Deel VI
In die middag ry ons deur die verskillende sones van Cartagena. Ongelooflike welvaart teenoor uiterse armoede. Die mense sit op stoele en gesels in die armoedige buurt. By die uitkykpunt op die heuwel stop ons vir koeldrank.
Hier kan jy die hele stad goed besigtig. Die eienares van die winkeltjie - sy is 22 - bedien die koeldranke.
Ek betaal.
Ons sit op plastiekstoele: ek, die drywer en die gids.
"Hoekom is sy nie swart nie?", vra sy vir die gids.
Klein geskiedenisles. Dis televisie se skuld, meen Sergio die gids. Almal in Afrika moet swart wees ...
Dan kom drie pragtige jong kinders na die tafel. Die dogtertjie is hare, beduie sy.
"Mag ek 'n foto neem?"
Die kinders poseer; die jong dogtertjie stoot haar lyfie na vore asof sy 'n model is. Almal lag en klap hande.
Toe ons opstaan om verder te ry, vra sy: "Dollar, please!"
Ek weier egter om saam te speel. So leer jy 'n bedelkultuur aan. Solank jy twee hande en twee bene het, kan jy werk, is my lewensfilosofie. Sergio stem saam. Ons moenie geld gee nie; dit word dan net 'n bose kringloop.
'n Mooi oomblik is ongelukkig bederf deur hierdie versoek - kennelik deur die ouers georkestreer.
Ons ry deur die arm gedeeltes. Netjiese huise, ten spyte van die ellendes. Kuba - ook 'n gevoel soos Maputo. Sergio vertel hoe goedkoop petrol in Venezuela is en mense ry oor die grens en smokkel dit in.
Orals teen die mure graffiti. 'n Duidelike kunsvorm hier.
Op die strand sit die baaiers onder sambrele.
Nou is dit terug hotel toe. Daar is kinders wat baljaar in die swembad. 'n Jong kind gil en sy pa ruk hom uit die swembad. Kennelik bewus dat hy die ambience van die Anandá steur.
Nou sit ek met die spyskaart voor my. Gisteraand 'n heerlike lasagne genuttig. Dalk Fileto de pargo platero? Vis in kokosneut-olie met 'n kreoolse olie.
Is dit dalk Tilapia, rooiborskurper? Nee, verduidelik iemand: Red snapper.
Hier is weer Risotto en hoender. (Reeds beproef.)
Dalk Guiso de Róbalo (acompañado de papas). Hierdie visgereg word met aartappels in roomsous en geroosterde aspersies bedien.
Daar is ook pasta met basil pesto en seekos daarby.
En New York Angus. 300 gram nogal. Gerooster. Maar dit sal ek eerder tuis by Nelson's eye of die Hussar beproef.
Nou maar 'n muntstuk opgooi vir die visdis.
Ek kies die Guiso de Róbalo.
Met wyn uit Chili.
In die kamer is daar 'n groot grenadella. Ek proe liggies. Dit is tussen soet en suur. Tog smaaklik.
Hier geroep Granada.
Wat my laat dink aan die ou raaiselgrappie.
Wat noem ons Mandela se ouma? Grenadella. En sy broer? Frikkadella.
In die notaboekie in my kamer is daar 'n aanhaling van Márquez:
La memoria del corazón elimina los malos recuerdos y magnifica los buenos, y gracias a ese artificio, logramos sobrellevar el pasado. / Die geheue van die hart wis die slegte herinneringe uit en beklemtoon die goeies word en danksy hierdie meganisme, kan ons die verlede hanteer.
© Joan Hambidge