Nou is dit die finale inpak van klere. Ek hang die laaste aand my klere op net om weer asem te skep na die bedompige weer in Ponto Fara. Gooi ou klere weg, leë objekte, lees e-posse, konsolideer bankstate. (Elke dag 'n bietjie).
Ek volg die waterkrisis op
e-pos en TV. Me. Zille wat haar voete was in 'n badskotteltjie om te illustreer
hoe min water 'n mens kan gebruik, laat 'n mens dink aan Pontius Pilatus. Dit
gaan nie net om bad / was nie, maar om 'n hele sisteem wat in duie kan stort.
'n Rioolsisteem wat nie werk nie, kan siektes veroorsaak.
Ursula Le Guin
Ek sit in die Sofitel se
voorportaal wagtend op die bussie na die lughawe. Gestort, gepak, georden.
Gesels met die concierge oor Ursula Le Guin se onlangse dood.
Ek eet 'n heerlike Grenadella
vir middagete. Groot. Soet. Heerlik.
In my beursie is daar vele
banknote. Op die 50 peso-noot is daar 'n afdruk van Márquez wat sy status hier
bevestig.
Op die agterkant die velore
stad: die Ciudad Perdida ontdek in 1972, en glo ouer as Machu Picchu wat ek vir
die tweede keer in 2007 besoek het. Dit word ook Teyuna genoem. In
die Sierra Nevada de Santa Marta.
In my beursie is daar note
uit Argentinië, Viëtnam, Kroasië, Peru, Korea, Turkye, Indië - en een euro.
Glad nie chronologies soos
die plekke wat besoek is nie. Maar die onbewuste, aldus Jung, hou anders tyd as
die chronologie waaraan ons gewoond is.
Rondom trauma word daar
iets in ons psige ingeprent. Dit wat Lacan die teken in die onbewuste noem.
Vir my is die tyd 8:18 vm altyd
gekoppel aan trauma, aan 'n groot aflegging jare gelede.
Dan die reis na die lughawe
om 5 nm. Die inboek verloop vlot. Die tas toegedraai in plastiek. Die vlug is
betyds.
Net voor ek instap,
ontwikkel ek 'n geweldige maagpyn en die gevolge is die Wet van Transvaal. Weer
snel Immodium my te hulp.
Uiteraard al die vis en
garnale van die eiland wat nou uitpop. Te veel jodium. En daardie groot
grenadella in die Sofitel-hotel was waarskynlik die katalisator.
Ek sit op B15. Langs 'n
gawe Duitser.
Hy slaap gou en ek nuttig
'n ham-pasta met 'n glas wyn en 'n whizza.
Ek luister na Diana Krall
se Turn up the Quiet en haar vertolking van "Night and
Day" is betowerend.
Like the beat beat beat of the tom-tom
When the jungle shadows fall
Like the tick tick tock of the stately clock ...
Oh, the boulevard of broken dreams.
Like the beat beat beat of the tom-tom
When the jungle shadows fall
Like the tick tick tock of the stately clock ...
Oh, the boulevard of broken dreams.
Hierna Callas, naas
Sutherland en Leontyne Price, my sang-ikoon.
Maria Callas
(1923 – 1977)
Om só godsgenadig
te kon sing en vertolk,
dit doen sy absoluut spontaan
boonop ‘n noot steel soos
‘n gypsy,
bronstig ómklem soos ‘n
munt
in ‘n dooie se toegebalde
vuis.
Elke lied word deur haar
lyf
se ronde kontoere vervoer.
Later toe sy verslank,
fokus sy op haar
flaminkkeel,
dra steeds gekartelde
fluweel
om die véle omswerwinge
van ‘n vasgevatte noot
oor vele hoogtes én
laagtes,
te laat vloei in ‘n
asemsnakkende,
amper roggelende, volsonge
snik.
(uit: Lot se
vrou).
Dan die drie tenore met
Carreras as my gunsteling.
Ek kyk weer Love
Actually en besef hoe ironies dat Liam Neeson afskeid neem van sy
gestorwe vrou en Emma Thompson treur oor haar man wat haar dalk verneuk. Sy kry
nie die halssnoer vir Kersfees nie, maar 'n Joni Mitchell-CD. En sy het immers
die geskenk gesien in sy jas bedoel vir iemand anders. (En Hugh Grant se
danstoneel bly gewoon skitterend! En ons kyk ook met die na-wete van sy berugte
oomblik met die optelvrou in die VSA wat die einde van hom Liz Hurley beteken
het.)
Barthes se vraisemblance:
hoe die werklikheid in fiksie indring. En die kyker (leser) kan nie hierdie
buite-kennis ontken nie.
Both Sides now aangrypend vertolk. Wat 'n kunstenaar. Goed
verouder, meen ek. Die ouer, pynlike weergawe is mooier as die jonger bekende
een uit 1969.
I've looked at clouds from both sides now
From up and down and still somehow
It's cloud's illusions I recall
I really don't know clouds at all
I've looked at clouds from both sides now
From up and down and still somehow
It's cloud's illusions I recall
I really don't know clouds at all
Dan land ons na 'n ontbyt
op Charles de Gaulle.
Met terugreis gaan ek op
auto-pilot. Skakel my brein af. Lees Lacan wat meen taal skep die onbewuste,
hou dit as't ware gevange (in Malcolm Bowie se studie Freud, Proust and
Lacan: theory as fiction).
Verder stap ek, neem foto's
van die ruimte van aankoms en vertrek.
Nou is dit die
ontologie van lughawens.
Vinnige passasiers. Almal
gedrewe iewers heen op pad. Verwagtings, uitsien, afsien ...
