’n Produksie
wat aan die lewe en werk van die Afrikaanse digter Joan Hambidge gewy word,
gaan op die Tuin van Digters op Wellington en die Aardklop-kunstefees op
Potchefstroom te sien wees.
Babette
Viljoen en Olga Leonard (BO-produksies), wat bekend is om hul
verhoogverwerkings en toonsettings van Afrikaanse digters soos T. T. Cloete,
Elisabeth Eybers en Totius, behartig ook hierdie produksie.
Leonard sê
hulle het vir Hambidge ontmoet op die Vrystaat-kunstefees verlede jaar met die
opvoering van hul produksie Eeu van Eybers.
“Ons het in ’n
koue sweet uitgeslaan toe ons haar in die gehoor sien, maar sy het ons
produksie gekomplimenteer en selfs ’n CD gekoop. Daarna het ons weer gesels toe
ons ’n gesamentlike huldeblyk aan T. T. Cloete gedoen het op die Tuin van Digters
op Wellington in September 2015.
“Hy sou self
opgetree het by die geleentheid, maar ná sy dood in Julie 2015 het ons met
toonsettings en voorlesings deur Hambidge aan hom hulde gebring.”
Leonard sê
hulle het dit goedgedink om Hambidge se 60ste verjaardag te vier met ’n
produksie. “Tydens ’n koffie-afspraak het ons gesels oor die woord ‘60’ en
gespeel met ‘six-love’, soos in tennis en sy het baie gehou van die idee om
dit ‘sixty-love’ te noem. Die titel Sixty
Love: Op reis met Joan Hambidge verwys na ’n oorwinning en terugblik oor ’n
lewe en reis deur 60 jaar.”
Om ’n beeld
van meer as 20 bundels weer te gee het bepaalde uitdagings aan hulle gestel,
het Viljoen gesê. “Sy het al meer as 600 gedigte gepubliseer. Joan het sekere
gedigte uitgelig, en die reis-tema staan baie sterk in haar werk. Ons het
besluit om hierop te fokus, en sodoende ’n tipe reis deur haar lewe te
onderneem, aan die hand van reisgedigte, asook liefdesgedigte, gedigte oor
familieskap, ouers, eensaamheid en die dood.
“Daar is
uittreksels uit haar blog wat deurlopend deur die produksie gevleg word en die
reis-tema met ander werke bind.”
“Die teks is
in oorleg met haar geskryf,” het Leonard gesê.
Viljoen en
Leonard hanteer die konseptualisering en produksiebestuur en doen die
toonsettings.
Lize Beekman
is die musiekregisseur, Pierre Andre Viviers die regisseur en verhoogontwerper
en Alanka Craffert gaan die voorlesing en vertellings doen. Viljoen, Leonard en
Craffert gaan die verhoog deel.
- Willem de Vries
*Sixty Love:
Op reis met Joan Hambidge sal op 18 September op die Tuin van Digters op
Wellington op die verhoog wees en van 4 tot 7 Oktober op Aardklopkunstefees op
Potchefstroom.
(Hierdie artikel word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)