Johann de Lange - ’n Hunkering se
grein. Human & Rousseau, 2016. ISBN 978 0 7981 72 99 8
Resensent : Joan Hambidge
I
Johann de Lange se jongste bundel heet ‘n
Hunkering se grein, ‘n titel
ontleen aan Sheila Cussons, een van die sterkste digterlike stemme aantoonbaar
in sy digkuns, naas Van Wyk Louw.
In hierdie bundel wat inspeel op Roland Barthes se “le grain de la voix”,
oftewel die grein van die stem, die wonderbaarlike versameling essays van die
Franse teoretikus, klink die stem van De Lange helder en duidelik op. Hy skuil
nie agter die maskers van ander nie en selfs wanneer hy met ander se beelde
werk, soos in die eerste afdeling wat inspeel op Boerneef, is dit De Lange wat
aan die woord is.
Uiteraard het enige digter sekere temas of sekere obsessies.
‘n Mens tref die bekende temas aan in hierdie bundel: die gesprek met ander
digters, die vaderfiguur (nou sterk gefokus op Hennie Aucamp, lykdigte,
beeldverse, natuurgedigte, die bemoeienis met seksualiteit, en meer spesifiek,
gay-seksualiteit, eensaamheid, die dood …
By De Lange is die gay-tematiek steeds aanwesig, maar nou met ironiese
distansie soos in “Twee vryverse vir Joan op 60” met die eerste een wat heet:
“Die lywe van woorde” met die veelseggende motto van Stanley Kunitz: “Words are
so erotic, they never tire of their coupling”. Dit neem ons uiteraard na
Barthes se ander beroemde teks, Le
plaisir du texte (1973/1975) waarin hy die leesaksie met lyflike plesier
vergelyk. Die teks wat plesier gee teenoor die teks van jouissance wat buite
woorde beweeg. De Lange se tekste is woordgerig; hy dwing die leser om elke
woord semanties te ontleed en hierom is sy gedigte eerder ‘n teks van plesier.
Die bundel word opgedra aan die gesiene semantikus Henning Snyman, ‘n
teoretikus wat met sy nougesette lesings van tekste die verskillende aspekte
van die gedig oopmaak, soos implikasie-verskynsels. In sy studie Mirakel en muse (Perskor, 1983) verwys
hy na die “geknoopte toue”, oftewel die vlegwerk van implikasie. Die hele
kwessie van implikasie word besonder goed deur Snyman behandel waar hy die verskil
tussen primêre implikasie (d.w.s. dubbelsinnigheid, vormspel, nie-sigbare
betekenisoorgange) en sekondêre implikasie (d.w.s. ironie, metafoor en hul
meelopers) vir die leser verduidelik.
Uiteraard beklemtoon Snyman die magiese attribuut van die gedig (33).
Die goeie digter is immers die een wat met fyn toespelings en “vlegwerk”
steeds die gedig se spanninge en paradokse uitlig (pp. 32, 33).
II
“At the still point, there the dance is” van T.S. Eliot aktiveer nie alleen
die semantiese kwessies van die stilte tussen woorde nie, maar die bundel Stil punt van die aarde uit 2004. Die
digter vra dus met so ‘n verwysing ‘n teruggryp na vorige tekste, wat uiteraard
‘n gegewe is by die ouer digter wat temas “hersien” en “verfyn”. Daar is
trouens ‘n herbesoek onder andere aan Van Gogh.
Die eerste afdeling bevat natuurgedigte wat werk met klankontginning soos
by Ina Rousseau. Die gedig word op sigself “’n energie wat dink & weef” (“’n
Murmurasie van spreeus”, 9).
Die eerste afdeling heet “Die berggans het ‘n veer laat val”.
In die tweede afdeling “Pallisander” – en hoor ons Boerneef verder
saampraat – word die liefde in al sy wisselvorme beskryf.
In hierdie afdeling vind ons die sterk “Die mafia-wywe” (26) waarin die
digter die “growwe trekke van ‘n tawwe lewe” karteer. Plig word teenoor die
soeke na liefde en toegeneentheid uitgewerk. In kort sekwense – ‘n
andersoortige weerlig van die (on)geloof) – word liggaamlikheid en vervlietende
plesier uitgewerk. Dis nou seks met al die ligte af, want die ouer man ervaar ‘n
liggaamlike buitestaanderskap in die wêreld van die gay-bestaan. In latere
afdelings word dit verder uitgewerk (“Die digter as ronkedoor”, o.a.). “Blomme
van die kwaad” (31) aktiveer Baudelaire binne ‘n bestaan van verlies en ontrouheid.
