle uiteindelik vrede en praat hulle as twee Chilene en as twee
digters met mekaar.
Hy praat
reguit oor hoeveel kere hy genomineer is vir die Nobelprys en dit nie ontvang
het nie en toe hy dit uiteindelik ontvang, herinner die parade van swier hom
aan die skoolprysfunksies wat hy as kind meegemaak het.
Ook dat hy
nie geweet het wie Seferis was toe hy dit bo hom ontvang het nie!
En hy vertel
van die poets wat ‘n vriend op hom gebak het tydens die funksie. Hy het gemaak
asof hy ‘n wilde loot is uit Georgetown, Brits-Guinea en hy dreig om die
Neruda, die digter van die verdruktes, se tuxedo met ‘n groot sker flenters te
sny. Die gerug het pandemonium tot gevolg en die Skandinawiese polisie soek hot
en haar na die swart man. Totdat sy vriend, Otero Silva, bieg ... dit was net ‘n
grap.
By die lees
van sy opmerkings oor ander digters, besef ‘n mens hoe gul hy is in sy
kartering en beskrywing van ander digters. En hoeveel nydigheid en mislikheid
hy as digter en openbare figuur moes verduur.
Neruda se
flirtasie met kommunisme en sy grootogigheid oor figure soos Lenin en Stalin,
staan my bepaald nie aan nie. Ons weet ook hoe hy Allende ondersteun het. Hy
vertel byvoorbeeld hoe hy pryse moes beoordeel het in Rusland, Hy was ook die
ontvanger van die Stalin Vredesprys. (Hy noem Stalin ‘n “witdrawn” man.)
My
bewondering is vir die digter; vir die vormbeheer. Vir wat hy noem “die digkuns
as okkupasie”. Vir sy obsessionele ondersoek van vorms en die beskrywing van ‘n
tamatie of ui in ‘n elementale odes. Vir sy liefdesverse. Vir sy kartering van
vreemde landskappe. Vir sy soektog na die regte woord, of dit nou gaan oor
wanhoop of oor liefde ...
En hierdie
wysheid bly knaag aan ‘n mens:
Someday,
somewhere - anywhere, unfailingly, you'll find yourself, and that, and only
that, can be the happiest or bitterest hour of your life.”
Of die
allerbekendste mantra:
“Love is so
short, forgetting is so long.”
En ons onthou
dan ook: “Vanaand skryf ek die mees trieste reëls // ek het haar liefgehad //
en soms had sy my ook lief” as ek sommer so uit die kop uit mag vertaal.
Hierdie
memoirs kry ‘n nuwe lewe na my besoek aan Chili.
SAA 225 wag.
Ons vertrek na middernag.
En net voor
ek die lounge verlaat, kom ‘n vrou en man ingestap. Die man sit in ‘n rystoel;
die vrou praat freneties.
“Jy’s mos
daardie beroemde aktrise,” seg ek. Sy lag.
En ons begin
gesels.
Die man het
sy voet beseer in ‘n bonfire, seg sy.
Niemand
minder as een van die Coen-broers nie. Joel.
Ons gesels
land en sand oor haar werk en sy teken gul in my boekie. Hy teken ook.
Sy vra of ek Olive
Kitteridge gesien het?
Inderdaad.
Hoe lekker om
met so ‘n briljante aktrise te gesels wat ‘n MA aan Yale behaal het in
teaterkunde. En een van 12 aktrises wat die Oscar, Emmy en Tony verower het -
die driekroon in die teater.
Wanneer ek
terug is, gaan ek beslis weer na Fargo kyk.
Sometimes truth
is stranger than fiction!
© Joan Hambidge