Tuesday, August 23, 2016

Onderhoud: Joan Hambidge, Johann de Lange oor skrywerskap

Joan Hambidge aan Johann de Lange

Joan Hambidge

Jy verwys na Roland Barthes se werk A lover’s discourse in jou bundel soos volg: “Language is a skin: I rub my language against that of the other. It is as if I had words instead of fingers, or fingers at the tip of my words. My language trembles with desire . . .” Die titel roep weer The grain of the voice (Le grain de la voix) op. Hoe moet die leser die idee van ’n hunkering se “grein” verstaan?
Vir my het die poësie net een onderwerp en dis taal sélf. Die “herinneringe” van die titel gaan nie net oor ’n terugblik op die verlede nie, maar ook ’n terugreis deur jou eie skryfwerk. Taal sélf het ’n tekstuur. Wanneer jy ander skrywers lees, is dit daar, onverwoordbaar, maar voelbaar. En wanneer jy skryf, werk jy met verskillende registers, verskillende teksture, en as jy suksesvol is, voel jou leser die grein van jou taal, van jou unieke stem. En vir my, ná ’n leeftyd van eroties skryf (eerder as erotiek skryf), is ek bewus daarvan dat taal léwend is, dat praat ’n lyflike ervaring is, en dat woorde en klanke by my ’n lyflike dimensie by skryf bring.

Watter invloed het Van Wyk Louw op jou digkuns gehad en meer in die besonder by die skryf van hierdie bundel?

Tristia met dagbreek

Deur die blindings val skag op skag
lig wat my Tristia ophelder, & die lyf
se warm terracotta; & die nag
se triestige wintergedagtes verdryf.

Soos ’n mens begin lees, gaan skrywers vir jou in verskillende stadiums van jou ontwikkeling oop. Louw was nie een van die digters wat vroeg reeds met my gepraat het nie. En hy het mý gekies, nie ek vir hom nie. Hy het my só vasgevat, en ’n gesprek begin wat nou al meer as 30 jaar duur. By hom het ek akkuraat leer skryf. Hy het my veral geleer wat die uitdrukkingsmoontlikhede van Afrikaans is. Hy is die Poolster, hy rig my, en hy bly immer onbereikbaar.

Die gesprek met Hennie Aucamp verdien vermelding. Lykdigte, besinnings, en die volgende mooi in memoriam. Watter invloed had hy op jou lewe en digkuns?

In memoriam: Slampamperman

Vir vriende & vreemdes was jy ’n gewer,
van raad, geskenke, ’n toespraak met jenewer.
Die jare bly van gewers vat, tot einde-
lik die gewer niks meer het om te gee
as ’n handvol gruis & gedroogde blare,
waboom-blare, ghnarrabos-blare, reg
om te strooi na jou Hantam onderweg.

Ek het Hennie Aucamp ontmoet vóór my debuut, en ek het geen idee gehad hoe ’n belangrike rol hy in my lewe sou speel, hoe hy dit sou verryk, of dat ons vriendskap tot en met sy dood sou duur nie. Hy was ’n mentorsfiguur, ’n vriend, ’n geesgenoot, ’n besadigde balans by my meer heethoofdige natuur. Hy het my aan sóveel nuwe dinge bekend gestel. Hy het ’n groot verwysingsraamwerk gehad, wat dit heerlik gemaak het om met hom te gesels. Die ganse taalregister is bestryk, en níks was taboe nie. Hy het by my ’n liefde vir ou woorde en uitdrukkings gestig.

Hennie het my, nes Louw, geleer dat helder denke in die eerste plek jou styl moet rig. As jy helder dink, sal wat jy skryf helder wees. As daar ’n fout is met ’n gedig moet jy dit gaan soek in die dinkwerk daaragter, en/of in die taal.

Dit was ’n vreugde om in die laaste 15 jaar van sy lewe sy ontwikkeling as digter te kon meemaak. Dit het ’n verdieping in ons vriendskap gebring. Vir ’n Hunkering se grein het ek gehoop om minstens één gedig te kon skryf om hulde te bring. Wat gevolg het, was ’n stortvloed van gedigte oor hom en vir hom. Uiteindelik kon ek ’n hele afdeling in die bundel aan hom wy, en só weer die gesprek met hom hervat.


*


Johann de Lange aan Joan Hambidge

Johann de Lange (Foto: Edrea Cloete)

Ons is almal bekend met die gedagte dat jy ’n leeftyd eintlik aan een boek of een vers bestee, dat jy jou met een tema bemoei. Maar daar is ook laat in ’n mens se lewe ’n terugkeer in die tyd, ’n bestekopname. Jou laaste twee bundels (Meditasies en Matriks) nooi trouens so ’n lesing uit. Hoe beskou jy jou nuwe bundel, Indeks?
In die sin dat ek ’n oorgang beleef: sestig is waarskynlik ’n tydvak van bestekopname. ’n Mens kyk terug na die mens wat jy was en jy ervaar (sowel as mens as digter) ’n gevoel van verspeelde kanse en dalk dat jy tyd verspil het op temas (soos die liefde). Terselfdertyd is hierdie ondergrond ook dit wat die proses paradoksaal bly voortstu.

Jy gee kreatiewe skryfwerk. Hoe verhoed jy dat jy jou skryfstyl op jou studente afdruk? Wat kan geleer word en wat nie? En met wat tans op kampusse gebeur, wat is die toekoms van kreatieweskryfskole op kampusse?
Ek leer my studente tegnieke van dig, die tradisie van skryf en ek leer hulle om ’n eie stem te ontdek. Die studente wat deur my begelei is, het elk ’n beduidende “eie stem”. Jy kan net iemand leer om beter te skryf, nader aan die eie identiteit te kom. Ek laat nie pastiches van my toe nie en wanneer ek dit optel, wys ek dit uit. Die proses werk soos psigoanalise: daar is ’n kontrak tussen mentor en mentee. Alles is vertroulik in hierdie slypskole en ek skep ’n veilige ruimte vir selfontdekking. Die toekoms van skryfskole is deel van die geesteswetenskappe se toekoms. Niemand weet hoe dinge vorentoe sal lyk nie.

Benewens lees, is reis die ander groot stukrag in jou lewe. Albei voed jou skryfwerk. Kyk maar na die voedende krag daarvan by D. J. Opperman en N. P. van Wyk Louw. Maar dan is daar ’n figuur soos Emily Dickinson wat binne die klein bestek van haar leefruimte ’n heelal oopgeskryf het. Is reis onontbeerlik? Of moet ’n mens eerder leer om in die oomblik te leef en fyn waar te neem en te dink?
Reis is lewensbloed. Ek gaan haal my gedigte ver, soos TT Cloete eenkeer opgemerk het. Ek is altyd in die oomblik, maar reis maak jou nog meer bewus van wie jy is, waar jy vandaan kom, omdat jy niks het om aan vas te hou nie. My gedigte is “visums by verstek”. Ek het baie gelees oor Neruda en die besoeke aan sy huise het bevestig wat ek waarskynlik reeds geweet het. Maar ek kon my gedigte fyner instel, beter kalibreer.

Human & Rousseau gee Indeks en ’n Hunkering se grein uit.


(Hierdie onderhoude word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)