“Tristia met dagbreek” (34) dra die hele Van Wyk Louw-sisteem na hierdie
bundel. In hierdie klein gedig skuil soveel groot gedigte uit Louw se bundel,
werp dit lig op die mineurtoon in hierdie bundel.
Tristia met dagbreek
Deur die blindings val skag op skag
lig wat my Tristia ophelder, & die lyf
se warm terracotta; & die nag
se triestige wintergedagtes verdryf.
Teenoor die vroeër verse waar die spreker sonder skroom homself ontkllee
voor die leser, is dit nou agter blindings en verskuild:
Blindings
’n Nuwe dagbreek val deur die hortjies in dun repe.
Op die bedkassie jou nota: Ek het
uitgetrek.
Oplaas is die waansin oor & ons, als inbegrepe,
beter af. Twee keer is ek deur drie woorde gewek.
(37)
Die “vlesige samekoms van ‘n driftong” (41) is nou in die herinnering van
die spreker wat in “I. Die lywe van
woorde” (39) ‘n bestekopname maak van sy voormalige seksuele bestaan wat
nou in die testament van die gedig staan. In hierdie gedig se pendant (II. Men of a certain age) word Barthes
letterlik betrek:
Wat om te sê? Dat dit my plesier gee
om te weet dat my woorde plesier gee
Hierdie siniese dog vermaaklike vers word ‘n analise van die
digter-as-trofee. Die besoek aan ‘n party word ‘n opsomming van gesprekke wat
die digter altyd te wagte is en hoe partygangers nie die digterlike persona los
van die werklike mens kan lees nie. Hierom moet hy aanhoor hoeveel die gedigte
vir ‘n persoon beteken het en verwag die partygangers ten minste
grensoorskrydende gedrag van die digter. Die uitroep – in navolging van Reve –
beklemtoon dat die spreker geen erg het meer aan openbare blootstelling nie en
terselfdertyd bewus is van die prys wat elke digter betaal wat openlike gedigte
skryf. Die verse uit Nagsweet (1991) veral word so in die
gemoed van die spreker herbesoek en die leser beweeg saam met die spreker van
“kollig” tot “kollig”.
Hierom is die mise-en-abyme (III. Vals
bodems) ‘n noodwendigheid waarop die gedigte afstuur.
Woorde word die vertroosting en oplossing uit die pynlike bestaan. Roland
Barthes se siening dat taal ‘n vel is wat jy teen ‘n ander vryf, word betrek. “My taal sidder van begeerte”,
skryf Barthes verder en in sy outobiografiese-biografie Roland Barthes (1975), bely Barthes dat hy in hierdie teks homself
tot taalobjek verklaar. Ook by De Lange
vind hierdie genadelose disseksie plaas. Die geliefde is nou net ‘n woord, ‘n
portmanteau (“Lippediens”, 56) en”Om mani padme hum” (62) word die
grieselskilderye van Goya en Cussons saamgesnoer …
Immers ‘n hunkering se grein …
Die grein van begeerte, die grein van skryf; beswerend teen ondergang, die
dood.
Die reeds genoemde “Die digter as ronkedoor” (63) praat met Eybers se
“Digteres as huisvrou” – en al die parodieë en antwoorde wat hierdie gedig al
aangestig het. Dit is ‘n pynlike analise van eensaamheid: ‘n slaaf van sy
aptyte …
“Vincent van Gogh, twee stoele” (65) tree in gesprek met ‘n vorige Van
Gogh-vers (“Die aartappeleters” uit Waterwoestyn,
1984). Die ekfrastiese vers word nou ‘n analise van sy eensame bestaan waar die
twee stoele dui op afwagting dat die toestand verlig sal word …
Die gedig vir TT Cloete “Plaasmiddag, Vredesfort-distrik” (67) aktiveer ‘n
gesprek met hierdie digter – onlangs oorlede – en die afdeling sluit af met ‘n
gedig “Boerneef Redux’ (68) waarin die digter treur oor die digter Boerneef wat
eers na sy dood na waarde geskat is. (In die vierde afdeling word die kwatryne
vir TT ‘n gesprek met die digter nadoods.)
