Sunday, February 7, 2016

Joan Hambidge - David Bowie gedig [Gedig]


Beeld-
skoon,
dubbel-
kantig:
ikoon.
Een oog
se pupil
vergroot,
'n loergat.
Anisochoria
maak jou
vreemd-
kykend.
Ziggy
Stardust,
droom
oor
'n lewe
op Mars
en een op
hierdie
plek
waarna
hy val.
Die rehab
'n kapsule
'n klinkende
metaalblik
waar hulle
jou
verslawings
beloer:
kolokwinte
kollaterale
van
gekyk
-wees.
Planeet-
aarde
bly blou
vir altyd,
die sterre
lyk
anders
vandag
en daar is
helaas
niks wat
ons kan
doen;
behalwe
om jou
te vereer
in 'n
slanke
vers
nes
jy.

© Joan Hambidge