Tuesday, January 5, 2016

Reisjoernaal: Chili 2015 (Deel XVII)



Deel XVII

Hoe kort die liefde, hoe lank die herstel, aldus Neruda.

Dit is eweneens van toepassing op reis. Kort, selfs ‘n maand of minder, maar die uitwerking daarvan bly lank na die voltooiing van die reis op ‘n mens se gemoed inwerk. Die terugreis via SAL is dié keer uitstekend. Met die vertrek was dit uitsiens en die opwinding. Nou is dit die nadink. Die verpakking van die reis.

Twaalf vlugte (waarvan vier internasionaal) met al die stres wat dit inhou: doeanes, paspoortbeheer, skandering van sakke, en dan die aankoms in ‘n nuwe stad of vesting.

‘n Staning onder die sterre.

Nou is dit terug in my land en hier is ‘n hittegolf in Kaapstad. Niks vergeleke met die hitte in Santiago de Chili wat soggens om tienuur sonbrandolie van jou gesig afskroei.

En die hoogtepunte?

Die landskap en natuurskoon. Om Chili eerstehands te ervaar.

‘n Mens bly voortdurend bewus van die politieke verlede.

Die spanninge tussen Allende en daarna, Pinochet se oorname. Die politieke ellendes van die land en hoe Chili sig uit armoede verlos het tot die eerstewêreld-land wat dit geword het. Daar is ook ‘n pynlike politieke verlede en ons WVK is gebaseer op die Chileense siening van waarheid en versoening, wat aldaar nie openbaar was nie. In die monument van  herinnering (Museo de la Memoria y los Derechos Humanos) word ‘n mens herinner aan die bloedige verlede van hierdie land. Die spanninge tussen die kommunisme en die militêre bewind; en nou ‘n land wat vorentoe kan beweeg.

Op 11 September 1973 is Allende in ‘n coup - gesteun deur die CIA - ontwrig.

In die eerste drie maande van die coup het dissidente gewoon "verdwyn" (desaparecidos) of hulle is gewoon doodgemaak. Sterk herinnering hier aan wat alles gebeur het ten tyde van die donker dae van apartheid.

Tussen 1973 en 1990 het die juntas hul laat geld, met die verskoning dat die ekonomie onder Allende in duie gestort het. Inflasie tydens sy bewind het tot 300 persent gestyg en mense wat dit eerstehands ervaar het, vertel van die ellendes en armoede. Die restaurant-eienaar in Les Assissins vertel hoe erg dit was.

So kort gelede as 1990 het die mense egter weer in ‘n referendum gestem vir demokrasie, ofskoon Allende ook demokraties verkies is as die eerste demokraties verkose Marxistiese president in Latyns-Amerika.

In hierdie museum ervaar ‘n mens die skokkende menseregte-skendings en wat ons tans in Chili ervaar is dat die uiterstes van die twee pendulums nou in ‘n demokrasie uitgebloei het. Van links na regs, tot werklike demokrasie.

Chili is duur. Dit werk op dieselfde beginsel as die VSA met ‘n footjie-sisteem. Dikwels word die 10% reeds by jou rekening geplaas.

‘n Mens is voortdurend bewus van hoe goed kelners en werkers in hotelle opgelei is. Beleefd doen hulle hul werk. Met jou as gas wat eerste geplaas word.

Nou dink ek terug aan die hoogtepunte: die verskillende teksture en temperamente van die Andes-gebergte: ‘n pienk skynsel tydens ‘n sonsondergang in die woestyn. Ysig en koud in Puerto Natalis met reën en gletsers. En om in Vecuňa letterlik binne-in die Andes te beweeg, is ‘n besonderse ervaring.

Op te ry, vir twee, drie ure tussen Puerto Natalis en volgende dorpies en die pragtige landskap te bewonder, sal ek nooit vergeet nie.

Die wyn net buite Santiago - in die Casablanca-streek en die Matetic-landgoed, streel die gemoed.

Santiago is ‘n harde, genadelose stad. Met die stad se rivier, die Mapocho (Mapu chuco, "water that penetrates the land") vol vuil, besoedelde rooi afval van die kopermyne. Aan die begin van elke jaar, hou die Universiteit van Chili ‘n regatta op die rivier. Hoe ‘n mens ‘n regatta kan hou op so ‘n rivier, weet ek werklik nie. Dit verdeel dan ook die stadin twee. En ‘n mens is bewus van hoe leeg damme is in La Serena en omstreke, soos by ons.

En die hitte, is soos by ons. Soos by De Doorns met die wingerde wat skuil hou agter nette sodat die suikerinhoude van die druiwe beheer kan word - aldus, my gids.

Die Santiaguinos is chic, hoflik, dog reguit. Engels bestaan in hotelle, maar daar is nie ‘n anglomaanse obsessie om te verengels nie. En as jy Spaans probeer praat, al is dit poco-poco, help hulle jou geduldig, terwyl jy in jou handleiding iets aanmekaar timmer.

Kos is duur, maar daar was wonderlike hoogtepunte met uiteet. Veral die vis het my betower - gebraai op Chileense rys of quinoa.

Neruda se huis op Isla Negra

Ek het hierdie reis onderneem om Neruda se huise te besoek. ‘n Wonderlike ervaring. Ek het egter méér beleef: Mistral se huise en die ervaring van die uiterstes in temperatuur: yskoud in Puerto Natalis; bloedig warm in die genoemde areas.

Op my reis het ek Neruda se Memoirs gelees, Spaanse gedigte (probeer) vertaal, elke dag Spaanse woorde bygeleer - ‘n pragtige taal. Opgetel dat Neruda gaande was oor die speurverhale van Georges Simenon.

Op die vlug terug Kaap toe gesels met Sipho wat elke dag met sy kinders Sotho praat en weet hoe belangrik dit is om te kan kommunikeer in jou eie taal.

Vir die digter was dit eweneens ‘n boeiende ervaring - om iets te registreer vir my bundel Indeks, ‘n boek opgedra aan my hartsvriend, amaro corázon.


Un buen viaje. Dit was dit op alle vlakke vir diegene wat my dit toegewens het: veilig en goed.

© Joan Hambidge