In die afdeling “IV. Aansterflik” word die titel uit Cussons direk betrek,
nes die motto uit Opperman se “Vigiti
Magna”:
… wie klippe in Sy mure pas
ken die rustelose borrel in die waterpas
Dit aktiveer eweneens Boerneef se beroemde gedig oor die twee Tafelberge
wat hy ken; die jeug se Tafelberg was waterpasreg, terwyl ou man se ervaring
daar anders uitsien …
Van al my land se Tafelberge
is daar vir my maar twee
dis die Tafelberg by Boplaas
en sy Ouboet by die see
by Boplaas se berg was ek ‘n kind
met ‘n kind se huil en lag
by sy Ouboet word ek rebelserig oud
met ‘n ou man se dink en wag
die begin op die Plaas was waterpasreg
maar hoe rym jy die ouderdom weg
met ‘n ou man se pieker en wag
(Palissandryne,
1964)
Omdat die digter hier in die ruimte van die liminale beweeg en die pleroma
ondersoek, is die ontginning van die droom eweneens tersaaklik, soos in die gedig
“Allen Ginsberg se boeke” (77).
Die droom as ‘n modus van vrees, word hier via Ginsberg vergestalt dat die
digter vrees dat ook sy boeke in vreemde hande sal beland en waarskynlik
verkeerd vertolk mag word.
Die moderne mens is egter uigelewer aan die kuberruimte en virtuele
geskenke (“Kuberkrismis”, 79) wat die eensaamheid net verder bevestig.
Inderdaad maak TV van die wêreld ‘n kleiner plek (“Telstar”, 81).
De Lange se besondere hantering van die beelddig word in die afdeling “V.
Die swaartekrag van as” beklemtoon. Lady Di se “dubbelbestaan” neem ons terug
na die afdeling wat waarsku: vals bodems. En dit is dan Snyman se idee van
vlegwerk wat hier tersaaklik raak. Gedigte wys heen na gedigte in ander
afdelings en die leser word gedwing en om heen-en-terug te lees. By MM is dit
die minnaars wat “vals / ontboesemings
verkwansel” (86). Die aangrypende vers oor Michael Jackson is meer as ‘n
beelddig; dit word ‘n ars poetica waarin die digter hierdie figuur as metafoor
gebruik vir die digkuns as sodanig:
metaforiseer / reduseer / towenaar
Alles kodes vir die digterlike proses. Die Mandela-vers bewys die
behendigheid van die digter-as-vormvas, as een wat soos Opperman die engel uit
die klip kan verlos. Om oor so ‘n ikoon ‘n geslaagde gedig te skryf, wil gedoen
wees.
In “VI. Rust-mijn-ziel: ‘n hartseerwals” (alreeds voorberei deur die
ouderwetse kwatryn op bladsy 76 en in ‘n vorige afdeling dus) word die impak
van die figuur Aucamp op De Lange se psige verdiskonteer.
In Vreemder as fiksie (1996) is
die gesprek begin; hier is dit nou vermetaforiseer waar die leser bewus gemaak
word van Aucamp se impak op die digter se lewe. Meer nog, hy gebruik Boerneef
ook hier (mits dese wil ek vir jou sê …) om hierdie gesprek te voltooi. Maar
ook Leipoldt praat hier saam, die Slampamperman.
En die slampamperliedjie impliseer tog die aanspreek van die ander, die
Boetie – met die wete dat ons harte vol is van pyn en gemors.
Ook die afskeid van Adam Small tref. Die digkuns bly net sprokkelwoorde.
III
Die vlegwerk van hierdie bundel bevestig hoe deurgekomponeer dit is. Van
Wyk Louw en Cussons is steeds aanwesig, maar dit is veral Boerneef en Aucamp
waarop die lig val.
Die stem van die digter, die grein van die stem, klink hier helder op in ‘n
bundel waarin die digter met soberheid sy lewe en sy posisie binne die digkuns
in oënskou neem.
Hy plaas homself telkens teen ander digters, maar sonder dat sy unieke stem
vals opklink.
En ‘n lywige een is dit. ‘n Mens wil waak teen die gebruik van die woord
“laatwerk”, maar dit is ‘n bundel geskryf teen latenstyd, maar nog met soveel
drif en lewe. En wat hierdie digter se statuur bevestig.