Deel VIII
Nou is dit Punto Faro, Isla
Mucura.
My gids is oorbetyds en ons
moet wag by die Regatta hotel (bietjie afgeleef, die hotel) vir die ander
passasiers. 30 mense vertrek op dieselfde boot.
Paspoort word gevra. Ons moet
elkeen $5 betaal by die hawe - nie ingesluit nie en my gids het my nie ingelig
nie. Goddank het ek altyd geld by my. (Die reis is egter alles inklusief - so
Metropolitan Tours het opgeslip.) My gids wag totdat ek vertrek. Hoekom,
weet ek nie, want hy is die hele tyd besig om met iemand op sy
selfoon te praat.
Die boottrip duur twee ure lank, met dolfyne wat om ons in die water speel. Ek sit heel voor en kry dus die wind letterlik van
voor, maar gelukkig is daar sonbrandolie.
Op die boot is net water beskikbaar -
deesdae word drank verbied. Veral as daar probleme is, kan passasiers moeilik
raak en dalk verdrink.
Skielik stop ons. Ek ruik
petrol.
'n Italianer voor my
verduidelik daar het plastiek in een van die enjins beland. Tien minute later skuur ons
voort. Lieflik. Die angs skuim weg na agter ...
Ons aankoms is plesierig.
Met iets van 'n skoolkamp-allure word ons ingelig oor die moets / moenies op die
eiland. Geen deure word gesluit nie. Almal vertrou mekaar. Geen tips nie,
asseblief. Net teen die einde van die verblyf in die tipboks sodat almal kan
deel. Geen rook in kamers toegelaat. Skakel lugverkoeling af wanneer jy die
kamer verlaat. Bruin handdoeke vir swem; wit vir stort. Wees versigtig vir die
iguanas op die eiland ...
Dit herinner my aan 'n verblyf
op 'n flotel in Manaus in 1987. Jy is afgesonder van die buite-wêreld en die
reëls van die plek is wet. Bykans soos in die weermag!
Dit was my eerste besoek aan
Suid-Amerika waar ek gedig het oor 'n besoek aan die hele kontinent waarna ek
die afgelope paar jaar by herhaling teruggekeer het, omdat dit kreatief goed is
vir my: Brasilië, Peru, Argentinië, Chili ...
Die Amasone
Net soms, net soms laat Hy van
hom hoor:
skryf met ‘n penstreep teen die
lug oral oor,
stuur ‘n teleks per aardbewing
(woedend en koud)
of praat woordeloos in ‘n
magiese oerwoud.
Manaus
Jouissance
Suid-Amerika is ‘n wispelturige
vrou:
vol teëspraak, hartstog én
ontrou.
Sy nooi jou uit met haar
Brasiliaanse borste
- net om jou af te weer
met haar Chileense arms.
Mens onthou veral haar
Boliviaanse oë
en min mense raak uitgepraat
oor haar Andes-neus.
As jy gelukkig is, laat sy jou
selfs toe in haar vuurheuwel.
Vir my is sy uitsonderlik weens
haar kop
vol drome: haar fantasmagoriese,
ongetemde Amasone,
al het sy my nou heeltemal
vergeet:
ons liefde lyk nes die ruïnes
by Macchu Picchu.
(Uit: Verdraaide
raaisels, 1990).
Night of the Iguana van
Tennessee Williams vra vir 'n herlees. 'n Verstommende teks oor 'n klag van seksuele misdryf, oor geloof en
ongeloof.
Nou is dit lunch. Die corbina
vis is puik gaar gemaak en die slaai en groente smaaklik.
Hierna tiep ek om. Die vorige
twee dae was lang reise met baie ervarings en indrukke.
Laatmiddag skrik ek wakker.
Sukkel om die internet-verbinding te vind en uiteindelik sluit ek aan by die
bestaan buite die eiland. Besef opnuut: ek het drie verslawings, te wete, skryf, die internet, en beslis rook. Alkohol kan ek net so laat staan.
Maar skryf en rook en kontak via die internet / e-posse bepaald nie.
Selfs op hierdie afgeleë plek
is ek besig met notas maak, skryf, lees.
En ek slaan altyd 'n ou dampie
iewers buite onder 'n boom.
Die dinner is op die grasperk.
Twee jong Amerikaners sit by my tafel. Hulle woon in Washington DC en Trump se
manewales met die sloerstaking van uitbetaling aan regeringsdienste is 'n
ellende. Mense sit met die hande in die hare. Polisielede gaan dalk nie 'n
salaris kry nie.
Die ekologie en global
warming is ook deel van ons gespek. Martin, die bestuurder van die
oord, vertel hoe die reënpatrone jaar na jaar skuif.
Ons eet vis en heerlike
garnale.
Vroegaand is dit bed toe. Op
die grasperk rook 'n man 'n sigaar. Heerlik.
Die volgende oggend neuk dit
met die internet-verbinding, maar die reis hier begin inskop.
Ek swem in die
warm Karibbiese see en kyk hoe 'n pelikaan klein vissies verorber met sy lang
bek.
Dit is warm.
Twee Deense meisies gesels met
my oor hoe die reis hulle ook betower.
Ingmar Bergman, die Sweedse
filmmaker, is my een van gunstelinge. Die een meisie weet te vertel sy was 'n
ekstra jare terug in een van sy films as 'n jong kind.
'n Italiaanse bankier - in die
kabine langs my - gesels met my oor Fellini en Pasolini en Umberto Eco.
Hoe heerlik is hierdie
konneksies nie.
Laatmiddag is dit hoogwater.
Die stil water van die oggend is nou gevaarlik. 'n Brander trek my in en ek gaan
lê op my rug. Bly kalm. Dan skielik word ek uitgewerp op die sand. Ek dink aan 'n
ervaring uit my jeug toe ek amper verdrink het by Ballito-baai en my oorlede
moeder probeer inswem het om my te red.
Gelukkig het 'n dwars-stroom my
gered.
*
Jou begrafnis sober soos jy
was.
Schubert se Forelle in
die agtergrond.
'n Ruiker bloei in die
Saffas-kapelletjie.
Die predikant lees voor uit 2
Timoteus 3 & 4.
Ons vier susters sit woordeloos
langs mekaar,
met kleinkinders, 'n neef en sy
vrou.
Die testament van jou lewe, sê die
prediker,
behels dat jy altyd geluister
het en sinvol
kon reageer op sake van die
dag.
Ma
het ons stewig geanker toe ons
klein
was. Toe die golwe oor ons gebreek het,
het
ma ons weer geanker op ons lewensreis.
My suster se bydrae vir die
gedenkdiens.
Ek onthou hoe 'n seestroom by
Ballito
my intrek as kind en dit was
jy
wat wou inswem toe ek roep om
hulp;
om my te red totdat die
branders
my genadiglik weer uitgegooi
het.
Maar jy is reeds as dankoffer
uitgegiet,
en die tyd van jou heengaan
laat my akatalepsies, oorspoel
met verdriet.
En skielik is dit aand.
Daar is iets dreigends in die
weer. Ek het nog nie 'n iguana gewaar nie.
© Joan Hambidge