In Love actually lewer
die voice over (Hugh Grant) kommentaar op lughawens en hoe
liefde orals te vinde is.
Op pad. Terug of na.
'n Lughawe is 'n
intimiderende ruimte (soos 'n hospitaal) waar die weerlose reisiger afhanklik
is van paspoortkontroles, skanderdeers, eerlikheid.
Pryse vir kos of
verversings is uiters hoog. Op sekere lughawens - soos Londen - word jy
gewaarsku om in jou spoor te trap; anders kan jy in hegtenis geneem word. In
Singapoer word jy selfs met tronkstraf gedreig. In Japan was daar snuffelhonde
wat my vaskeer oor sonbrandolie wat in die tas geruik word!
'n Lughawe is 'n
gereguleerde ruimte - selfs met rookkamers en bidkamers. Gratis wifi.
Belastingvrye winkels. (Maar met soveel te kope wat jou verlei om meer te koop
as wat jy behoef.) Op gesofistikeerde lughawens selfs treine tussen sale om jou
snel te vervoer.
'n Tussengebied. 'n
Liminale ruimte.
"No unattended
bagage". Vliegtuie is al ontruim oor 'n sak wat rondstaan.
*
Dis net na 1 nm. My vlug
Bobbejaansberg toe vertrek net voor middernag. Op 'n winkel staan 'n mens moet
zen bly. En so is die so.
'n Man stap verby met 'n
t-hemp wat blaker: "Die monsters is nie onder jou bed nie; hulle is in jou
kop."
'n Mens kan Suid-Afrikaners
uitken. Hulle lyk almal gespanne. (Die Colombiane is glo genomineer as een van
die gelukkigste nasies op aarde.)
Watertekort. Korrupsie.
Politieke onrus ...
Op die groot airbus wat 530
mense kan neem, sit ek bo. Te lekker. Eet 'n salmtert en drink 'n lieflike rooi
wyn. En kyk na Catherine Deneuve in Belle de Jour.
Luis Buñuel se klassiek van
'n gewone vrou wat werk as prostituut todat haar man se vriend opdaag. Sy word
geteister deur een van haar kliënte, 'n gangster, wat verlief raak
op haar.
Die film werk die hele tyd
met 'n spel tussen waarheid en fantasie. Die slot is oop en meervoudig. Is die
vrou se man werklik geskiet of is ook dit 'n fantasie? Seksuele
fantasieë wat politiek inkorrek is, word voortreflik deur Madame Deneuve
vertolk.
Yves St. Laurent het
van Deneuve se uitrustings ontwerp en Michel Piccoli is, soos altyd,
verstommend en ingehoue.
Madame Deneuve word van
agter af geneem in deurskynende nagkabaai.
Séverine (Deneuve) se
seksuele kilheid is gekoppel aan jeugmolestering wat baie subtiel vertel word.
Haar man begryp haar lot en is baie geduldig en begrypend. Die
sado-masochistiese fantasieë van Séverine was vir die tyd skokkend en sal
waarskynlik vandag 'n groot bohaai veroorsaak in die #MeToo-kwartiere. Hoe
tersaaklik dan dat Deneuve juis vryheid van spraak (en optrede) as aktrise
voorstaan.
By my aankoms in
Johannesburg is die plastiekhulsel om my sak weg en daar is 'n nota opgeplak: Ons besef iemand het aan u sak gepeuter. Niks is gelukkig weg nie. Nog
'n curve ball.
'n Vriendelike swart man by
doeane gaan deur die sak met my. Skud sy kop en praat 'n wonderlike Afrikaans.
"Nee kyk, Mama. Dan
dink hulle óns steel?"
Ek is bly die sak met komputer- en
kamera-draadwerk is nog daar. Nes die T-hemde vir kinders; Gabo se huisie
gemaak uit vuurhoutjies; my baadjie gekoop in Firenze; boeke ...
Alles vervangbaar. 'n
Lykskleed het nie sakke nie. En reis leer jou met hoe mín jy kan klaarkom.
Wanneer ek in Suid-Afrika
aankom na 'n lang reis (letterlik twee dae se beweeg met 'n sewe uur
tydverskil), is dit altyd die klanke van swart tale en Afrikaans wat my weer
laat tuis voel. En hoe vriendelik ons doeane-beamptes 'n mens terug verwelkom.
My kamera (Fujifilm) vertel
'n eie verhaal: daar is foto's wat 'n mens terugneem na klein plekkies,
onverwagse waarnemings wat nie in die reisrubriek aangespreek word nie. Net
soos 'n gedig 'n astrak is van baie indrukke, lees, nadink, gevoelens.
Nou moet al die ervarings
met die psige gesinchroniseer word: overload.
Nou Johannesburg; dan
Kaapstad. Regmaak vir die jaar: people poisoning,
studente-onrus, waterskaarste ...
Die gedig as
herberg
Jdl
Slauerhoff kon alleen net
in sy gedigte woon
vir Vestdijk 'n
glansende
kiemsel, 'n domus,
'n tydelike vesting dalk
vir ons, vir jou?
Sonder mede-wete
of na-denke kom 'n digter
soms tuis in 'n ánder se
gedig:
vergete die
stapeltjie Hambidge,
so kom woon
tussen ons die nouveau riche ...
of soiets, by die
alfabetisering van 'n rak.
Maar dit maak nie meer
saak.
Die gedig leef langer, reis
vérder
as die digter staangemaak
tussen A - Z, iets tot
niets,
plus of minus. Verdroomde
stilte.
In 'n swart en groot
reissak
met 'n geheime slot wag
daar soveel nuutskeppings:
lares et
penates.
© Joan Hambidge