Wihelm Knobel
Wilhelm Knobel – Die ongewapende man
op 80 in vertaling (The unarmed man
in translation). Bel Monte Uitgewers, 2015. ISBN 9 780620 685115
Resensent: Joan Hambidge
Wilhelm Knobel het Salvatore Quasimodo se “en skielik is dit aand” vertaal
in 1961:
Elkeen staan alleen op die hart van die aarde
deur ‘n straal van die son deurboor
en skielik is dit aand.
Hierna het ander digters ook op hierdie reëls digterlik kommentaar gelewer,
en ofskoon Knobel dit in Afrikaans vertaal het, behoort dit aan Quasimodo, die Italiaanse
liriese digter (1901 – 1968). Knobel se verse is eweneens liries; soms
surrealisties; ander kere intiem in die verkenning van die binne-landskap.
Die ongewapende man op 80 bevat ‘n handvol
vertalings van Knobel se gedigte met kommentaar van literatore agterin
opgeneem, soos Petra Müller wat meen dat hy as “vervloekte” digter op eweveel
aanspraak kan maak as Ingrid Jonker. Sy het dit dan oor die “verval van die
gemoed” en ingeligte lesers is bekend met Knobel se sensitiewe psige en
manies-depressiewe gemoed.
Ander literatore se tersaaklike kommentaar word ook opgeneem soos J.C.
Kannemeyer, Louise Viljoen, Johann de Lange en Marius Crous.
Die titel kom uit “Brief vir Breyten” wat hy afsluit: ”Die gekheid kom nie
soos ‘n gewapende man nie.”
Vir my is Knobel die digter van ‘n handvol uitstekende verse en hierdie
bundel vertalings stel hom bekend aan ‘n wyer leesgehoor. In die kolofon word
daar vermelding gemaak van vertalings deur die digter se broer, die vertalers
Gisela en Tony Ulyatt, en in die teks is daar ‘n vertaling deur die digter self
en C. Bennett. Die afkorting CJFC staan vir die bekende digter en vertaler,
Charl JF Cilliers. Phil du Plessis, wat lang gesprekke met Knobel in sy digkuns
gevoer het, is eweneens hier aanwesig: ”Fabel” (51).
Die digters wat meegedoen het aan die vertalings het hul goed van hul taak
gekwyt en die gedigte getransporteer van een taallandskap na ‘n ander. Maar
vertalings is soos om in ‘n vliegtuig te sit – iewers tussen twee landskappe
dink jy na oor wat agter jou lê en waarheen jy op pad is. En as jy nie die
regte taalvisum het nie of ‘n digterlike inenting teen geelkoors nie, kan sake
skeefloop. Gelukkig is die vertalers se paspoorte en mediese kaarte getjap.
Vertalings kan net suksesvol behartig word deur digters wat sélf die
kompleksiteite van taal begryp en dikwels besef welke waagstuk enige vertaling
is. ‘n Kennis van die teikentaal maak jou bepaald nie ‘n vertaler nie. Die
Ulyatts en Charl JF Cilliers is gerékende vertalers, omdat hulle die semantiese
reikwydte begryp en implikasies kan vertolk. Dit is soos om oor ‘n vreemde
landskap te lees en dit dan self te ervaar. So is dit met die vertaalde gedig
gesteld: iets voltrek sig in die gemoed.
‘n Mens raak bewus daarvan dat daar soms hoofletters gebruik word aan die
begin van reëls; ander kere nie. Die “bloedsteen” is opvallend en in “XI Weer
aan die kritikus” word die pynlike herhaling van woorde verduidelik, omdat die
digkuns ‘n manier is waarop die digter hom verweer teen die lewe en ‘n slopende
siekte.
Dit is dalk die hoogste tyd om ‘n studie te onderneem tussen die werk van
die Amerikaanse digter Robert Lowell (1917 - 1977) en Wilhelm Knobel. Beide
digters het aan ernstige depressies gelei; beide het die digkuns gebruik as ‘n
ontsnappingsroete, as ‘n soort “bloedsteen”. Lowell se klassieke “Man and wife”
is ‘n ikoniese vers wat so begin:
Tamed by Miltown, we lie on Mother’s
bed;
the rising sun in war paint dyes us red;
in broad daylight her gilded bed-posts
shine,
abandoned, almost Dionysian.
En as die vertaler ‘n paspoort en visum en geelkoorskaart het, is dit ‘n
besondere belewenis. Met Bloedsteen
(1966), Mure van mos (1970), Nagelate gedigte (1976), Twee siklusse (2005) en As die woorde begin droom (2011) het
Wilhelm Knobel ‘n unieke bydrae tot ons digkuns gelewer. Hierdie is ‘n keur uit
sy digkuns behartig deur Johann de Lange, ‘n uitstekende bloemleser en
vertaler.
Suiwer is hierdie elegiese vers van Knobel:
Elegie
vir V. Cuenod
Êrens in die Atlantiese oseaan is jou
liggaam ter see gelaat
In geen benouende seil gewikkel nie
het dit stadig deur die skemergroen lig
gesak
tussen kleurige tropiese vissies wat vir
‘n oomblik
verskrik is
om dan weer soos mossies nuuskierig
byeen te drom
en die vreemde gebeure gretig maar
geheim in die
roering te bespreek
‘n besorgde dolfyn
het jou ‘n rukkie meer waardig op
jou tog vergesel
jou ledemate wat net effens
in suggestie van ‘n dans beweeg
het hom ‘n tydjie laat vermoed dat jy
leef
en jou hare wat jy kort geknip gedra het
in jou lewe
het lank en donker in die stroom geroer
Êrens op jou reis die diepte in
waar die skemerte oorgaan in donker
het die vae gestalte van ‘n haai
(of twee?)
geduldig, genadig
gewag
… die
beelde hier word minder duidelik
maar in drome sien ek reeds hoe ‘n hopie
bene
ewig en wit begin vasgroei in koraal
*
Vir ‘n interessante nota rondom die
onstaan van die gedig, lees die volgende: Deon Knobel. Toeligting tot die gedig “Elegie” deur Wilhelm Knobel
Wilhelm Knobel in ons digkuns verewig: vasgegroei in koraal.
(Hierdie resensie word geplaas
met vriendelike vergunning van Beeld)