Martjie Bosman
- Vloeibare middelpunt. Protea
Boekhuis, 2016. ISBN 978-1-4853-0584-2
Resensent: Joan Hambidge
In 2003
debuteer Martjie Bosman met die bundel Landelik
(2003) waarvoor sy die Ingrid Jonker-prys ontvang het. Die tweede was Toevallige tekens (2010). Haar derde
bundel, Vloeibare middelpunt, het
sopas verskyn.
Die tweede
bundel is altyd ‘n gevreesde hekkie binne enige digterlike bestaan. Hieroor het
die digter moeiteloos geseil en met ‘n derde komplekse bundel, wat handel oor
musiek, die liefde, dood, reis en landskappe, bevestig sy haar besondere
posisie. Dit is ‘n bundel wat gelees moet word as ‘n argief-van-die-bestaan en
die “vloeibare middelpunt”:
Barðarbunga
Bo en onder is
sonder betekenis
vir riviere
van magma vliedend
uit die bal se
vloeibare middelpunt,
soekend na ’n
bres in die brose kors,
wat gloeiend
sal verskyn voor verskrikte oë:
Ontsaglik magtig
is die Skeppingswoord.
(uit die gedig
“Wordende landskap”, 73).
"Things
fall apart; the centre cannot hold", hoor ons dus. Die digter as
argivaris, maar ook as ekoloog in navolging van Yeats.
Die titel het
ook ‘n mitologiese lading, soos ons opmerk in die volgende gedig:
Þingvellir
Mitologiekongres, Háskóli Íslands
Þat mon verða satt, es vér slítum í sundr lögin, at vér monum slíta ok
friðinn
(Dit sal bewys word dat as ons die wet verdeel, ons ook die vrede sal
verbreek.)
Die breukvlak
van die plate waarop twee vastelande rus
dryf jaarliks
met elke skudding verder uit mekaar
asof Þor, die
ou geweldenaar, net ’n aks te hard getik het
met sy
wonderlike hamer, en verbaas moes toesien
hoe die
planeet begin te skeur
en wou-wou wegsink
in ’n vlak
groen meer…
(70)
Ons vind dan
hier ‘n digter wat op ‘n intelligente wyse besig is met ‘n bestekopname en in
vreemde landskappe haar eie digterlike woorde plaas teen ‘n groter
"backdrop". Ook die liggaam word blootgestel wanneer indrukke of
ervarings deur haar "metafore bars". Maar die maak van kuns en
gedigte word ook gesatiriseer in “Openbare kuns” (72). Dis is alles nie
loodsware erns nie, want die tantes wat in ‘n winkel sit in brei lyk na die
langwol-Yslandskaap.
‘n Hoogtepunt
is dan die vers “Reykjavik” met die speelse sub-titel: Ash happens (Yslandse T-hemp).
In Reykjavik
praat die goedige mense
’n isolerende
taal grinterig soos lawaklip (69)
en dis hierdie
oor wat oop is vir vreemde tale en ‘n oog wat baie stip kyk na ‘n vreemde landskap,
wat die verse so gelade maak. Alles in hierdie bundel het dan met ‘n
mitologiese proses van transformasie te make; van metamorfose en vervreemding.
Ook die Britse
en Skotse landskap word onder die loep geneem: Edinburgh, Oxford, Cambridge.
Boerneef
En Peter Blum
skuil in ‘n lieflike verse (“brewwe ligmoment”) in ‘n gedig oor King’s College.
Is dit nie opvallend hoe daardie twee kragte, Peter Blum en Boerneef, nou
skielik weer terugkeer in ons digkuns nie? Selfs met Duitse vertalings van
laasgenoemde.
Die
buitelandse ervarings word ook met die bekende Suid-Afrikaanse landskap
vergelyk: Turner teenoor Oerder. Daar is uitstekende beeldverse (o.a. oor Maria
Stuart, Onegin, Schubert) en ‘n hartverskeurende liefdesgedig (“ Die verbode
vraag”, 43).
Moderne ervarings
(stadsverkeer, ‘n stadservaring) se ondergrond word geplaas teenoor die
mitologie en argetipes van die menslike bestaan. Hierom is die programgedig een
oor Oedipus en ook Achilles maak hier ‘n draai. Die “knooppunt van die paaie”,
die oorgange tussen sekerhede, die prosesse van liminaliteit, word in hierdie
bundel ondersoek. Freud het immers die verhaal van Oedipus her-interpreteer en
vir die psigoanalitiese leser is hier baie sleutels na die onbewuste op sowel
persoonlike as historiese vlak. ‘n Gedig soos “Vlermuis” (21) vra vir baie
her-lees en nadink oor die skemertye van die jeug.
Die politiek
van die dag (straatname wat verander), ongelykhede en die sensitiewe spreker
wat hierop reageer, kom aan bod. Digterlik woon die mens inderdaad op hierdie
aarde, soos die motto van Friedrich Hölderlin aantoon.
Soos die
digter self skryf: die sublieme is subliminaal en mites (mitologie), die
metafisika hou dikwels skuil ondergronds, maar die sensitiewe en intelligente
persoon kan dit aanvoel en verwoord.
Sole survivor
Ets 15/15, Jahni Wasserfall
’n Skrikslag –
’n ruit, die deur, die dak?
Maar langs die
klavier lê die ets
langs swart
merke op die vloer
onder twee
gate in die muur.
Iets prik my
duim waar ek skerwe
van die swart
raam saamskraap:
Sal ek nou
soos in ’n sprokie
’n honderd
jaar moet slaap;
millennia lank
versteen bly swyg
tot ’n etser
uit klip weer lewe wek?
Maar kyk, die
glas is steeds intak,
die rooi
montering ongedeerd
en in die
gapende hoeke glim
vlymskerp
spykers soos tande
in ’n swart
muishondbek.
Onversaag
oorleef die mammoetboom. (58)
Die ekologiese
dimensie is ‘n ander belangrike kode in hierdie bundel wat die leser weer neem
na die bloemlesing Ons klein en silwerige
planeet van Johann Lodewyk Marais en A.D. Zuiderent wat in 1997 verskyn
het. Hierdie bundel bevat egter nie ekologies-politiek gedrewe of “groen” verse
nie; dit is eerder gedigte wat die mens se weerloosheid openbaar teenoor die
groter drif van die natuur se “skadupatrone” wat soos “grys brokke in ‘n
kaleidoskoop” voorkom.
‘n Goeie gedig
word uiteindelik méér as die boodskap; vra vir verskillende maniere van lees en
taksering, soos Vloeibare middelpunt
bewys.
Dis ‘n ryk
bundel – vir herlees, nadink en weer besoek. Veral die reis- en landskapverse
maak ‘n unieke bydrae tot hierdie sub-genres.
Die voorblad
van Ryan Loubser, "Spookhuis in die reën", is werklik besonders.
(Hierdie
resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)