Deel XI
Jet lag. Daardie verdoemende proses wat jou tref na 'n
lang reis. Die meeste kenners analiseer die fisiese proses: slaapversteurings,
sweet, onrustigheid, wakker skrik in die middel van die nag, maar oor die
emosionele aspek word daar min geskryf.
Jy kom aan niks nie. Jy dool deur die huis (in die middel
van die nag) en dink terug aan jou reis. Jy wens jy was steeds dáár in die
vreemde.
Jy wonder oor jou gidse. Jy stuur 'n e-pos aan iemand wat
jy in die vreemde ontmoet het en delete dit dadelik. Dit sal onvanpas en
sentimenteel klink.
Jy is wawyd-wakker. Dis na middernag. Bekendes slaap.
Jy voel soos 'n passasier in 'n transit-wagkamer: jy kyk
op jou horlosie, die tyd beweeg stadig.
Vlugvertraging
Die wagkamer klinies
die passasiers verveeld
'n tussenplek vir siele
tussen lewe en dood
ook daar verveling? Onrus?
Digters wag voortdurend
op 'n inval. Iets soos inspirasie.
Of 'n beeld. Ha! Die leuen
om te sê dig is soos reis.
Of die eindpunt so belangrik as die
aanvang.
Die gedig is 'n wagkamer
vol versreëls onrustig
wagtend op die digter:
"Sal alle versreëls
nou aan boord gaan."
Dus: geen vlugvertraging, geen vers.
(uit: Lykdigte.)
Jy ly aan ernstige ennui. Jy maak jou potlode skerp. Lees
hier, los daar. Kyk na Andy Cohen wat celebs in 'n hoek probeer vasdruk
met onvanpaste vrae. (Best of Plead the Fifth | Watch What Happens Live | WWHL. Besoek
31 Januarie 2018).
(Die titel sinspeel natuurlik op die reg tot swye ...
"No person shall be held to answer for a capital, or otherwise infamous crime, unless on a presentment or indictment of a grand jury, except in cases arising in the land or naval forces, or in the militia, when in actual service in time of war or public danger; nor shall any person be subject for the same offense to be twice put in jeopardy of life or limb; nor shall be compelled in any criminal case to be a witness against himself, nor be deprived of life, liberty, or property, without due process of law; nor shall private property be taken for public use, without just compensation." (Fifth Amendment | Wex Legal Dictionary / Encyclopedia | LII / Legal Information Institute. Besoek 31 Januarie 2018).
Gestel daar was 'n program (iets soos: Om jou hare
uit jou oë te vee) en jy sou vir 'n literator kon vra: Waarom dink jy, verkeerdelik, Barthes is 'n semiotikus en
nie 'n semioloog nie?
En vir 'n mode-ekspert: Dink jy Simone de Beauvoir se opmerking ("Jy word nie
'n vrou gebore nie, maar een gemaak") het te make met 'n extreme
make-over vir 'n fashion shoot?En dink jy om 'n apie op iemand se rug te sit het nie
politieke implikasies nie?
Vir 'n resensent: Dink jy jou potsierlike metafore in 'n resensie is 'n
teken van briljante skryfwerk?
Vir 'n skrywer: Dink jy Sielkunde III maak jou ekspert op die gebied van
narcisme?
Vir 'n Facebook-cowboy: Dink jy jou beledigings is onsigbaar?
Jy keer terug na jou reisplan. Jy dink oor die
Botero-kunswerke en sy ongelooflike versamelings in Bogotá. Dit inspireer jou
tot nadenke en kreatiewe reaksie:
Claude Monet: Waterlelies / Indruk,
sonsopkoms
Waterlelies, dié het jy alte graag
en plein air
impressionisties opgevang
en nou, voor sonsopkoms kyk ek
na jou Impression, soleil levant.
Iets in hierdie moment ('n sterftetyd)
wanneer die lig deur vensters breek,
woorde soos seerose geraam
in sublieme verheldering.
En die verskillende ruimtes van Márquez.
Jy kyk na die foto's afgelaai op jou rekenaar. Die foto's
vertel 'n nuwe storie. Die akkordeon in Gabo se geboortehuis val jou op.
Ook pensklavier, trekorrel, trekklavier, squeezebox...
Waarskynlik het die Oupa die akkordeon bespeel.
Mens stel jou voor hoe die jonge Gabo sou kyk na die Oupa
wat die instrument oop en toetrek ... harder en sagter ...
Daardie instrument vertel 'n hele verhaal. In sy pens is
daar verborge musieke. Die Honderd jaar van stilte was vir hom
vierhonderd bladsye Vallenato.
Musiek uit die Karibbiese kuslyn. Die liedere is vol
herkenbare mens-poësie. Hierdie tradisie is tweehonderd jaar oud en Sergio my
gids weet te vertelle dat Gabo ook van sy vriende in sy roman geplaas het.
Daar is ook liedere gekomponeer ter ere van Gabo en die
Vallenato (letterlik: gebore in die vallei) is tradisionele musiek. Rafael Escalona, die sanger en komponis, het ook glo hierdie roman van Gabo
geïnspireer!
In Colombië hoor jy gewilde musiek met die akkordeon in die
agtergrond. Vir ons hier is dit 'n ou-wêreldse instrument uit 'n vervloë era:
Saai die waatlemoen,
saai die waatlemoen,
saai die waatlemoen,
saai die waatlemoen!
My mamma roei die skuitjie,
my pappa blaas die fluitjie,
my boetie draai die orreltjie,
saai die waatlemoen!
Met reis is daar herinneringe wat draal, nuwe wendings,
nuwe insigte.
Soos 'n akkordeon wat bly speel ...
© Joan Hambidge